Die wese van ‘n staat se voortbestaan lê in die land se nasionale waardes en belange en of die volk hulle ten volle daarmee kan vereenselwig. Nasionale waardes is ‘n stel van idees wat gemeenskaplik deur ‘n nasie onderskryf word en wat wetend of onwetend ‘n invloed uitoefen op die bestaan van die nasie. Vir die RSA, as sekulêre staat, is die nasionale waardes vasgelê in ons konstitusie:
Menswaardigheid, gelykheid en bevordering van menseregte en vryhede
Nie-rassigheid en nie-seksisme
Soewereiniteit van die konstitusie en die oppergesag van die regbank
Universele stemreg, gemeenskaplike kieserslys, gereëlde verkiesings en veelpartyregering.
Nasionale belange daarenteen is daardie sigbare en onsigbare kwessies wat ‘n nasie as belangrik beskou vir sy welsyn. Vir-Suid Afrika is dit sake soos
Herstel van die skeidings en onregte van die verlede
Vestig van ‘n demokratiese bestel
Om die lewenskwaliteit van alle persone te verbeter
Om ‘n verenigde sowereine staat te wees
Territoriale integriteit.
Ons land se konstitusie word allerweë beskou as een van die bestes in die wêreld. Dit is sekerlik nie volmaak nie, maar is die beste waarop ons as verskillende volke ordelik kon ooreenkom. Daar is natuurlik ook kritiek daarteen,soos byvoorbeeld dat dit verhewe Westerse waardes bevat en nie rekening hou met die werklikheid in Afrika nie.