Gemeenskappe en organisasies kan bekou word as arenas waarin persoonlike en groepswedywering hulleself uitspeel. Konflik deursuur alle aspekte van menslike gedrag en alle dimensies van sosiale strukture, waar dit nie net verdeeldheid tussen groepe veroorsaak nie, maar ook terselfdertyd ‘n samebindende faktor vir ander groepe is. Konflik, hoewel dit meestal pynlik en onproduktief is, is onvermydelik aangesien daar altyd skaars hulpbronne is of net beperkte handelingsvryhede. Mense wantrou mekaar, daar is onderlinge wanpersepsies en stereotipes, verkeerde informasie, oordrywing, ongeduld en baie ander faktore wat konflikpotensiaal verhoog.
Konflik in gemeenskappe is baie keer die gevolg van stryd oor waardes, statusverskille, mag en skaars hulpbronne, en dit lei baie keer nie net tot die doelstelling om die verlangde voordele te verkry nie, maar ook om die opponente te beseer of te elimineer. In losweg gestruktureerde (pluralistiese) gemeenskappe kan konflik ‘n stabiliserende invloed hê: Konflik heg ‘n pluralistiese gemeenskap aan mekaar. In starre en geslote sosiale strukture is die impak van konflik baie meer intens aangesien geslote groepe baie jaloers op hulle lede is en hul lojaliteite wil monopoliseer. Die diepe betrokkenheid van sulke lede lei dan baie keer tot baie groot vyandskap en dit kan nie behoorlik in so ‘n geslote groep hanteer word nie. Indien konflik uitbreek in groepe wat dit probeer onderdruk het, sal dit waarskynlik baie meer intens wees. Sulke groepe kan maklik in twee vyandige faksies opbreek.
Ideologie is vrugbare teelaarde vir konflik aangesien ‘n ideologie aan ‘n persoon ‘n goeie gewete gee waaronder hy ‘n stryd kan voer. Individue wat hulle self sien in ‘n rol waar hulle optree as verteenwoordigers van andere is ook dikwels meer radikaal en genadeloos as ander wat blatant vir eie gewin stry. Intellektuele mense speel baiekeer ‘n sleutelrol in konflik aangesien hulle idees formuleer wat openbare regverdiging aan die konflik gee.
Daar is 3 basiese dryfkragte van konflikte:
Botsende belange: Dit lei dikwels tot ‘n intensiewe en vernietigende konflik van korte duur, wat maklik vergeet word. ‘n Oplossing kan deur onderhandelinge verkry word.
Botsende waardes: In so ‘n konflik is daar gewoonlik nie ‘n kompromie moontlik nie – soos byvoorbeeld ‘n godsdienstige konflik. Dit kan lei tot ‘n lang, uitgerekte, lae-intensiteitstryd, en die enigste manier om dit te hanteer is om die situasie te leer akkommodeer.
Botsende behoeftes: Dit is diepgewortelde konflikte wat feitlik onoplosbaar is en geen kompromie is moontlik nie. Die ou situasie kan net vernietig word en uit die chaos kan ‘n nuwe oplossing groei.