Konflik ontstaan wanneer daar ‘n botsing in belange tussen verskillende partye is en dit spruit voort uit motiewe, waardes en behoeftes. Dikwels is ‘n kompromie nie moontlik nie en kan eenvoudige metodes nie aangewend word om dit te besleg nie. Etniese diversiteit is nie opsigself ‘n bron van konflik nie maar wel wanneer dit uitgebuit word deur aktiviste of politieke entrepreneurs, wat veral politieke herinnerings en mites misbruik om hul doelstellings te bereik. Politieke stelsels verskaf geleentheid of kundigheid waardeur mense se behoeftes en belange uitdrukking vind, maar dit moet stewig genoeg wees om dreigende konflik te kan verwerk en om teenstellende behoeftes en belange van betrokkenes bymekaar te vat en te versoen. Politieke strukture behoort ook te funksioneer volgens ooreengekome norme, want as dit nie die geval is nie kan die strukture ‘n geloofwaardigheidskrisis beleef. Sulke strukture moet voorsiening maak vir die beslegting van dispute op grond van ooreengekome norme of wette. Dit is wanneer hierdie tipe politieke stelsels faal dat konflik uitbreek.
Groot en belangrike strukture wat die nuwe wêreld moet help vorm is tans onder spanning. Die Verenigde Nasies sit met ‘n akute geldtekort, hulle presteer nie goed nie – veral ten opsigte van vredesoperasies - en in sekere kringe word hulle al hoe meer as irrelevant beskou. Die Internasionale Monetêre Fonds is ook in sekere omstandighede oneffektief, soos wat die geval was met die krisis in Suidoos-Asië. Die Wêreldbank ondergaan die vierde herorganisasie, en die hervormings wat hulle in Afrika afdwing maak hulle baie ongewild. Die Internasionale Handelsorganisasie sit met interne konflikte en gebrek aan implementering van beleid.