ONR314
(Voorgraads)
Ondernemingsreg
2012
Afrikaans
Departement Handelsreg
Saamgestel deur Prof E Snyman-Van Deventer
Aangepas deur A Koorsen & HJ Moolman
Evalueerder: Prof JV du Plessis
Kopiereg vestig in UV en mag op geen wyse geskend word nie.
16-krediet module
160 Veronderstelde leerure
DIE UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT
FAKULTEIT REGSGELEERDHEID
DEPARTEMENT HANDELSREG
KURSUS: ONR314
ONDERNEMINGSREG
EERSTE SEMESTER: 2011
1. WELKOM
Welkom by die module Ondernemingsvormereg of kortweg Ondernemingsreg. Alhoewel die kursus op die oog af baie omvangryk voorkom, is dit inderwaarheid slegs ‘n ondersoek na vier ondernemingsvorme. Laasgenoemde het te doen met die bedryf van ‘n onderneming.
ONR 314 is ‘n semesterkursus wat aangebied word gedurende die eerste semester van die jaar. Die kursus bestaan uit vier afdelings, naamlik Vennootskapsreg, Beslote Korporasiereg, Handeldrywende Trusts en Stokvels en word aangebied deur Adv. H.J. Moolman en Me. A. Koorsen en ONR324 handel met die maatskappyereg.
Die doel van die module is om u vertroud te maak met die regsbeginsels onderliggend aan hierdie ondernemingsvorme asook hoe dit prakties aanwending vind. Ten einde hierdie doel te bereik, word gebruik gemaak van formele lesings, transparante, ‘n handboek, voorgeskrewe materiaal soos hofsake en selfstudie.
Studente is welkom om enige probleme wat hulle aangaande die kursus mag ondervind met die betrokke dosent gedurende die klasperiodes, spreekure of per afspraak te bespreek.
-
DOEL VAN KURSUSHANDLEIDING
Die handleiding het ten doel om u vertroud te maak met die volgende:
-
Die inhoud van die kursus;
-
Die werkprogram wat gevolg sal word gedurende die kursus, insluitende lesingtye, toetsdatums, ens.
-
Algemene reëlings met betrekking tot studiebronne wat gebruik sal word asook die aanbieding en evaluering van leerstof;
-
Administratiewe reëlings met betrekking tot jaarsyfers, toelating tot eksamens, slaagvereistes, afwesigheid van toetse en spreekure.
-
Uitkomste, besprekings, opdragte, besprekingsvrae, hersieningsvrae en aktiwiteite.
-
KURSUSMATERIAAL
-
Voorgeskrewe materiaal
Uittreksels uit handboeke en hofsake is beskikbaar op Xerox.
-
WERKPROGRAM
-
Lesingtye en plan
Twee lesings A en twee lesings B word elke week aangebied.Daar word van ‘n student verwag om ‘n lesing A en ‘n lesing B per week by te woon in die taal van sy/haar keuse.
-
Lesingindeling
Lesing 1: Agtergrond en administrasie
VENNOOTSKAPSREG
Lesing 2 & 3: Die vennootskap as regsfiguur
Lesing 4: Die vennootskap as ondernemingsvorm
Lesing 5 & 6: Interne verhoudinge
Lesing 7: Eksterne verhoudinge
Lesing 8: Ontbinding
BESLOTE KORPORASIEREG
Lesing 9: Agtergrond en konsep
Lesing 10 & 11: Lidmaatskap
Lesing 12 & 13: Interne verhoudinge
Lesing 14 & 15: Eksterne verhoudinge
Lesing 16: Persoonlike aanspreeklikheid
STOKVEL
Lesing 17: Omskrywing van ‘n stokvel
Lesing 18: Regsaard van ‘n stokvel
HANDELDRYWENDE TRUSTS
Lesing 19: Omskrywing van die handeldrywende trust
Lesing 20: Regsaard van die handeldrywende trust
-
ASSESSERING
5.1 Toelating en slaagvereistes
U moet die Algemene Regulasies en die Spesifieke Regulasies wat op die Fakulteit Regsgeleerdheid van toepassing is in die Jaarboek raadpleeg.
Semestersyfer
Aangesien die twee toetse in die kursus gelykwaardig is word die toetspunte bymekaargevoeg en as persentasie bereken vir semestersyferdoeleindes.
Subminimum
‘n Subminimum word nie in enige afdeling vereis nie.
-
Toetse en Eksamen
-
Toetsbeleid van die Universiteit
Die toetsbeleid van die Universiteit, asook die beleid van die Fakulteit Regsgeleerdheid, is op hierdie kursus van toepassing. (Sien 5.3.2.1 hieronder)
5.4.2 Evaluering
5.4.2.1 Toetse (vir die verwerwing van ‘n semesterpunt)
Daar sal slegs drie assesseringsgeleenthede gedurende die semester wees. Elke student moet punte vir twee sodanige geleenthede indien ten einde ‘n semesterpunt te verwerf. Die eerste- en tweede assesseringsgeleenthede bly onveranderd, soos tans in departemente gereël. Enige geldige metode van assessering is aanvaarbaar, byvoorbeeld twee toetse of ‘n toets en ‘n werkstuk. ‘n Derde assesseringsgeleentheid sal ‘n toets wees wat uit twee dele bestaan:
Afdeling A: Dieselfde werksomvang as die eerste toets.
Afdeling B: Dieselfde werksomvang as die tweede toets.
Die derde assesseringsgeleentheid kan of skriftelik of mondeling afgeneem word, of beide skriftelik en mondeling, ten opsigte van die toepaslike (voorheen onbenutte) deel. ‘n Voorvereiste om aan die derde geleentheid deel te neem, is dat die student reeds die eerste of tweede assesseringsgeleentheid moes benut het. Die eerste twee assesseringsgeleenthede sal in lesingvrye weke wees, maar die derde assesseringsgeleentheid sal nie in ‘n lesingvrye week wees nie.
NB: Bevestig asb u toetstye op die amptelike toetsrooster van die Fakulteit Regsgeleerdheid. Toetsuitslae is gewoonlik beskikbaar in die tweede week na die toets en dra gelyke gewig in die berekening van u semestersyfer.
5.4.2.2 Promovering
Slegs studente wat 'n semesterpunt van 70% en hoër verwerf het, kwalifiseer vir promovering. Hierdie punt sal ook, indien die student promoveer, die finale punt vir die betrokke module wees. Die promoveringsgeleentheid sal nie hierdie punt verander nie. (As u semesterpunt byvoorbeeld 73% was en u promoveer, bly u punt vir die betrokke kursus 73%).
GEEN PUNT SAL AANGEPAS WORD OM U IN STAAT TE STEL OM TE PROMOVEER NIE. DIE PUNT WAT U BEHAAL HET IN DIE ASSESSERINGSGELEENTHEDE IS U FINALE PUNT.
5.4.2.3 Eksamen
U moet self hierdie datum kontroleer op die finale rooster. Indien u die rooster verkeerd lees, moet u onmiddellik die eksamenafdeling nader om spesiale oorweging van u saak. ‘n Student moet al die toetse aflê alvorens toelating tot die eksamen verleen word. Om ‘n kursus te slaag moet ‘n gesamentlike syfer van 50% behaal word met dien verstande dat u voldoen aan die voorgeskrewe subminimum van 40% in die eksamen. Om ‘n kursus met onderskeiding te slaag moet ‘n gesamentlike syfer van minstens 75% behaal word. (Regulasie A 17).
Toelating tot eksamen: Geen student sal tot die eksamen toegelaat word tensy al die voorgeskrewe toetse afgelê is nie. (Reg A14(c)).
Slaagsyfer 50%: Gesamentlike punt eksamen en semestersyfer
Subminimum: 'n Subminimum van 40% moet verwerf word in die eksamen ten einde te kan slaag.
(Raadpleeg Algemene en spesifieke Regulasies in hierdie verband)
5.4.2.4 Spesiale eksamen
‘n Studente kwalifiseer vir ‘n spesiale eksamen indien hy/sy ‘n maksimum van TWEE semesterkursusse of EEN jaarkursus (druipkursusse) benodig vir die voltooiing van ‘n graad (Regulasie A 21).
5.4.2 Eksamen en toetsuitslae
Punte word bekend gemaak op die kennisgewingborde in die C R Swart-gebou, en geen punte mag telefonies verstrek word nie.
‘n Student kan ‘n eksamenskrif met ‘n dosent en die departementshoof bespreek BINNE 5 EKSAMENDAE na die uitslae bekend gemaak is, met ‘n reg van onmiddellike appèl via die departementshoof na die Dekaan. [Regulasie A 27].
‘n Student moet binne een week na bekendstelling van toetspunte beswaar daarteen aanteken indien dit na bewering foutief bereken is.
-
Antwoordstelle
Studente wat nie self hul antwoordstelle in ontvangs geneem het of reëlings getref het by die uitdeling daarvan nie, moet binne 3 weke daarna dit by die dosent of assistente in ontvangs neem. By gebreke daaraan sal die antwoordstelle vernietig word. Indien ‘n student aangeleenthede i.v.m. sy antwoordstel of die berekening van sy semesterpunt met die dosent wil bespreek, moet die antwoordstel voorgelê word.
-
ADMINISTRATIEWE INLIGTING
-
Missie en Visie van die departement
Die missie en visie van die departement is by die dosent beskikbaar vir kennisname deur studente.
-
Kleredrag
Netjiese en paslike kleredrag vir lesings en toetse word van studente vereis.
-
Spreekure:
Na of voor klastye, of sioos gereël per afspraak.
Adv. H.J. Moolman
Johannes Bril gebou
0514017084
moolmanhj@ufs.ac.za
Me. A. Koorsen
CR-Swart gebou 8B
Tel. 0514017073
koorsena@ufs.ac.za
-
Departementshoof
Studente is welkom om enige probleme rakende die kursus met Prof JV du Plessis, departementshoof, Johannes Brill-gebou 30 te bespreek.
Toeligting: Verpligte klasbywoning
Sedert ‘n vorige regulasie wat verpligte klasbywoning afdwingbaar gemaak het en in die lig van beskikbare alternatiewe leeraktiwiteite geskrap is, het verskeie faktore die fakulteit genoop om die situasie te heroorweeg.
Die saak is weer via die Fakulteitsraad by die UB aanhangig gemaak, en die fakulteit het goedkeuring ontvang om klasbywoning weer verpligtend te maak.
Wanneer studente registreer, moet hulle dus alreeds aanvaar dat hulle hulle kontraktueel verbind tot ten minste 75% betrokkenheid per module. Sodanige onderneming moet in studiegidse aangetoon word en moet deur ‘n regulasie afgedwing word.
In die lig van die Studente Etiese Kode en ter bereiking van die gestelde leeruitkomste van die LL.B program, gerig op ‘n professionele loopbaan, word studente dus deur die fakulteit aangeraai om dienooreenkomstig hulle “werkvermoë tot die volle potensiaal te benut”.
Reg. A19 – Hertoelating en stuiting van student
(Toeligting tot Reg A10)
(a) Behalwe waar anders in fakulteitsjaarboeke bepaal word, word ‘n student nie toegelaat om meer as twee keer vir ‘n module te registreer nie, behalwe met toestemming van die dekaan in oorleg met die betrokke departementele voorsitter.
Aanbied van modules van ander universiteite
(Toeligting tot Reg A10)
1. Alle versoeke van studente om modules by ander universiteite aan te bied, moet skriftelik gemotiveer word.
2. (a) Indien die betrokke departementele voorsitter nie oortuig is dat daar ‘n aanvaarbare rede bestaan waarom die ekwivalente UV-module nie aangebied kan word nie, sal ‘n versoek van ‘n student om erkenning van ekwivalente module(s) wat hy/sy by ‘n ander universiteit wil aanbied, slegs deur die Dekaan ingevolge Reg A31 toegestaan word.
(b) Indien ‘n student die ekwivalente UV-module reeds tweemaal of meer gedruip het, sal sy/haar versoek om erkenning van ‘n module wat hy/sy by ‘n ander universiteit wil aanbied, slegs in uitsonderlike omstandighede, met inagneming van Reg A31 toegestaan word.
(c) Geen uittree-/finale jaar modules mag deur ander universiteite aangebied word nie.
L.W.: Die voorgraadse programme in hierdie fakulteit veronderstel voltydse studies. Geen deeltydse studies kan geakkommodeer word nie!
ONDERNEMINGSVORMEREG 314 (ONR314)
EERSTE SEMESTER
agtergrond
Ondernemingsreg bou voort op u kennis van die verbintenisreg. Die meeste ondernemingsvorme het as onderbou ‘n kontrak. U moet dus seker maak dat u vertroud is met die algemene beginsels van die kontraktereg. Ook is die deliktereg van toepassing ten aansien van aanspreeklikheid op grond van ‘n delik. Die staatsreg is ook belangrik vir die ondernemingsreg aangesien die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 106 van 1996 ook van toepassing is op alle ondernemings in Suid-Afrika.
Die ondernemingsreg handel met die onderskeie soorte ondernemings waarin ‘n sakepersoon, hetsy in die formele of informele sektor, sy/haar besigheid kan bedryf. Die ondernemer het die keuse tussen die eenmansaak, die vennootskap, die beslote korporasie, die maatskappy en die handeldrywende trust. Ons gaan hierdie semester die basiese beginsels van die vennootskap, die beslote korporasie, stokvel en die handeldrywende of besigheidstrust bestudeer. Die maatskappy as ondernemingsvorm word in ONR324 bestudeer.
Dit is ‘n goeie benadering om altyd een of ander onderneming (besigheid) wat u ken, in gedagte te hou wanneer u die werk bestudeer. As u so ‘n benadering volg, glo ek dat die werk vir u meer sinvol sal wees end at u die module van groot nut sal vind, omdat almal wat ‘n werk verrig maar op een of ander wyse by ‘n onderneming betrokke is, hetsy as eienaar, belanghebbende of werknemer. Selfs die Universiteit en die staatsdiensis maar ondernemings in die publieke sektor (alhoewel dit nie op winsbejag ingestel is nie). Ondernemings is oral om ons en deel van ons daaglikse bestaan.
HOE OM HIERDIE GIDS TE GEBRUIK
Die studiegids is ‘n uiteensetting van hierdie semester se lesings. Die lesings word as volg in die gids uiteengesit:
-
Onderwerp (as ‘n opskrif) - Die opskrif sê vir u waaroor die lesing gaan.
-
*Voorvereistes - Dui aan (waar van toepassing) watter voorafkennis of voorafleer u nodig het om hierdie onderwerp suksesvol aan te pak.
-
Studiedoelwitte - Sit die basiese kennis en vaardighede wat u moet bereik het nadat u die lesing afgehandel het. Wanneer u studeer vir toetse of die eksamen, dien dit as u afbakening.
-
Bestudeer - Voorgeskrewe materiaal wat u MOET bestudeer. Dit sluit die toepaslike gedeeltes in u voorgeskrewe handboek in. Hieronder is ‘n lys met ‘n kontrolelys (“ckecklist”) van al die voorgeskrewe hofsake ingesluit vir u eie gebruik - merk die saak af nadat u dit gelees en opgesom het. Waar ‘n saak by meer as een lesing gebruik word, kan u selfs fotostate van u opsommings maak en by die verskillende lesings gebruik.
-
Lees - Materiaal wat u mag lees indien u wil. Dit word egter aanbeveel dat u hierdie bronne wel raadpleeg angesien dit u basiese kennis en begrip van die vak sal verbeter.
-
Doel van voorgeskrewe materiaal - ‘n Kort uiteensetting van die belang van die voorgeskrewe materiaal sodat u dit binne verband kan bestudeer en die kern kan uithaal.
-
Bespreking - ‘n Kort uiteensetting van die onderwerp van die leereenheid ter opheldering.
-
Aktiwiteite - Verskillende aktiwiteite soos besprekingsvrae, en probleemstellings word ingesluit om u te help om die werk te bemeester en toe te pas.
-
Woordelys - ‘n Lys van belangrike terminologie word ingesluit. U moet die betekenis van hierdie woorde naslaan. Daar is plek in die gids by elke lesing waar u die betekenis van die begrippe kan inskryf.
-
Hersieningsvrae - Dié vrae is bloot ingesluit vir u eie gebruik om u kennis te toets. Die vrae word nie noodwendig in toetse en eksamens gevra nie, maar sal u deur die werk lei en indien u al hierdie vrae kan beantwoord, sal u enige vraag in ‘n toets of die eksamen kan beantwoord.
-
Kontrole - aan die einde van elke lesing, sal u ‘n kontroleblokkie vind wat verwys na die toepaslike gedeelte in die handboek wat u moes bestudeer het. U kan daain afwerk of u die werk gelees het, opgesom het en/of geleer het.
betekenis van aksiewoorde vir assessering
Hierdie lys van aksiewoorde met hul betekenis het ten doel dat u verstaan wat van u verwag word in toetse en eksamens. Die uiteensetting van die aksiewoorde is reeds aan u bekend aangesien u reeds in Strafreg daarmee kennis gemaak.
AKSIEWERKWOORDE OP KENNISVLAK
NOEM / LYS: Skryf in kort sinne die verlangde inligting neer, sonder ‘n bespreking daarvan.
BESKRYF: Gee ‘n gedetailleerde uiteensetting van ‘n saak deur melding te maak van die verskillende dele, eienskappe of kwaliteite van die saak.
SOM OP: Gee ‘n samevatting van die belangrikste feite sonder detail, illustrasies, kritiek of bespreking.
BEGRIP OF INSIG
VERDUIDELIK: Gee ‘n duidelike uiteensetting (verklaring). Lig toe met voorbeelde en/of illustrasies en voer redes aan vir uitsprake of resultate.
IDENTIFISEER: Gee die wesenlike kenmerke (hoofmerke) weer.
GEE ‘N UITEENSETTING: Gee ‘n samevatting van die hoofpunte van die onderwerp in ‘n duidelike en logiese volgorde sodat verskille, ooreenkomste en raakpunte duidelik aangetoon word.
ILLUSTREER: Maak gebruik van ‘n skets, diagram of grafiese voorstelling om ‘n begrip te verduidelik of ‘n probleem op te los.
IN VERBAND BRING: Dui duidelik aan hoe verskillende aspekte met mekaar verband hou, by mekaar aansluit of ooreenstem.
TOEPASSING
INTERPRETEER / VERTOLK: Lewer kommentaar oor beskikbaar feite, met verwysing na toepaslike voorbeelde. Gee ‘n duidelike aanduiding van u eie vertolking daarvan.
ADVISEER: By ‘n probleemstelling waar gevra word om ‘n kliënt te adviseer oor die regsposisie of oor die beste wyse van optrede, moet soos volg te werk gegaan word: i) idenitifseer die regsvrae of geskilpunte wat ter sprake is; ii) beskryf die regsreëls/beginsels wat by hierdie regsvrae of geskilpunte ter sprake is of mag wees sonder om dit toe te pas (beskryf dus die toepaslike teorie); iii) pas vervolgens die teorie of regsreëls/beginsels op die bepaalde feitestel of probleem toe; iv) sit die advies of oplossing vir die probleem uiteen.
ANALISE
ONDERSOEK/ONTLEED: Verdeel die gegewens in dele en bespreek dit krities.
BESPREEK: Verduidelik die betekenis van iets aan die hand van logiese argumente.
KONTRASTEER: Beklemtoon verskille, teenstellings en ongelykhede van die feite of gebeure.
SINTESE
GEE ‘N OORSIG: Gee ‘n samevatting (opsomming, ‘n verkorte weergawe) van die hoofpunte van ‘n vraagstuk en lewer kommentaar daaroor.
INTEGREER: Maak eers ‘n ontleding van die gegewe begrippe of standpunte voordat wesenlike kenmerke daarvan tot ‘n eenheid saamgevoeg word.
EVALUEER
EVALUEER: Maak ‘n waardebeoordeling op grond van bepaalde uitgangspunte of kriteria. Verwys na voor- en nadele en gee ook u eie mening of die van ‘n kundige. Moet nie bespreek nie.
KRITISEER: Gee u beredeneerde opinie oor iets deur te wys op die goeie en slegte punte. U opinie moet deur feite en argumente ondersteun word. Om te kritiseer beteken nie om aan te val nie.
GEE U MENING: Bespreek een of meer menings oor die aangeleentheid of beskryf die status quo (byvoorbeeld die heersende regsposisie) en gee dan u eie gemotiveerde standpunt daaroor.
MOTIVEER: Gee redes vir u standpunt of stelling.
LEWER KOMMENTAAR: Spreek ‘n eie mening uit met betrekking tot die gegewe vraagstuk. Sê of u met ‘n bepaalde stelling saamstem of nie.
VERGELYK: Stel die feite, gebeure of probleme teenoor mekaar en dui ooreenkomste en verskille aan of ontleed die ooreenkomste en verskille tussen stellings, idees ens. (Let op die verskil tussen kontrasteer en vergelyk).
Bron: Aangepas uit McMillan, 1997 en Monteith, 1997.
hofsake: wat word van u verwag?
Die onderstaande uiteensetting is reeds aan u bekend. U het ook reeds daarmee in Strafreg kennis gemaak.
Wanneer ‘n hofsaak vir u voorgeskryf word om te bestudeer, volg die volgende wenke:
IDENTIFISEER ONDERWERP
Stel vas: onder watter onderwerp is saak voorgeskryf: bv vennootskap: aanspreeklikheid
BESTUDEER ONDERWERP
Bestudeer eers hierdie onderwerp (algemene regsbeginsels) in u gids en handboek
HOFSAAK
Lees nou hofsaak: fokus op onderwerp
Eers trefwoorde
kopstuk (kry opsomming)
feite (begin van regter se uitspraak)
bevinding (meestal aan einde van saak)
res van saak ( kry detail)
Hofsake word dikwels in die volgende formaat in toetse gevra:
Bespreek die
(a) feite, (baie kortliks) (1)
(b) regsvraag, (1)
(c) beslissing en (1)
(d) ratio decidendi van S v Hartmann (1 of meer punte)
Beantwoord dit soos volg:
FEITE
kortliks relevante feite (Gewoonlik aan begin van regter se uitspraak)
REGSVRAAG
Wat is in geskil? (regsprobleem) = (Begin by kopstuk vir crux, detail in res van saak)
Dostları ilə paylaş: |