Fundamentele regte – fur201f studie-eenheid 1 (p1 gids): Inleiding tot die Grondwet en die Handves van Regte



Yüklə 0,58 Mb.
səhifə1/15
tarix01.08.2018
ölçüsü0,58 Mb.
#64796
  1   2   3   4   5   6   7   8   9   ...   15

FUNDAMENTELE REGTE – FUR201F

STUDIE-EENHEID 1 (p1 gids): Inleiding tot die Grondwet en die Handves van Regte

  1. Bespreek die siening dat die tussentydse Grondwet ‘n grondwetlike rewolusie teweeggebring het, wat afgehandel is toe die finale Grondwet in 1996 aangeneem is. (15)

Die tussentydse GW het op 27 April 1994 in werking getree en die volgende veranderinge teweeggebring:

  1. Apartheid is beeïndig

  2. Parlementêre soewereiniteit is vervang met grondwetlike soewereiniteit

  3. ‘n Afdwingbare en beregbare HvR het deel van die GW gevorm, om menseregte te beskerm. Howe het die bevoegdheid ontvang om enige regsvoorskrif of optrede wat in stryd is met die HvR, ongeldig te verklaar.

  4. Die sterk en sentrale regering vd verlede is vervang deur ‘n demokratiese regering waarvan die wetgewende en uitvoerende magte verdeel is in nasionale, provinsiale en plaaslike sfere. Die regering is gebasseer op grondwetlikheid, die oppergesag van die reg en die skeiding van magte.

Voor 1994 kon die soewereine parlement enige wet uitvaardig en geen persoon of hof kon die geldigheid daarvan bevraagteken nie; ‘n hof kon alleenlik die prosedures vir die aanname en uitreiking van wetgewing ondersoek. Die parlement het die wit minderheid verteenwoordig en die meerderheid van die bevolking het geen stemreg gehad om onpopulêre of onderdrukkende maatreëls te ontmoedig nie. Die vorige SA grondwette het geen verhewe status bo parlementêre wetgewing geniet nie en kon deur gewone prosedures gewysig word. Ook die gemenereg kon maklik deur wetgewing gewysig word. Namate teenstand teen apartheid toegeneem het, het die regering dikwels ‘n noodtoestand afgekondig om siviele regte verder in te kort.

Die tussentydse GW was die resultaat van deeglike onderhandelinge tussen die verteenwoordigers en teenstaanders van die apartheid staat. Informele onderhandelinge het in 1985 begin tussen die NP regering en Nelson Mandela. In 1990 het Staatspresident FW de Klerk Mandela vrygelaat en die verbod op vryheidsbewegings – die ANC, PAC en SACP – gelig. Politieke gevangenes is vrygelaat en bannelinge is toegelaat om terug te keer na SA.

Veelparty onderhandelinge het begin met CODESA en die tussentydse GW is in Desember 1993 deur die driekamer Parlement aanvaar. Daar is ooreengekom op ‘n tweefase oorgangsproses. ‘n Nuwe forum – die “Multi-Party Negotiation Process” (MPNP) – het 34 Grondwetlike Beginsels uiteengesit waaraan die nuwe GW moes voldoen. Na die 1994 verkiesing het die nuwe Parlement en ‘n “Government of National Unity (GNU) in ooreenstemming met die tussentydse GW begin funksioneer. Die 1993-GW was ‘n oorgangsgrondwet. Een van die belangrikste oogmerke daarvan was om die prosedures vir die onderhandeling en opstel van die finale GW uiteen te sit, soos gereguleer deur die Grondwetlike Beginsels.

Die KH moes die teks van die finale GW as bestaanbaar met hierdie Beginsels verklaar. Die teks wat in Mei 1996 aangeneem is, is deur die KH afgekeur. Die gewysigde teks is in die Tweede Sertifisering-saak as bestaanbaar daarmee bevind. Die Beginsels dien nou as interpretasie hulpmiddel.

Toe die 1996-GW op 4 Februarie 1997 in werking tree, het dit ‘n einde gebring aan ‘n lang stryd om grondwetlike demokrasie in SA in te stel. Hierdie finale GW (‘n produk van ‘n demokraties verkose liggaam – die Grondwetlike Vergadering) het die 1993 GW herroep en SA se grondwetlike rewolusie voltooi.


  1. Wat is die verhouding tussen die Grondwet en die Handves van Regte? (5)

Die HvR is onlosmaaklik deel van die GW en kan net in die grondwetlike konteks behoorlik verstaan word. Aangesien die GW as sodanig verskans is, is die HvR afdwingbaar en beregbaar – enige regsvoorskrif of optrede in stryd daarmee, mag ongeldig verklaar word.

Art 8 vd GW bepaal dat die HvR van toepassing is op die totale reg en bind die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag en alle staatsorgane.



  1. Van watter belang was die Grondwetlike Beginsels, verskans in die tussentydse Grondwet, vir die opstel en aanname van die “finale” Grondwet? (10)

Die finale GW is opgestel en aanvaar ooreenkomstig die 34 Grondwetlike Beginsels vervat in Bylae 4 van die tussentydse GW. Eers nadat die KH verklaar het dat die bepalings vd 1996-GW in ooreenstemming was met die Grondwetlike Beginsels, het dit die finale GW geword.

Die “Multi-Party Negotiation Process” (MPNP) – het 34 Grondwetlike Beginsels uiteengesit waaraan die nuwe GW moes voldoen. Die Grondwetlike Beginsels was ‘n raamwerk vir die skepping van ‘n demokratiese staat waarin die fundamentele regte en vryheid van alle burgers beskerm word.

Die 1993-GW was ‘n oorgangsgrondwet. Een van die belangrikste oogmerke daarvan was om die prosedures vir die onderhandeling en opstel van die finale GW uiteen te sit, soos gereguleer deur die Grondwetlike Beginsels.

Die KH moes die teks van die finale GW as bestaanbaar met hierdie Beginsels verklaar. Die teks wat in Mei 1996 aangeneem is, is deur die KH afgekeur. Die gewysigde teks is in die Tweede Sertifisering-saak as bestaanbaar daarmee bevind. Die Beginsels dien nou as grondwetlike interpretasie hulpmiddel.

Hierdie finale GW (‘n produk van ‘n demokraties verkose liggaam – die Grondwetlike Vergadering) het op 4 Februarie 1997 in werking getree en die 1993 GW herroep.

Eerste sertifiserings saak


  • By Codesa ooreengekom op 2 fase oorgangsproses. Interim regering wat onder ‘n interim Grondwet funskioneer sal die land op koalisie basis regeer terwyl die finale Grondwet opgestel word.

  • Nasionale wetgewer is verkies deur alle volwasse kiesers, ongeag ras, en finale Grondwet moet binne sekere tyd opgestel word.

  • Die Multiparty Onderhandelingsproses het op ‘n stel van 34 Grondwetlike beginsels ooreengekom wat die raamwerk vir die finale Grondwet moes vorm: ‘n oppermagtige Grondwet waarin fundamentele regte van alle persone beskerm word.

  • Konstitusionele moet sertifiseer dat GW voldoen aan die 34 beginsels.

  • Na die aanvaklike sertifisering kan niemand meer beswaar maak teen Grondwetwysiging op grond van nie-nakoming van die Grondwetlike beginsels nie. Beginsels slegs van toepassing op sertifisering van finale Grondwet.

Sertifisering-saak 1 en 2

Die volgende beginsels vorm die grondslag vd nuwe grondwetlike orde:



  1. Konstitusionalisme

  2. Die oppergesag van die reg (rule of law)

  3. Demokrasie en toerekenbaarheid

  4. Skeiding van magte en wigte en teenwigte

  5. ook Demokrasie en Fundamentele regte in die HvR



  1. Het Konstitusionalisme dieselfde betekenis as die blote feit dat daar ‘n grondwet is? (5)

Konstitusionalisme is die opvatting dat ‘n regering sy magte ingevolge ‘n grondwet verkry en dat dit deur die grondwetlike bepalings beperk word.

Alhoewel ‘n skriftelike en soewereine GW uiters belangrik is vir konstitusionalisme, word lg nie net deur ‘n grondwet verkry nie. Hoewel Brittanje nie ‘n skriftelike en soewereine grondwet het nie, word konstitusionalisme nogtans daar gerespekteer. Van wesenlike belang is wel dat daar óf prosedurele óf substantiewe beperkings op regeringsmag moet wees. (Die beperking van magte is die kern van konstitusionalisme.)



Struktuele en prosedurele beperkings beteken dat slegs sekere instellings sekere magte en bevoegdhede mag uitoefen – en slegs as die spesifieke prosedures gevolg word.

Substantiewe beperkinge word hoofsaaklik dmv die HvR opgelê. Die staat mag nie sy bevoegdheid op so ‘n manier gebruik dat dit op enige vd fundamentele regte inbreuk maak nie. Dit het ‘n oorreenstemmende plig om sy mag aan te wend om die regte vervat in die HvR te beskerm en te bevorder.

Hierdie beperkinge kan alleenlik effektief wees mbv die volgende 3 beginsels: grondwetlike oppergesag, beregbaarheid en verskansing.



Grondwetlike oppergesag: Die GW is die hoogste reg van die land. Enige wet of optrede wat onbestaanbaar is daarmee, prosedureel of substantief, is ongeldig. (art 2 GW)

Beregbaarheid: Die regsprekende gesag in die vorm vd KH is beklee met die mag op enige wet of optrede onbestaanbaar met die GW ongeldig te verklaar. Die GW maak voorsiening vir geregtelike hersiening. Art 165(5) – ‘n beslissing of bevel van die hof is bindend op alle persone en staatsorgane waarop dit van toepassing is.

Verskansing: Die GW kan slegs dmv spesiale prosedures en spesiale meerderhede gewysig word – art 74 GW.

Demokrasie: Demokrasie behels regering deur die burgers, binne sekere vooraf bepaalde kanale; volgens vooraf bepaalde prosedures. Wetgewing wat deur die demokraties verkose verteenwoordigers van die mense in die parlement opgestel is, wat strydig is met die GW of inbreuk maak op fundamentele regte, mag dus deur die regsprekende gesag afgekeur word. Daar is ook staatsinstellings geskep om ons konstitusionele demokrasie te beskerm, bv die Menseregte Kommissie.

  1. Waarom behoort die howe en verkose regters die bevoegdheid te hê om die beslissings van ‘n demokratiese wetgewer en ‘n demokratiese en verteenwoordigende regering af te keur? (15)

Dit is in ooreenstemming met die beginsels van konstitusionalisme en demokrasie. Ingevolge konstitusionalisme moet die regering se mag – hetsy uitvoerend, wetgewend of geregtelik – beperk word. Aan die ander kant is demokrasie altyd regering deur die mense volgens sekere vooraf bepaalde prosedures of norme.

Art 172 vd GW bepaal dat ‘n hof met die nodige jurisdiksie ‘n wet of optrede wat onbestaanbaar is met die GW ongeldig moet verklaar vir sover dit onbestaanbaar is. Art 165(5) – ‘n beslissing of bevel van die hof is bindend op alle persone en staatsorgane waarop dit van toepassing is.

Wanneer die hof ‘n parlementswet ongeldig verklaar kan daar geargumenteer word dat dit teen die wil van die mense geskied – parlementswette word opgestel deur die verkose verteenwoordigers van die mense. Die uitvoerende en wetgewende gesag het egter ooreenstemmende mag verkry uit die GW. Demokrasie behels regering deur die burgers, binne sekere vooraf bepaalde kanale; volgens vooraf bepaalde prosedures. Dit is die taak van die hof om te verseker dat regeringsbesluite en wetgewing wat inbreuk maak op menseregte ongeldig verklaar word. ‘n Besluit deur die meerderheid mag nie inbreuk maak op individuele fundamentele regte nie.

Die GW word nie slegs deur die howe afgedwing nie. Burgers kan druk uitoefen op die regering om effek te gee aan hul regte. Vryheid van pers verseker dat die regering sy verpligtinge nakom en voorkom magsmisbruk. Hoofstuk 9 van die GW het ‘n aantal staatsinstellings geskep om ons konstitusionele demokrasie te beskerm, bv die Menseregte Kommissie en die Openbare Beskermer.

Sien Executive Council of the Wester Cape Legislature.


  1. Wat was die Konstitusionele Hof se bydrae tot die ontwikkeling van die rule of law-beginsel? (10)

Oppergesag van die reg is die opvatting dat ‘n regering net ingevolge die reg mag optree, wat deur onpartydige en onafhanklike howe afgedwing word. Die oppergesag van die reg is verskans in die GW en het ten doel om basiese individuele regte te beskerm, deur van die regering te vereis om volgens vooraf vasgestelde, duidelike en algemene reëls (wat deur howe afgedwing word) ooreenkomstig billike prosedures op te tree – AC Dicey.

Niemand is bo die reg verhewe nie. Die staat se bevoegdhede kan slegs uitgeoefen word as die reg dit toelaat. Daar moet dus wetgewende magtiging wees vir alles wat die staat doen.

Die KH het die rule of law-beginsel op beslissende wyse regstreeks toegepas en daaruit ‘n algemene vereiste ontwikkel dat alle regs- en staatsoptrede rasioneel verband moet hou met ‘n regmatige regeringsoogmerk.

Pharmaceutical Manufacturers-saak:


  • Die hof moes beslis of die bevoegdheid van die President om ‘n Parlementswet inwerking te stel grondwetlik hersienbaar is.

  • Die hof het beslis dat hierdie funksie nie uitvoerend of wetgewend van aard is nie, maar iewers tussen-in. Hoewel dit nie administratiewe optrede was nie (en dus nie onderworpe is aan die reg op administratiewe geregtelikheid in die HvR nie), is dit steeds ‘n openbare bevoegdheid wat in ooreensteming met die GW uitgevoer moet word.

  • Die oppergesag van die reg vereis dat openbare bevoeghede nie arbitrêr mag wees nie en moet rasioneel verband hou met die doel van die bevoegdheid.

  • Belangrik van hierdie saak: Die spesifieke norme moet eers uitgeput word voordat algemene en abstrakte norme soos die oppergesag van die reg toegepas word.



  1. Verduidelik die prosedurele en substantiewe komponente van die rule of law (oppergesag van die reg). (10)

Die prosedurele komponent van die rule of law-beginsel verbied arbitrêre besluitneming, terwyl die substantiewe komponent voorskryf dat die regering individuele basiese regte moet respekteer.

Die oppergesag van die reg beteken meer as die waardeneutrale legaliteitsbeginsel – dit bevat sowel prosedurele as substantiewe komponente.

Die prosedurele komponent verbied arbitrêre besluitneming deur sowel die uitvoerende gesag, as die Parlement. Die afwesigheid van ‘n rasionele verband tussen alle regs- en staatsoptrede en ‘n regmatige regeringsoogmerk dui op arbitrêre wetgewing.

Die substantiewe komponent vereis dat die regering die basiese regte van individue respekteer. Bv menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Spesifieke norme wat die oppergesag van die reg konkretiseer, daarop uitbrei en dit implimenteer, moet eers toegepas word in regsdispute voordat algemene en abstrakte norme toegepas word. Waar optrede bv administratief van aard is, is dit indirek onderhewig aan die reg op administratiewe optrede in die HvR en direk aan die magtigende wetgewing – eers in die laaste instansie aan die abstrakte beginsel van die oppergesag van die reg in die GW.


  1. Watter drie vorme van demokrasie word deur die Grondwet erken? (10)

Demokrasie is regering deur die mense in ‘n land, gebaseer op die instemming van diegene waaroor regeer word, en deur hulle verkies om hul belange te verteenwoordig. Demokrasie is een vd grondwaardes vd Republiek. Die Aanhef vd GW verklaar dat regering op die wil van die mense gebaseer moet word.

Die GW erken 3 vorme van demokrasie: verteenwoordigende demokrasie, deelnemende demokrasie en direkte demokrasie.



  1. Verteenwoordigende demokrasie:

Verteenwoordigende demokrasie is onregstreekse demokrasie . Die mag is gegrond op die mense se wil, soos dit dmv gekose verteenwoordigers uitgedruk word. Dit is politieke demokrasie, wat politieke regte soos verskans in die HvR en vrye en billike verkiesings inhou.

Dit behels ook deelneming deur die mense in politiek, deur hul verkose verteenwoordigers.



  1. Deelnemende demokrasie:

Deelnemende demokrasie beteken dat individue of instellings wat die mense verteenwoordig aan politiek moet deelneem; aan besluite wat hulle affekteer. Die GW erken die belang van deelname uitdruklik. Art 57(1)b) vd GW bepaal dat die Nasionale Vergadering reëls en orders moet maak met behoorlike inagneming van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, verantwoordingspligtigheid, deursigtigheid en publieke betrokkenheid. Soortgelyke bepalings bestaan tov die NRVP en provinsiale wetgewers.

Art 33 vd GW bepaal as deel van prosedureel billike administratiewe optrede dat ‘n persoon ‘n verhoor gegee word voordat besluite geneem word wat sy regte affekteer.

Die KH gee locus standi aan ‘n persoon wat nie ‘n party in ‘n saak is nie, maar met ‘n belang in ‘n saak om as amicus curiae op te tree.

In Fose v Minister of Safety het die KH egter beslis dat, buiten ‘n belang, die amicus curiae ook nuwe bewerings of argumente na vore moet bring wat nuttig is vir die hof.



  1. Regstreekse demokrasie:

Regstreekse demokrasie dien as ‘n teenwig vir die belang van politieke partye in ‘n verteenwoordigende demokrasie. Die mense spreek hulle regstreeks dmv ‘n verkiesing uit oor sekere politieke aangeleenthede, soos die aanname van ‘n grondwet. Verder balanseer dit die invloed wat deur belange groepe uitgeoefen word.

Regstreekse demokrasie is veral van belang vir individue en groepe wie se belange afgeskeep word deur die politieke partye.

Art 17 vd GW verseker die reg om (vreedsaam en ongewapen) te vergader, te betoog, ‘n betooglinie te vorm en petisies voor te lê.

Art 84(2)(g) magtig die President om’n nasionale referendum uit te roep. ‘n Soortgelyke bepaling bestaan in art 127 vir ‘n provinsiale referendum.

Demokrasie en verantwoordingspligtigheid gaan hand aan hand. Verskeie grondwetlike bepalings het ten doel om uitvoering te gee aan die beginsels van openheid / deursigtigheid, deelnemendheid en verantwoordingspligtigheid. Lede van die uitvoerende gesag in die verskillende regeringsfere is verantwoordingspligtig. Dit geld ook vir lede van die parlement en enige ander openbare instelling. (Ministers is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik teenoor die Parlement.)

Regeringsinstellings moet toeganklik wees en die regering moet sy wetgewing en opdrag verduidelik wanneer dit verwag word. Spesifieke bepalings van die beginsel van verantwoordingspligtigheid vloei uit die HvR. Art 32 voorsien die reg van toegang tot inligting; art 33 die reg op regverdige administratiewe optrede, wat insluit - geskrewe redes en redelikheid. Art 59 bepaal dat die NV publieke betrokkenheid moet fasiliteer.

Ook sekuriteitsdienste (insluitend die SAP en SANDF) en begrotings moet ook voldoen aan deursigtigheid en verantwoordingspligtigheid.


  1. Verduidelik die omvang van die skeiding van magte en wigte en teenwigte, op grond van die regspraak van die Konstitusionele Hof. (10)

Die skeiding van magte behels trias politica, die skeiding van funksies, die skeiding van personeel en wigte en teenwigte. Die skeiding van magte is nie absoluut nie. Die KH beslis in ‘n aantal gevalle dat geregtelike hersiening nie behels dat die Hof die mag het om op die GW inbreuk te maak deur beslissings te vel wat deur ander regeringsvertakkinge gemaak behoort te word nie. In die Eerste Sertifisering-saak het die KH beslis dat die leerstuk van skeiding van magte nie ‘n vasgestelde of onveranderlike grondwetlike leerstuk is nie.

Die beginsel van skeiding van magte en wigte en teenwigte vorm implisiet deel van die GW teks. Die Grondwetlike Beginsels het vereis dat die 1996 GW skeiding van magte en wigte en teenwigte moet voorsien.

Die KH streef om ‘n SA model van skeiding van magte te ontwikkel. ‘n Buigbare benadering word gevolg. In die volgende sake staan die KH die beginsels voor as deel van die grondbeginsels van die Republiek:


  • South African Association of Personal Injury Lawyers v Heath – ‘Daar is geen twyfel dat ons GW voorsiening maak vir ‘n skeiding van magte nie en dat wetgewing strydig met wat die GW daaromtrent verlang, ongeldig is. Skeiding van magte is implisiet in die GW.’ Die KH het bevind dat regterlike beamptes in gepaste omstandighede wel aan die hoof van ‘n kommissie van ondersoek kan staan. In hierdie saak was die funksies egter onbestaanbaar met die regspreking en daarom ongeldig.

  • Die Eerste Sertifisering-saak - KH beslis dat die leerstuk van skeiding van magte nie ‘n vasgestelde of onveranderlike grondwetlike leerstuk is nie

  • Executive Council of the Western Cape Legislature - ‘Die bevoegdheid om ‘n Parlementswet te wysig mag nie aan die uitvoerende gesag gedelegeer word nie.’

  • Soobramoney - Die hof het geweier om die staat te beveel om duur dialise behandeling te verskaf op ‘n krities-siek pasiënt aan die lewe te hou. Dit is nie die funksie van die hof om te bepaal hoe ‘n beperkte begroting aangewend moet word om die maksimum voordeel aan die meerderheid pasiënte te voorsien nie.

  • Treatment Action Campaign – Die hof sal nie huiwer om verpligte verligting en steun te beveel wat beleid en koste-implikasies het, as dit beslis dat die staat nie sy grondwetlike verpligtinge ywerig en sonder vertraging nakom nie.

Volgens die trias politica-beginsel word regeringsmag in 3 vertakkinge verdeel:

  • die wetgewende gesag (stel wette op en vaardig dit uit) Art 43 – Parlement en provinsiale wetgewers;

  • die uitvoerende gesag (voer wette uit of administreer dit) Art 85 en 125 – President en premiers; en

  • regsprekende gesag (hanteer die regspleging of los geskille op dmv regstoepassing) Art 165 – howe. Die skeiding van funksies hou in dat hierdie drie arms van die regering verskillende funksies uitvoer.

Die skeiding van personeel het ten doel om magsmisbruik te verhoed – daar mag nie te veel mag in ‘n enkele persoon of liggaam setel nie – en om menseregte te beskerm. Elke arm van die regering moet oor sy eie personeel beskik. Hierdie skeiding is nie absoluut nie. In die Eerste Sertifisering-saak is geargumenteer dat die oorvleueling van die lede van die uitvoerende gesag en wetgewende gesag teen die vereiste van die Grondwetlike Beginsel VI is. Die hof het beslis dat die leerstuk van skeiding van magte nie ‘n vasgestelde of onveranderlike grondwetlike leerstuk is nie. Hierdie oorvleueling maak die uitvoerende gesag meer verantwoordbaar aan die verkose wetgewer.

Die skeiding van magte vorm die grondslag van die beginsel van geregtelike onafhanklikheid. Regsprekende funksies moet vry van inmenging deur die ander twee sfere plaasvind. Ook vry van vooroordeel en partydigheid. Toepassing van skeiding van magte is moeilik wanneer ‘n hof moet oorweeg wat sy eie funksie behoort te wees en hoe ver hy mag gaan sonder om met die funksies van die ander regeringsvertakkinge in te meng. Die howe het meganismes van self-beheer ontwikkel. Sien Soobramoney.

Wigte en teenwigte moet veseker dat die regeringsvertakkinge mekaar intern kontroleer en as teenwigte dien vir die mag van die ander vertakkinge. Geregtelike hersiening en die aanstelling van regters is belangrike voorbeelde hiervan.

Fundamentele regte:


  • kom elke mens toe

  • vorm deel van die fundamentele of grondwaardes van die Republiek

  • word in die GW verskans – in besonder die HvR

  • enige bedreiging of skending van enige fundamentele reg kan aanleiding gee dat ‘n slagoffer ‘n aksie instel voor die relevante owerheid (gewoonlik ‘n geregshof), wat deur die GW gemagtig word om die HvR af te dwing en oor ‘n toepaslike remedie te beslis.



  1. Sou die volgende wysigings aan die Grondwet geldig wees?

  1. Wet 109 van 2005 wysig art 11 (die reg op lewe) van die Grondwet, deur die Parlement die mag te gee om weer die doodstraf, waarop in S v Makwanyane ‘n verbod geplaas is, in te stel. Die Wet word deur een derde van die lede van die NV en die NRVP aanvaar. (5)

Ongeldig – art 74 GW

Enige ander bepaling van die Grondwet kan gewysig word deur ’n Wetsontwerp wat aangeneem word –

(a) deur die Nasionale Vergadering, met ’n ondersteunende stem van minstens twee derdes van sy lede; en

(b) ook deur die Nasionale Raad van Provinsies, met ’n ondersteunende stem van minstens ses provinsies, indien die wysiging –

(i) betrekking het op ’n aangeleentheid wat die Raad raak;

(ii) provinsiale grense, bevoegdhede, funksies of instellings verander; of

(iii) ’n bepaling wat spesifiek met ’n provinsiale aangeleentheid handel, wysig.
Die reg op lewe is vervat in die HvR. Geen reg is egter absoluut nie, en kan beperk word in lyn met art36. Die rede hoekom die doodstraf afgeskaf is was egter om dat dit inbreuk maak op ‘n persoon se menswaardigheid. Daardie basiese waarde word in art 1 omskryf. Slegs ‘n 75% meerderheid kan art 1 wysig.
Art 1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:

(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.



  1. Kataloq: wp-content -> uploads -> filebase
    uploads -> Multimedia Mərkəzi Ali təhsil müəssisələrinin jurnalistika fakültələri üçün multimedia jurnaliSTİkasi fənninin
    filebase -> Bing! und über dem Kopf leuchtet eine Glühbirne auf. Ein untrügliches Zeichen dafür, dass eine Comic- oder Trickfilmfigur eine plötzliche Eingebung, eine Idee hat
    filebase -> [zRPz]pitout V north cape livestock co-operative ltd 1977
    filebase -> Non-patrimonial damages
    filebase -> Panduan Masa Perayaan Paskah dan Pentakosta [mppp] 2014 Sinode gksbs pengantar
    filebase -> Pritchard properties (pty) ltd V koulis 986 (2) sa (A) 1986 (2) sa p1
    filebase -> Assignment 1 is compulsory and due
    filebase -> Overview of library and information services available to unisa honours students
    filebase -> Iop303v summaries chapter 1 – the meaning of work

    Yüklə 0,58 Mb.

    Dostları ilə paylaş:
  1   2   3   4   5   6   7   8   9   ...   15




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©muhaz.org 2022
rəhbərliyinə müraciət

    Ana səhifə