Fundamentele regte – fur201f studie-eenheid 1 (p1 gids): Inleiding tot die Grondwet en die Handves van Regte



Yüklə 0,58 Mb.
səhifə11/15
tarix01.08.2018
ölçüsü0,58 Mb.
#64796
1   ...   7   8   9   10   11   12   13   14   15

(iv) Huwelikstatus: (p254)

Hier word gepoog om die historiese bevoordeling van die gemeenregtelike huwelik bo enige ander, te verwyder. Die afdwing van laste op getroude persone wat nie op ongetroudes afgedwing word nie, word ook bevraagteken.



Robinson v Volks – Die Hoë Hof het gepoog om onderhoud van langslewende gades uit te brei sodat die langslewende heteroseksuele lewensmetgesel ook ‘n eis van onderhoud teen die boedel van die oorledene kan verkry. Die KH het nie die inleesbevel bekragtig nie. Die KH het beslis dat dit nie onbillik is om voordele toe te ken aan getroudes nie. Die huwelik is ‘n belangrike aspek van die familielewe en skep ‘n wedersydse onderhoudsplig. Heteroseksuele persone het die opsie om ‘n huwelik te sluit en so die voordele en regte te bekom.

(v) Ouderdom: (p256)

Ouderdom is ‘n karaktereienskap wat voortdurend verander. Die totale populasie deel die laste en voordele verbonde aan ouderdom.



(vi) Gestremdheid:

Om te sien of MIV status as gestremdheid kwalifiseer, sien Hoffman saak.



(vii) Godsdiens, gewete, geloof, kultuur en taal:

Hierdie gronde versterk die spesifieke beskerming van die regte – art 30 – 31.



(viii) Geboorte en sosiale herkoms:

Histories in SA was daar gediskrimineer teen kinders wie se ouers nie ten tyde van hul konsepsie of geboorte getroud was nie. Buite-egtelikheid word nie uitdruklik gelys nie, maar word gedek deur ‘geboorte’.

Sosiale herkoms sluit in – klas, stamgroep, familielidmaatskap.

9.4.(e) Die analoë gronde (p257)

Diskriminasie is differensiase op onregmatige gronde. Indien die gronde nie gelys is in art 9(3) nie, sal dit steeds diskriminasie wees indien die grond analoog is tot die gelyste gronde. Volgens die KH hou die lys verband met eienskappe wat bots met menswaardigheid. Analoë gronde sal ‘n soortgelyke gevolg hê. Daar is geen vermoede wat die applikant help in die geval van analoë gronde nie: die applikant moet bewys dat die regsvoorskrif of optrede op gronde wat nie gelys is nie, gebaseer is op eienskappe of kenmerke wat die potensiaal het om die fundamentele waardigheid van ‘n mens te benadeel of ernstig sal affekteer op ‘n ooreenstemmend ernstige wyse.

‘n Voorbeeld hiervan is Harksen v Lane NO. Huwelikstatus is nou ‘n gelyste grond in art 9(3), maar die saak is bereg onder die tussentydse GW, waarin huwelikstatus nie gelys was nie. Die saak het gehandel oor sekwestrasie van ‘n insolvente boedel en die geldigheid van die bepaling wat bepaal dat die solvente gade se eiendom deel uitmaak van die insolvente boedel; die solvente gade kon die eiendom terugeis na bewys van eienaarskap.

Die differensiasie was gegrond op sekere kenmerke, bv dat die gades gewoonlik in ‘n intieme, saamwoon verhouding in ‘n gemeenskaplike huishouding was. Dit het die potensiaal gehad om menswaardigheid te benadeel en differensiasie op hierdie gronde was diskrimerend. Die faktore om te bepaal of dit onbillik was, is (1) Die klaer se posisie in die samelewing en die kwessie of die klaer 'n slagoffer was van diskriminasiepatrone uit die verlede. – Volgens die hof was dit nie hier die geval nie. (2) Die aard van die bepaling of bevoegdheid en die oogmerk waarop dit gerig is. 'n Belangrike oorweging sou wees of die primêre oogmerk was om ‘n verdienstelike en belangrike sosiale doelwit te bereik, en of die inbreukmaking op die applikant se regte 'n gevolg daarvan was. – Die Wet het in hierdie geval beoog om die regte van krediteure van insolvente boedels te beskerm; ‘n belangrike doel. (3) Die mate waarin die klaer se regte benadeel is en of sy of haar fundamentele waardigheid benadeel is. – Die solvente gade het nie noodwendig haar/sy eiendom verloor nie. Bewys kon gelewer word van eienaarskap en die potensiële vernedering en ongerief daaraan betrokke is geag as ‘n las wat enige burger dra wanneer litigasie nodig is. Die bepaling is dus nie as onbillike diskriminasie bevestig nie.


Larbi-Odam v MEC for Education (North-West Province) – Provinsiale regulasies het verhoed dat nie-burgers aangestel word in permanente onderwys poste. Die grond van onbillike diskriminasie was burgerskap; nie ‘n gelyste grond nie. Dit is gebaseer op eienskappe wat die potensiaal het om fundamentele waardigheid van nie-burgers te benadeel. Nie-burgers is ‘n minderheidsgroep en daarom kwesbaar – hul belange kan maklik oorgesien word. Burgerskap is ‘n persoonlike eienskap wat nie maklik verander kan word nie. Die gevolg van die bepaling op nie-burgers wat permanente inwoners is, kan nie regverdig word nie.
Hoffman v South African Airways – Die lugredery se beleid om nie MIV positiewe persone in diens te neem nie is aangeveg as onbillike diskriminasie op grond van gestremdheid. Die hof het die klassifisering as ‘gestremd’ vermy en het eerder met MIV status as analoë grond oorweeg. Die beslissende faktor is die impak wat die diskriminasie het op die persone wat daardeur geraak word. Om indiensname te weier bloot agv MIV status, sonder om die persoon se vermoë om die pligte uit te voer in ag te neem, is ‘n skending van waardigheid. Die hof noem dat daar voortdurende vooroordeel bestaan teenoor MIV positiewe persone en verdere diskriminasie was opnuut brandmerking en ‘n aanval op hul waardigheid. Die diskriminasie kan nie billik wees nie, omdat dit gegrond is op oningeligte vooroordeel. Die feit dat sommige MIV persone nie gesond genoeg is nie, kan nie ‘n algemene beleid teen indiensneming regverdig nie. Vooroordeel kan nooit onbillike diskriminasie regverdig nie.

9.4.(f) Regstreekse en onregstreekse diskriminasie (p260)
Die verbod op beide regstreekse en onregstreekse diskriminasie het ten doel om alle moontlike vorme van diskriminasie op die gelyste of analoë gronde te dek. Soms kan ‘n differensiasie op die oog af onskuldig lyk, maar die gevolg daarvan is wel diskriminerend. Die vermoede van onbillike diskriminasie in art 9(5) is toepaslik op beide regstreekse en onregstreekse diskriminasie.
Griggs v Duke Power Co – Die maatskappy se indiensnemingsbeleid het ‘n hoërskool diploma vereis. Regstreeks was dit nie diskriminerend nie. Onregstreeks het dit egter verhoed dat swartes aangestel word, wat meestal nie aan die vereiste voldoen het nie.
Die reeks sake oor diensgelde illustreer die belang daarvan om onregstreekse diskriminasie te verbied. Inwoners van blanke woonbuurte kruis-subsidieër ‘townships’, wat oorwegend swart inwoners het en selektiewe afskrywing van agterstallige skulde bevoordeel laasgenoemde. Die onderskeid lyk na geografiese verdeling, maar die gevolg daarvan is onregstreekse diskriminasie op grond van ras. - Pretoria City Council v Walker

Democratic Party v Minister of Home Affairs - ‘n Klaer wat op onregstreekse diskriminasie wil steun, moet bewys dat ‘n betrokke regsvoorskrif of optrede ‘n diskriminerende gevolg het, of op ‘n diskriminerende wyse geadministreer word. In hierdie saak het die DP die Verkiesingswet se vereiste dat kiesers ‘n strepieskode identiteitsdokument moet hê, as onregstreeks diskrimenerend teen ras, ouderdom en woonplek aangeveg. Die hof het beslis dat daar nie voldoende bewyse was nie.

S v Jordan – Die wetgewing wat prostitusie verbied is betwis, op grond van onregstreekse diskriminasie op geslag. Dit is gewoonlik eensydig toegepas, omdat die vrou vervolg is en nie die kliënt (die man) nie. Die man kan wel as mededader of samesweerder vervolg word, maar in die praktyk gebeur dit nie. Die meerderheid het beslis dat oneffektiewe toepassing van die wet nie verband hou met die beslissing oor ongeldigverklaring van wetgewing nie. Die minderheid het gemeen dat daar wel onregstreeks teen vroue gediskrimineer word. Die vrou word negatief gesteriotipeer en nie die man nie.

9.4.(h) Diskriminasie hoef nie opsetlik te wees nie (p263)

Dit is nie nodig vir die applikant om opset te bewys nie. Opset is wel relevant om vas te stel of die diskriminasie onbillik was. ‘n Faktor wat help om dit te bepaal is die oogmerk van die optrede – is dit gerig daarop om ‘n waardige en belangrike gemeenskapsdoel te bereik?



9.5 Regstellende aksie (p264)

Weens die verbintenis tot substantiewe of werklike gelykheid, is beoog dat regstellende-aksie-programme beskou word as wesenlike en integrale aspekte om gelykheid te bereik. Hierdie programme moet nie beskou word as 'n beperking van of uitsondering op die reg op gelykheid nie. Aangesien regstellende aksie gesien word as deel van die reg op gelykheid, moet persone wat sulke programme bevraagteken, die bewyslas dra om te bewys dat dit onwettig is.

Regstellende-aksie-programme moet:


  • gemik wees op persone of kategorieë van persone wat voorheen benadeel was deur onbillike diskriminasie

  • die bereiking van substantiewe gelykheid bevorder

  • ontwerp wees om persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, te beskerm en te bevorder

Lees bladsy 264 rot 267 van die handboek om te sien hoe artikel 9(2) deur ons howe toegepas word.

Art 9(2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.

‘n Persoon wat ongeletterd of onopgevoed is, is nie in dieselfde posisie om regte en vryhede te volle te geniet as persone met behoorlike opvoeding nie. Art 9(2) plaas ‘n positiewe verpligting op die staat om te verseker dat almal hierdie regte en vryhede geniet. Differensiasie is geregverdig as dit voldoen aan die toets van hierdie bepaling; selfs al het dit betrekking op een van die gelyste gronde.

Regstellende aksie word geregverdig deur die gevolge daarvan. ‘n Meer gelyke gemeenskap moet beoog word en die aksie moet streef om hierdie gevolg te bereik.

Volgens Etienne Mureinik moet die staat wys dat dit ten doen het om gelykheid vir voorheen benadeeldes wil bereik; en daar moet ‘n verband wees tussen die wyse van optrede en die doel daarvan. Dit is bevestig in Public Servants’ Association of SA v Minister of Justice – die hof het beslis dat ‘n verband moet wees tussen die maatreël en die oogmerk.



Van Heerden – Die KH beslis dat art 9(2) nie ‘n standaard van noodsaaklikheid veronderstel tussen die wetgewing en die oogmerk nie. Die teks vereis bloot dat dit moet beoog om te beskerm of bevorder. Dit is voldoende as die maatreël ‘n redelike moontlikheid inhou om die doel te bereik.

‘n Litigant het dus nie nodig om te wys dat een klas in onguns gebring is om ‘n ander te verhef nie. Die regstellende aksie moet gestruktureer wees om ‘n benaadeelde groep te beskerm of bevorder en hoef nie noodwendig ander te benadeel of bestraf nie.



Motala v University of Natal – ‘n Indiese student met 5 matriek-onderskeidings is toelating geweier tot die mediese skool. Daar is bevind dat swart mense meer benadeel was in die apartheid hierargie as Indiërs en daarom is dit billik om toelating proporsioneel te beperk.

9.6 Die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act 4, 2000 (p267)

Artikel 9(4) van die Grondwet vereis dat nasionale wetgewing uitgevaardig word om onbillike diskriminasie te verbied of te voorkom. Dit hou verband met private diskriminasie wat plaasvind tussen ander private individue of instellings as die staat of die reg. Item 23(1) van Bylae 6 van die Grondwet vereis dat hierdie wetgewing binne drie jaar na die inwerkingtreding van die Grondwet uitgevaardig moet word. Die doel van die Promotion of Equality an Prevention of Unfair Discrimination Act 4, 2000 is die nakoming van hierdie vereiste.

Hierdie Wet het die volgende drie hoofoogmerke:

(1) om onbillike diskriminasie te verbied

(2) om remedies vir die slagoffers van onbillike diskriminasie te verskaf

(3) om die bereiking van substantiewe gelykheid te bevorder



9.6.(a) Voorkoming van onbillike diskriminasie

Die Wet geld vertikaal en horisontaal. Artikel 6 maak voorsiening vir die voorkoming van onbillike diskriminasie en bevat die volgende vier prosedurele voordele vir die klaer:

(1) Die bewyslas rus op die klaer om 'n prima facie-saak van diskriminasie te bewys deur getuienis aan te bied om die feite waarop hy of sy steun, te bewys. Nadat die klaer aan sy of haar bewyslas voldoen het, skuif die bewyslas na die respondent om te bewys dat die diskriminasie nie plaasgevind het nie, of dat dit nie op 'n verbode grond plaasgevind het nie.

(2) Die vermoede van onbillikheid is sowel op diskriminasie op 'n verbode grond as op 'n analoë grond van toepassing. Dit verskil van artikel 9(5) van die Grondwet ingevolge waarvan onbillikheid net ten aansien van diskriminasie op 'n gelyste grond vermoed word. Die klaer moet egter die hof oortuig van die onbillikheid van die diskriminasie voordat die respondent die vermoede weerlê. Die respondent doen dit deur aan te toon dat die diskriminasie

(a) sistematiese nadeel veroorsaak of voortsit

(b) menswaardigheid ondermyn

(c) die genieting van persone se regte en vryhede nadelig beïnvloed, op ‘n ernstige wyse wat vergelykbaar is met diskriminasie op ‘n verbode grond (Die kriteria vir die vasstelling van onbillikheid ingevolge artikel 9(3) van die Grondwet word ook oorweeg.)

(3) Die Wet bevat spesifieke gevalle van onbillike diskriminasie op grond van ras, geslagtelikheid en gestremdheid.

(4) Die Wet beval spesifieke gevalle van haatspraak, teistering en disseminasie of verspreiding van inligting wat op onbillike diskriminasie neerkom.

9.6.(b) Toegang tot die reg (p270)

Effektiewe remedies moet beskikbaar wees vir slagoffers van onbillike diskriminasie, haatspraak en teistering. Alle Landdroshowe en Hoë Howe is gelykheidshowe vir hul jurisdiksie gebied en binne hul perke van monetêre jurisdiksie. Die bedoeling is om opgeleide personeel met ondervinding in hierdie areas te gebruik om gelykheidsdispute te hanteer. ‘n Hof mag eers verrigtinge instel nadat ‘n voorsittende beampte aangewys is. Wye kategorieë word verskyningsbevoegdheid gegun, wat ooreenstem met art 38 vd GW.

Die howe het ook wye bevoegdhede om onder andere:


  • interdikte en vergoeding toe te staan

  • te beveel dat ‘n onvoorwaardelike verskoning gemaak word

  • te beveel dat die respondent ‘n ondersoek na spesifieke beleid of praktyk moet ondergaan

  • gereelde vorderingsverslae te beveel

  • ‘n kombinasie van remedies kan toegestaan word

  • Die Wet skep nie misdade nie, maar die klerk kan in opdrag van die voorsittende beampte die saak na die DOV verwys vir instelling van ‘n kriminele vervolging. (bv waar haatspraak neerkom op crimen injuria)

9.6.(c) Bevordering van gelykheid (p271)

Positiewe verpligtinge word op die staat geplaas om substantiewe gelykheid te bevorder. Soortgelyke pligte kan op private persone geplaas word, wat regstreeks of onregstreeks met die staat kontrakteer, of openbare bevoegdheid uitoefen. Selfs maatskappye, vennootskappe, ens kan verplig word om ‘gelykheid beplanning’ op te stel of by voorgeskrewe kodes te hou.



AKTIWITEIT

(1) Waarom is die gelykheidsklousule so 'n belangrike bepaling? (2)

Die belang van die gelykheidsklousule:

Voor die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika was die Grondwet gebaseer op ongelykheid en blanke oppergesag. Apartheid het die Suid-Afrikaanse samelewing verarm. Mense se waardigheid is daardeur geskend: rassevoorkeur het die toekenning van hulpbronne bepaal en segregasionistiese maatreels het ongelykheid in die werkplek, tersiere instellings en in die ekonomie veroorsaak.

Die nuwe grondwetlike bedeling fokus op 'n verbintenis tot substantiewe gelykheid. Die doel hiervan is om die kwade van die verlede reg te stel en die gaping in 'n verdeelde samelewing te oorbrug. Artikel 9 bevat die eerste substantiewe reg in die Grondwet. Dit beskerm die reg op gelykheid voor die reg, waarborg dat die reg sowel mense sal beskerm as in gelyke mate bevoordeel, en verbied onbillike diskriminasie. (Sien bladsy 230-232 van die handboek.)

(2) Verduidelik die verskil tussen formele en substantiewe gelykheid. (2)

Die verskil tussen formele en substantiewe gelykheid:

Formele gelykheid verwys na dieselfde behandeling. Dit beteken dat die reg individue dieselfde moet behandel, ongeag hul omstandighede, omdat alle persone gelyk is, en dat die werklike sosiale en ekonomiese verskille tussen groepe en individue nie in ag geneem word nie.

Substantiewe gelykheid aan die ander kant, vereis 'n ondersoek van die werklike sosiale en ekonomiese toestande van groepe en individue om te bepaal of die Grondwet se verbintenis tot gelykheid gehandhaaf word. Ten einde substantiewe gelykheid te bereik, moet die gevolge en die uitwerking van 'n spesifieke reel (en nie net die vorm daarvan nie) ondersoek word.

In die verlede is ons samelewing verarm as gevolg van die apartheidbeleid. In die nuwe grondwetlike bedeling bestaan daar egter 'n verbintenis tot substantiewe gelykheid - 'n kernbepaling van die Grondwet (sien bladsy 232-234 van die handboek. Let op die gebruik van die konsepte "herstellende gelykheid" en "transformasie")



(3) Wat is die verhouding tussen die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg (artikel 9(1) en die reg om nie aan onbillike diskriminasie onderwerp te word nie (artikel 9(3) (3)

Die verhouding tussen artikel 9(1) en artikel 9(3):

'n Begrip van die verhouding tussen die reg op gelykheid voor die reg (artikel 9 (1) ) en die reg om nie onbillik teen gediskrimineer te word nie (arcikel 9(3) is wesenlik om die gelykheidsreg te verstaan. 'n Applikant wat steun op 'n skending van die reg op gelykheid moet die volgende aantoon:



  1. Dat hy of sy of individueel of as deel van 'n groep mense verskillend behandel is.

  2. Dat die bepaling wat betwis word tussen mense of kategoriee mense onderskei en dat hierdie onderskeid nie rasioneel verband hou met 'n wettige regeringsdoelwit nie. Dit is 'n artikel 9(1)-ondersoek.

Alternatief moet die applikant bewys dat daar ingevolge artikel 9(3) onbillik teen hom of haar gediskrimineer is. Om 'n skending van hierdie aspek van die reg te bepaal, moet die volgende bepaal word:

  1. Dat hy of sy individueel of as deel van' n groep mense anders as ander behandel is.

  2. Dat die onderskeid gebaseer word op een of meer van die gronde wat in artikel 9(3) genoem word. Nadat dit bewys is, word geag dat diskriminasie vasgestel is en dat dit ingevolge artikel 9(5) onbillik is.

  3. Dat die vermoede van onbillikheid deur die respondent weerlê kan word, dit wil sê dat die respondent kan bewys dat die diskriminasie billik is.

Indien die applikant nie die differensiasie op 'n gelyste grond kan vasstel nie, kan hy of sy net op artikel 9(3) steun as die volgende bewys word:

  1. Dat die verskillende behandeling gebaseer word op eienskappe of kenmerke wat die moontlikheid inhou om die fundamentele waardigheid aan te tas, wat gevolglik op diskriminasie neerkom.

  2. Dat die diskriminasie onbillik is. Die applikant kan dit bewys deur te toon dat die uitwerking van die diskriminasie onbillik is.

Indien bevind word dat die diskriminasie onbillik is, is die volgende stap om die beperking van die reg ingevolge artikel 36 (die beperkingsklousule) te regverdig.

Die gelykheidsklousule verhoed nie dat die regering klassifikasies maak nie. Mense word om verskeie redes geklassifiseer en verskillend behandel, mits sodanige klassifisering wettig is en op wettige kriteria gebaseer word. Die klassifikasie is toelaatbaar as daar 'n rasionele verband bestaan tussen die kriteria vir die klassifikasie en die regeringsoogmerke. (Sien bladsy 201-204.)



(4) Verduidelik in u eie woorde die KH se benadering tot onbillike diskriminasie in Harksen v Lane. (5)

Onbillike diskriminasie word bepaal deur die uitwerking wat die diskriminasie het op die menswaardigheid van die klaer en ander persone wat in dieselfde situasie verkeer. Die bestrede bepaling moet dus die menswaardigheid en gevoel van gelykwaardigheid van die klaer aantas. Sien die verduideliking van onbillike diskriminasie onder 9.3 hierbo. (Sien bladsy 235 en 236 van die handboek.)



(5) Is artikel 9(2), wat voorsiening maak vir regstellende-aksie-maatreëls, ‘n uitsondering op artikel 9(3) en 9(4)? (2)

Alhoewel regstellende-aksie-maatreëls inderdaad kan lyk asof dit diskriminasie onder 'n dekmantel, of omgekeerde diskriminasie is, stel artikel 9(2) dit duidelik dat dit nie is wat regstellende aksie behoort te wees nie. Regstellende aksie se doel is om substantiewe of wesenlike gelykheid te bereik, eerder as blote formele gelykheid. (Sien bladsy 264-267 van die handboek.) Daarom moet enige sodanige maatreël aan sekere standaarde voldoen. Om 'n regstellende-aksie etiket aan 'n maatreël aan te bring, is nie voldoende om dit geldig te maak nie, verklaar De Waal ea.

Artikel 9(2) maak voorsiening vir die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede. Hierdie reg plaas 'n positiewe verpligting op die regering om so op te tree dat dit verseker dat almal alle regte en vryhede volledig en gelykwaardig kan geniet. Staatsoptrede wat 'n situasie bevorder of verdra waarin sommige mense meer geleentheid gebied word om regte te geniet as ander, sal hierdie bepaling skend.

Die staat is verplig om enige stelsel wat tot gevolg het dat mense nie hul regte volledig en gelykwaardig kan geniet nie, te verander en reg te stel. As gevolg van die verbintenis tot substantiewe gelykheid word regstellende-aksie-programme beskou as wesenlik om gelykheid te bereik en moet dit nie beleef word as 'n beperking van of uitsondering op die reg op gelykheid nie. Aangesien regstellende aksie beskou word as deel van die reg op gelykheid, moet persone wat hierdie programme bevraagteken, die bewyslas dra om te bewys dat dit onwettig is.

Regstellende-aksie-programme moet:


  1. die bereiking van substantiewe gelykheid bevorder

  2. persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, beskerm en bevorder

Lees die bespreking van Motala v University of Natal and Public Servant's Association of South Africa v Minister of Justice and Others op bladsy 265 tot 267 van die handboek.

(6) Meen u dat 'n belastingbetaler wat die grondwedikheid betwis van inkomstebelasingtabelle waarvolgens persone met hoër inkomste meer inkomstebelasting moet betaal as persone met ‘n laer inkomste, enige kans het om daarmee te slaag? Indien u die applikant verteenwoordig, sou u die aksie ingevolge artikel 9(1) of artikel 9(3) instel? Gee redes vir u antwoord. (5)

(6) Begin met die artikel 9(1)-ondersoek deur die stappe te volg wat hieronder uiteengesit word:



Stap 1: Bepaal of daar 'n onderskeid gemaak word.

Die antwoord is ja, omdat hoë-inkomste-verdieners en lae-inkomste-verdieners verskillend behandel word.



Stap 2: Bepaal of daar 'n rasionele verband bestaan tussen die een of ander wettige regeringsoogmerk.

Weer eens 'n bevestigende antwoord, want die oogmerk is om laer inkomste-groepe te help.



Stap 3: Bepaal of hierdie differensiasie op diskriminasie neerkom.

Dit kom daarop neer, maar op 'n ongelyste grond, naamlik inkomste.



Stap 4: Word menswaardigheid deur hierdie diskriminasie benadeel of het dit 'n soortgelyk ernstige uitwerking?

Menswaardigheid is oënskynlik nie ter sprake nie, maar die uitwerking van die diskriminasie kan vergelykbaar ernstige gevolge hê, na gelang van die belastingskale.



Stap 5: Is die diskriminasie onbillik?

Die applikant sou onbillikheid moes bewys omdat die diskriminasie op 'n analoë grond geskied. Weer eens is die feite deurslaggewend. Daar word algemeen aanvaar dat verskillende belastingskale nie noodwendig onbillik is nie. Maar, indien sommige mense byvoorbeeld 75 persent belasting op hul inkomste betaal, sou dit waarskynlik onbillik wees.

In beginsel sou die staat dus steeds die buitengewoon hoë belastingkoerse kon regverdig, kragtens artikel 36(1), hoewel dit in die praktyk nie maklik sal gebeur nie.


Yüklə 0,58 Mb.

Dostları ilə paylaş:
1   ...   7   8   9   10   11   12   13   14   15




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©muhaz.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

gir | qeydiyyatdan keç
    Ana səhifə


yükləyin