Een van die wêreld se belangrikste konflikteorië is die dialektiese model van Hegel. Hy postuleer dat enige situasie, wat hy die tese noem, ‘n wedywerende of kontrasterende situasie, genoem die antitese, opwek en dat daar ‘n spanning is tussen die tese en die antitese. As gevolg van die energie tussen die twee vorm daar, as gevolg van die interaksie, ‘n nuwe situasie bekend as die sintese, wat beide die tese en antitese oplos. Baie kort na die vorming van die sintese ontwikkel daar egter weer ‘n antitese, sodat die sintese eindelik die nuwe tese word. Hierdie proses hou onophoudelik aan en dit is die dinamo wat die geskiedenis aandryf. Die verloop van die proses kan beïnvloed word deur die spanning tussen die tese en antitese te manipuleer. Indien die
tese en antitese nie genoegsaam van mekaar gepolariseer is nie, het die stelsel nie genoeg energie beskikbaar om ‘n behoorlike sintese te vorm nie, en indien die polarisasie te groot is, kan die stelsel verby die punt van ‘n goeie sintese gedryf word. Hierdie teorie is grondliggend tot die filosofie van Marx waarop die kommunisme gebou is.