Geagte Voorsitter, Broers en Susters
Ek groet u in die Naam van onse Here, Jesus Christus, en namens u broers en susters in die Verenigende Gereformeerde Kerk in die streeksinode Kaapland. Ek ag dit ’n groot voorreg.
In 1982 was ek laas by ’n NG Kerksinode. Toe het ek, as president van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, vergeefs gewag op ’n verwelkoming, of ’n spreukbeurt. Willie Jonker en ek het jare later daaroor gepraat: oor die “waarom”, en die “wat toe” en die “hoe nou?” Waar hy nou is, moet sy hart sing van blydskap. Wat hier gebeur het kan aan geen mens toegeskrywe word nie. Dit is die werk van die Heilige Gees van God.
Dit is ’n nog groter voorreg om hier te mag wees, by hierdie sinode waar daar sulke lewensveranderende en rigtinggewende besluite geneem is. U het hier bymekaar gekom, nie met die gedagte dat u hier vir die kerk ’n nuwe politiek-korrekte beleid moet uitstippel nie. U moes by hierdie sinode met die verlede worstel, met ’n geskiedenis wat miskien wel verswyg is, maar nooit ontken kon word nie; wat versteek was, maar nooit vergeet kon word nie. U het verstaan: in die omgaan met hierdie geskiedenis is daar vir vertoonvenster-politiek geen plek nie. U het verstaan: dit is nie net ’n geskiedenis van feite nie, dit is ten diepste ’n geskiedenis van mense, en van God en die mense – die mense van ons kerk.
U is hier omdat u weet dat die kerk aan Jesus Christus behoort, dat dit nie ons maaksel, ons pakdier of die voertuig van ons private of volksagendas is nie. Dat ons deur Jesus Christus uitverkies is en dat ons geloof ’n gawe van God is. Dat ons, ten spyte van ons sonde, deur God geroep is en vir daardie roeping toegerus is met gawes wat uniek is maar wat slegs tot hul volle reg kom in die uitlewing binne die belewenis van die gemeenskap van gelowiges.
U het verstaan en hierdie sinode het dit ondubbelsinnig uitgespel: ons is die lede van die liggaam van Christus, en ons hoort onlosmaaklik bymekaar. Dit is ’n saamhoort wat nie rus op afkoms of ras of sosiale status nie; ook nie op gedeelde geskiedenis of belewenis of politieke oortuiging nie; nie gebou op onderlinge herkenbaarheid of simpatie nie, maar op die liefde van, en die onontwykbare, onontkenbare verbondenheid in Jesus Christus. Ons is nie die kreature van ons geskiedenis nie; ons is kinders van God. U besluite oor kerkhereniging spreek van evangeliese oortuiging, geloofsmoed en die verlange na versoening, en van die drang om iets te laat sien van wat God deur ons kan doen, in Suid Afrika en in die wêreld. Ek prys die Here vir wat hier gebeur het. Ek staan vandag hier en ek weet: julle en ons, ons is een.
Die herroeping van die besluit van 1857 is ’n moment van onbeskryflike historiese en teologiese waarde. Vir die NG Kerk sowel as vir ons. En ek neem dit met dankbaarheid, sy het met bewende hande, in ontvangs. Dit is ’n oomblik van gedeelde waarheid, van gedeelde belydenis, van gedeelde, maar onverdeelbare vreugde. Dit is die begin van die herstel van ons eenheid, die bevestiging van die onbreekbaarheid van die gemeenskap van ons geloof. Dit is die gesamentlike getuienis van die werking van die krag van die Heilige Gees in die lewe van ons kerke. Dit is die belydenis van wat ons weet, en glo, en wil doen. Dit is die herstel en herbevestiging van die onaantasbaarheid van die sakramente, die verbondenheid aan Christus en aan mekaar deur die Doop en die Nagmaal, sodat ons saam met Johannes Calvyn bid dat die sakrament so in ons harte gegraveer sal word dat ons weet “dat Christus slegs een liggaam is, waarvan Hy ons almal deelnemers maak, sodat nie een van die broers (en susters) seergemaak, verag, verwerp, misbruik of op enige manier ook al deur ons aanstoot gegee kan word sonder dat ons terselfdertyd Christus seermaak, verag, verwerp, of misbruik deur die kwaad wat ons doen... dat ons Christus nie lief kan hê sonder om Hom in die broers en susters lief te hê nie... want hulle is lede van ons liggaam...”
Hierdie besluit is die geheiligde hernuwing van die memoria Christi. Van nou af sal die Nagmaal ons nooit meer herinner aan die “swakheid van sommige” nie, maar slegs aan die oneindige genade van God in Jesus Christus en die krag van daardie genade wat vir ons genoeg is, in ons swakheid volbring word en tot volle reg kom, sodat ons tot ons volle reg mag kom.
In 1982 het die WARC, en die NG Sendingkerk, die NG Kerk van kettery aangekla. Hierdie besluit is die finale herroeping en die onontkenbare afskeid van die dwaling dat ons, teen die erkenning van die waarheid van die Evangelie in, kan voorgee dat ons beter weet en ’n weg kan volg wat Christus ontken, en die waarheid van die Evangelie met ’n onwaarheid van ons eie maaksel vervang. Met hierdie besluit is daar geen rede meer om die beskuldiging van dwaling ten opsigte van die NG Kerk te bly handhaaf nie. Dit is verby. 150 jaar van gedienstigheid aan “swakheid” het in die lig van hierdie oomblik van geregtigheid geen bestaansreg meer nie.
Die besluit van 1857 was die teken van die eksklusiwiteit van menslike swakheid; die besluit van 2007 is die teken van die inklusiwiteit van God se omhelsing.
Dit is waar dat hierdie besluit die sinode van Wes en Suid Kaapland aan die voorpunt van die kerk stel, dat die res van die NG Kerk miskien nog nie is waar u vandag staan nie. Wat u doen is ’n waagstuk, ’n risiko. Maar dit is nie uit arrogansie of beterweterigheid nie, dit is uit geloofsgehoorsaamheid. Hiermee getuig ons dat die kerk nie geken sal word aan stem van die legioene nie, maar aan die profetiese getrouheid van hulle wat nederig, maar vrymoedig bely dat die liefde van Christus ons dring. Ons verhef ons bo niemand nie, maar hou mekaar se hande vas en bely saam met Calvyn “dat ons staan, en staande gehou word deur God alleen, dat ons naak en met leë hande in sy genade invlug, geheel daarop vertrou, diep daarin skuiling soek, en daarna alleen gryp vir enige verdienste; dat in Jesus God se gesig in volmaakte genade en teerheid op ons almal skyn, selfs op die wat God se Naam vloek, God se vertroue verraai, en ons doop tot skande maak”.
Hiermee bely ons saam:
Dit is nie waar dat ons aan ons verlede uitgelewer is, gekniehalter deur ons geskiedenis, deur ons misdade van gister gevange gehou word nie;
Dit is waar: dat God die kerk geroep het om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat ons vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon.
Dit is nie waar dat ons deur ons swakhede bepaal word en dat ons gedurige slagoffers van die gebrokenheid van die wêreld is nie.
Dit is waar: dat God deur God se lewenskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood oorwin het; dat God deur God se lewensskeppende Woord en Gees God se volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die wêreld nuwe moontlikhede kan skep;
Dit is nie waar dat onversoendheid, geskeidenheid en vervreemding ons onontkombare menslike lot is nie;
Dit is waar: dat God aan die kerk die boodskap van versoening toevertrou het; dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in die kerk as geloofsgemeenskap van hulle wat met God en onderling met mekaar versoen is;
Dit is nie waar dat ons menswees bepaal en beperk word deur ’n geskiedenis van rassevooroordeel, en rasbeheptheid, en ook maar iets aan enige ander mensgemaakte identiteit verskuldig is nie;
Dit is waar: dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid aan mekaar gewillig en met vreugde te gee: één geloof, één roeping, één van siel en één van sin, één God en Vader het, van één Gees deurdrenk is, één brood neem en uit één beker drink, met één doop gedoop is, één Naam bely, aan één Heer gehoorsaam is, vir één saak beywer, en één hoop met mekaar deel;
Dit is nie waar dat die eenheid van die kerk ’n lugspieëling, ’n versoeking tot grootheidswaan of ’n onbereikbare ideaal is nie;
Dit is waar: dat in Christus die middelmuur van skeiding afgebreek is, dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus gawe en opdrag is, dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, ’n werklikheid wat nagejaag moet word; dat Christus ons hiermee so vertrou dat die wêreld mag glo;
Dit is nie waar dat onder ons vyandskap, haat, wantroue, sinisme en ongeloof die laaste sê moet hê nie;
Dit is waar: dat God deur God se lewensskeppende Woord en Gees die magte van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap oorwin het, en dat óns daarom meer as oorwinnaars is deur Jesus Christus en sy krag.
Dit is nie waar dat die magte van die wêreld, ons vrese en ons sonde die laaste woord het nie.
Dit is waar: Jesus is die Here!
God seën u werk, u lewe en die toekoms van ons kerk.
Dostları ilə paylaş: