Binne die Christendom is daar verskeie sienings van die wêreld se toekoms. Binne die nominale Christendom is daar waarskynlik ‘n groot groep mense wat apaties en skouerophalend is teenoor die toekoms. Binne die kring van dié wat wel omgee is daar ook verskillende benaderings. Sommige sal sê: "Ons weet nie – ons verstaan nie hoe die Byel oor die toekoms praat nie. Ons weet daar kom ‘n einde, maar niemand kan sê wanneer en hoe nie. Die Bybel is te simbolies daarvoor." Diesulkes soek vir hulleself bewustelik of onbewustelik ‘n ander model om die toekoms mee voor te stel.
Dan is daar diegene wat sê " Nee – die Bybel is spesifiek en baie meer letterlik as wat ons dink." Onder hulle bestaan daar baie detailmodelle van hoe die toekoms behoort te verloop, en dit word met groot oortuiging verkondig. Dit gee aan mense ‘n denkraamwerk waarmee hulle die gebeure van die wêreld meet. Dit is ‘n dilemma as hierdie gebeurtenisse dan nie realiseer soos die modelle dit voorspel nie. Een so ‘n voorbeeld handel oor die wederkoms van Christus. (Vir sommige is dit irrelvant, maar hulle het meestal hulle Christelike visie/fokus in die lewe verloor.) Vir sommige kan dit nog lank wees, en oefen geen beduidende invloed op hulle lewe uit nie. Vir ‘n ander groep is dit op hande, selfs tot so ‘n mate dat hulle verlam word om beduidend te lewe. Mense met so ‘n kort toekomsvisie kan weinig verskil maak in die lewe, want hulle toekomshorison is net te kort om hulle toe te laat om aan enige beduidende groot aksies entoesiasties deel te neem – wat nog te sê om dit te inisieer! Dit is verseker nie die korrekte verstaan van die Bybel nie. Die boodskap van Christus maak ons juis by uitstek vry om voluit te lewe onder Sy heerskappy, onbedreig en in staat om ‘n verskil te maak in hierdie lewe, terwyl ons, vrygemaak van die skuld en las van sonde, altyd gereed sal wees as Hy sou kom.
Slot
Ons houding ten opsigte van die wêreld waarin ons leef en die toekoms wat ons tegemoet gaan, is ontsettend belangrik. Dit bepaal grootliks of ons in die lewe suksesvol sal wees. Die opregte Christen, wat ‘n innerlike sekuriteit deur geloof in Christus gevind het, het geen rede om negatief, bekrompe en swartgallig te wees nie. Juis hulle hoef nie so krampagtig te kleef aan die aarde, hulle besittings en hulle verlede nie. Christus maak mens vry om te lewe. Dit is soos die Bybel sê, geloof en vrees nie kan saamgaan nie.
Die Here maak ons juis vry en herskep ons en gee ons die realiteit van sy inwonende Gees sodat ons besluite kan neem wat ‘n impak op ons omgewing en op die toekoms kan en moet hê. Die lewe is ‘n uitdaging, en ‘n wonderlike avontuur vir dié wat die pad met die Here saamloop. Ons moenie toelaat dat ons in klein, ideologiese lewensruimtes vasgevang word, of deur donkerbrille van gebrekkige persepsies van ons lewensheerlikheid beroof word nie!