Teken Uit wes-en-suid-kaapland amptelike nuusbrief



Yüklə 83 Kb.
tarix16.12.2017
ölçüsü83 Kb.
#35062

VrydagNuus


14 NOVEMBER 2014

www.kaapkerk.co.za

Teken In II Teken Uit

WES-EN-SUID-KAAPLAND AMPTELIKE NUUSBRIEF
ROEPING – GEMEENTES SAAM DEUR GOD GESTUUR

In die besinning oor ’n funksionele sinodale struktuur is daar ’n paar begrippe wat as vertrekpunte kan dien: begrippe soos roeping, gestuurdheid, netwerk, vennootskappe en koördinering. In 2011 het die sinode hierdie roeping geformuleer as: Gemeentes saam deur God gestuur. Dit was die resultaat van ’n besinning wat vanaf 2003 tot 2007 deur die sinode bevestig is.


SINODALE NUUS

1. NGK Uit die Moderatuur oor Stemproses en Artikel 1

Die Wes-en-Suid-Kaapland moderatuur skryf: “Die afgelope tyd het daar heelwat briewe en artikels oor die stemproses in die NG Kerk die rondte gedoen. Uit die terugvoering wat van lidmate ontvang is, blyk dit dat dit meer vrae as antwoorde gelaat het. In die lig hiervan het ons dit goed gedink om ’n paar verdere eenvoudige opmerkings ter verheldering te maak. Ons glo immers dat die gesprek voortgaan.” Hierdie jongste Uit die Moderatuur is vroeër hierdie week reeds aan predikante en gemeentes gestuur. Lees dit gerus onderaan.
2. Armoede en Sorg

2.1 Beurse vir Behoeftige Studente

Die bediening vir Armoede en Sorg het beurse beskikbaar vir jong lidmate van die NGK en die VGK. Dié beurse is beskikbaar vir behoeftige studente wat in 2015 (verkieslik onderwys) wil studeer. Indien daar enige behoeftige student in u gemeente is, kontak gerus vir Mizelle Prinsloo by 021 957 7113 of omgee@kaapkerk.co.za en sy sal die aansoekvorm en voorwaardes aan u stuur.
2.2 Finansiële Bystand vir Behoeftiges in Feestyd

Die bediening van Armoede en Sorg het verder ook beperkte fondse beskikbaar vir behoeftige persone wat moontlik hulp nodig het in die Feesseisoen. Dit is moontlik om agt (8) gemeentes met R 5000 elk te help. Indien daar enige iemand in u gemeente is wat by hierdie fonds kan baat, kontak asseblief vir Mizelle Prinsloo by 021 957 7113 of omgee@kaapkerk.co.za vir die nodige vorm wat voltooi moet word.


3. Arbeidsbediening: Een-stop Ekumeniese Sentrum

Die verskillende Hawesending-organisasies wat seemanne in Tafelbaai Hawe evangelies bedien, sal voortaan onder een sambreel funksioneer as ’n een-stop ekumeniese sentrum vir seelui waar elke organisasie steeds sy eie identiteit sal behou. Lees die volledige inligting hier.


4. Biddag vir Beskermingsdienste Sondag 16 November

Sondag 16 November word uitgesonder as Biddag vir ons Beskermingsdienste. Dalk is daar tydens die erediens ’n kans om te bid dat hierdie manne en vroue (polisie, reserviste, verkeer, brandweer, weermag, vloot, lugmag, openbare beskermingsdienste, hospitaalpersoneel ea) wysheid en genade sal ontvang om in uitdagende omstandighede regverdig, menslik en met begrip op te tree.


5. DAGBOEK! Konferensie: Missionale Teologie en Gemeentes

Meer inligting oor die koersbepalende internasionale konferensie oor Missionale Gemeentes (19-21 Januarie 2015 op Stellenbosch), gehou onder beskerming van Communitas en Ekklesia, Sentrum van die US Fakulteit Teologie, is nou bekend. Die tema is Die toekoms van Missionale Teologie en Missionale Gemeentes. Verskeie bekende internasionale kenners sal saam met SA-teoloë en kerkleiers optree. Teken die datum beslis aan en lees hier.


6. NG Wes-en-Suid-Kaap se Logo-kompetisie

Hier is ’n herinnering aan die opwindende kompetisie om ’n nuwe logo vir die sinode te ontwerp! Riglyne sluit in oorspronklikheid; waardes en beeld; kwaliteit, tema en simboliek. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 17 November. Klik hier.



ALGEMENE NUUS EN INLIGTING

1. Met Simpatie: Tobie de Clercq

Ons meegevoel met die familie en vriende van dr Tobie de Clercq, voorheen predikant in NG Paarl, Bredasdorp, Aasvoëlkop en Stellenbosch Moedergemeente (1970-1990). Dr De Clercq is op 8 November in die geseënde ouderdom van 90 oorlede. Sy begrafnisdiens (op 11 November vanuit die NG Moedergemeente Stellenbosch) is gelei deur oudkollega dr Clifford Heys. Lg beskryf hom as ’n lojale wapendraer wat agter sy leier aangestap het. Ons eer sy nagedagtenis. Lees gerus enkele hoogtepunte uit sy lewe en loopbaan aangeheg. (Met dank aan dr Clifford Heys).
2. Jan Kriel: ’n Buitengewone Plek ...

Hier is ’n spesiale stukkie inspirasie: oorweeg gerus om ’n video oor die wonderlike werk wat by Jan Kriel gedoen word, te kyk én te deel. Fanie Herholdt (direkteur) beskryf dit as ’n plek “met buitengewone dienste en buitengewone personeellede. Ons doen dit vir ’n kind, ons doen dit vir ouers, maar ons doen dit in die finale instansie vir ’n Skepper wat vir ons soveel gee ...” Dalk iets om op ’n Sondag in ’n erediens te vertoon? (Jan Kriel is ’n program van Badisa). Skakel 021 903 0434 met navrae. (Sien ook ondertoe meer nuus.)


3. Sinode op Sosiale Media

Almal is welkom om deurlopend inligting vanuit ons sinode deur Facebook en Twitter te kry. Jy kan op die hoogte van gebeure en nuus vanuit die sinode bly op Twitter by @WSKaap en op Facebook by NGWesSuidKaap. Praat asseblief saam 



GEMEENTES BIED AAN

1. NG Gemeente Durbanville: Piet Meiring oor Versoening

Die bediening Dade van liefde van die NG Kerk Durbanville het vir prof Piet Meiring, wat op die Waarheids- en Versoeningskommissie gedien het, genooi om op Donderdag 27 November om 19:00 gelowiges toe te spreek. Die vraag aan prof Mering is: “Wat is die dade van liefde wat Christene kan doen om gestalte te gee aan ons versoeningstaak? Watter rol kan die kerk vorentoe speel in die heling van ons land?” Almal welkom – klik hier.
2. NG Gemeente Vredelust

2.1 Nedine Blom by Gesinsdiens!

Tertius van den Berg stuur nuus oor Nedine Blom se “Supercool vir Jesus!” optrede in Vredelust se Gesinsdiens op Sondagoggend 16 November 2014 om 08:30 EN 10:00. Adres: Dertiende Laan 87, Boston, Bellville.
2.2 Huweliksverryking

Meer nuus uit Vredelust: ’n huweliksverrykingkursus vind van 21-23 November by die gemeente plaas. Dit word aangebied deur Cassie en Jenny Carstens teen R 250 per paar of R 90 per persoon vir studente. Navrae: Tertius 082 783 7107 of tertiusvdberg@telkomsa.net. Sien gerus ook hier op www.kaapkerk.co.za.


3. NG Gemeente Kaapstad in Gesprek met Heinz Winckler

Heinz Winckler tree op Sondag 16 November 2014 om 19:00 by die Groote Kerk op. Hy sal 'n paar van sy liedere sing en daar sal ook gesprek gevoer word met hom rondom musiek, geloof en kerk en hoe sy pad geloop het wat hierdie temas betref. Almal welkom!



EKOLOGIE

Armoede & Sorg Ekologie ontvang A Rocha se Peter Harris

Die ekologie taakspan van Armoede en Sorg ontvang in November besoek van Peter Harris, ’n Anglikaan en die mede-stigter van A Rocha (Die Rots). Sien meer by www.arocha.org. Hierdie organisasie wat in 20 lande werk, moedig Christene wêreldwyd aan om om te gee vir die skepping deur betrokke te raak by omgewingsprojekte en –opvoeding. Peter Harris praat op 29 November (09:00-11:30) by Intaka-eiland by Century City oor What has faith got to do with the environment? Belangstellendes welkom. Kontak vir Carl Swart, cjswart@kaapkerk.co.za of 082 908 9825. c:\users\marieta\pictures\2014-11-29 a rocha.jpg

NUUSBRIEWE EN PAMFLETTE

1. Bybel-Media se Nuusbrief

Hierdie week is BM se fokus op die jongste Bybelkor-publikasie, Desember/Januarie-uitgawe van LiG (sien onder) en die inskrywings vir die BM/Cordis Trust-prys vir 2015. Lees hier meer.
2. Lees in die LiG ...

Elvis Blue het ’n goeie jaar agter die rug. Hy het dus rede om fees te vier. Maar wanneer hy sy jaar afsluit, sal dit as Jan Hoogendyk wees – Chireze se man, Lila en Jua se pa. LiG het saam met die gesin gaan piekniek hou, en oor Kersfees, musiek en sukses gesels.c:\users\marieta\pictures\lig\2014-12 lig.jpg

Lees ook:

• Feestyd!

• Gasvry en goedkoop – hier’s ’n plan!

• Slim geskenk-idees vir (slim) kinders

• Van verslawing na vryheid – Kerstafelgaste vertel

• Beloftekalender 2015


3. UP se Teo-nuusbrief

In die Oktober-nuusbrief van teo.co.za skryf Christo Lombaard oor ateïstiese heiligheid en ’n persoonlike Jesus. Gerda de Villiers skryf oor ’n nuwe boek, Jurie le Roux bekyk die intreeredes van proff Dirk Human (UP Departement Ou-Testamentiese Wetenskap) en Daniel Veldsman (hoof van die UP Departement Dogmatiek en Christelike Etiek) en skryf oor die Reformasie. Klik hier om die artikels te lees.



FUNKSIES EN FEESTELIKHEDE

1. Badisa Banket met ’n Verskil – vir “One More”!c:\users\marieta\pictures\2014 badisa_1more-1.jpg

Moeg vir die ewige, langdradige jaareind-bankette? Hier is ’n lekker opsie: bespreek jou sitplek teen R 300 pp by Badisa se unieke banket voor 6 Desember ... en ontspan heerlik, terwyl jou bydrae help om ’n radikale verskil in NOG EEN persoon se lewe te maak! Kontak Annemarie Bezuidenhout vir meer inligting by abezuidenhout@badisa.org.za en kry die spesiale uitnodiging met ’n verskil hier!
2. Jan Kriel Liggieboom

Teken gerus hierdie een aan! Die alombekende Jan Kriel Liggieboom vind vanjaar op Sa 22 November om 19:30 by Jan Kriel (Skoolstraat, Kuilsrivier) plaas. Toegang: R 10/kind en R 20/volwassene – kaartjies by Jan Kriel Instituut (021 903 0434). Jan de Wet tree saam met Jan Kriel se kinders op; bring jou piekniekmandjie en geniet ’n spesiale aand! Klik ook hier.


3. NG Gemeente Stellenbosch-Sentraal: Kersmark

Stellenbosch Sentraal (Martinsonstraat, Uniepark) se jaarlikse Kersmark vind vanaf 26 November tot 6 Desember plaas. Die mark fokus op goed verpakte, unieke Kersgeskenke. Die intieme atmosfeer, die betrokkenheid van al die gemeentelede en vriendelike uitstallers, maak hierdie mark iets besonders. Ma-Vry: 10:00-20:00, Sa: 10:00-17:00. Kontak Wendy by 021 883 3850.


4. NG Gemeente Somerset-Wes: Kersmark

NG Somerset-Wes (Andries Pretoriusstraat, Somerset-Wes) hou hul jaarlikse Kersmark in die kerksaal vanaf Vrydag 21 tot Saterdag 29 November. Tye: weeksdae 09:30 tot 19:00 en Saterdae 09:30 tot 15:00. 95 Uitstallers vir Kersinkopies, ’n verskeidenheid etes by die deli, koffie, tee en eetgoed in die teekamer. Almal welkom! Kontak Cicelia van der Poel by 073 173 1134.


5. Durbanville se D4J Kersliedere

Van Andre van Wyk (NG Durbanville) ontvang ons nuus oor die D4J Kersliedere op Sondag 7 Desember om 17:30 vir 19:00 by Avondale Gardens, Proteaweg 40, Durbanville. Almal welkom; bring jou eie piekniekmandjie en kuier saam. Toegang R 50 volwassenes, R 30 kinders, kinders onder 6 gratis. Klik hier vir die volkleur pamflet.


6. Kersfees in Kaapstad: Kerssangdiens in Groote Kerk

Gaan geniet 'n tradisionele Kerssangdiens in die hartjie van Kaapstad (hoek van Adderley- en Bureaustraat) op Sondag 23 November van 19:00-20:30 (voorprogram begin om 18:30). Tema: Christus is ons vrede. Optrede deur: Filharmoniese Koor van Kaapstad; Stadskoor Tygerberg; Cape Town Highlanders; Hoër Jongenskool Paarl-koor; Groote Kerk Kamerorkes olv Lucia Scott; Windworks; George Stevens; Richard Haig; Roucher du Toit.


7. NG Gemeente Prince Alfred’s Hamlet: Gydosig Liggiefees

Die Gydosig Aftreeoord se Liggiefees vind vanjaar weer op 28 en 29 November plaas. Uit die kerkkantoor laat weet Beaulah die hele terrein sal ’n fees van liggies wees! Hope heerlike eetgoed! Hekke open 18:00, toegang R 10 pp. Onthou gerus ook die Kerssangdiens op Sondag 30 November om 19:00 in die kerkgebou (Kerkstraat). Navrae: Beaulah by 023 313 3694.



VAKATURES

Vakatures op Kerkbode se webblad

Heelwat vakante poste oor die land heen is tans beskikbaar. Die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante is by http://kerkbode.bybelmedia.org.za. Klik by Meer – Vakatures.

WÊRELDNUUS

Pous vra Rick Warren, Russell Moore, NT Wright oor Huwelik

Welbekende figure soos Rick Warren, leraar van die Saddleback Church, Russell Moore, president van die Ethics and Religious Liberties Commission en NT Wright is onder diegene wat deur Pous Fransiskus uitgenooi is om ’n evangeliese Protestantse perspektief op die huwelik en families te gee tydens ’n Vatikaanse gesprek van 17-19 November. Belangstellendes kan Christianity Today se berig hier lees.

Ten Laaste

Uit die Pen van ...

Hier kry ’n verskeidenheid stemme die kans om hulle gedagtes in woorde om te sit. Van ’n pastorale stem, ’n teologiese opmerking tot ’n ligte oomblik om met ander te deel. Gasskrywers neem op uitnodiging aan hierdie rubriek deel.


Lees gerus Gerrit Kritzinger (Uitvoerende Hoof, Bybelgenootskap van Suid-Afrika) se bydrae.
Die woordjie sela kom ongeveer 60 keer in die Psalms voor. Ons weet nie wat dit beteken nie. Die isiNdebele Bybel kon dit egter nie in die Psalms laat verskyn nie. Sela (uitgespreek “sêla”) beteken: "Drink!" Drink soos in drink! Wat 'n 60x feestelikheid sou dit nie kon afgee nie!c:\users\marieta\pictures\kritzingergerrit.png
Ons sê vandag sela en klink 'n glasie op elkeen wat in die bediening vasbyt ten spyte van die oppe en afs soos wat die Psalm-mense ook ervaar het.
Onthou Psalm 32:7: "U laat my oorwinningsliedere sing. Sela."
- Gerrit Kritzinger

VrydagNuus-groete.
Marieta Visagie
NG Wes-en-Suid-Kaapland Kommunikasie
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7195
Faks: 086 582 9487
kommunikasie@kaapkerk.co.za

-------------------------------------------------------------

UIT DIE MODERATUUR

KOMMUNIKASIE WES-EN-SUID-KAAP MODERATUUR


NOVEMBER 2014
Onlangse vrae en stellings oor die stemproses (Artikel 1)
Liewe Kollegas en Vriende
Die afgelope tyd het daar heelwat briewe en artikels oor die stemproses in die NG Kerk die rondte gedoen. Uit die terugvoering wat ons van lidmate ontvang het, blyk dit dat dit meer vrae as antwoorde gelaat het. In die lig hiervan het ons dit goed gedink om ’n paar verdere eenvoudige opmerkings ter verheldering te maak. Ons glo immers dat die gesprek voortgaan.
• Die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland het in 2011 met ’n oorweldigende meerderheid besluit om die Algemene Sinode te versoek om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te maak.

• Die Algemene Sinode van 2011 het hierdie versoek ontvang en besluit dat hulle die versoek ondersteun en het so ’n kerkordelike proses in werking gestel.

• Die Algemene Sinode van 2013 het besluit op die veranderde formulering van Kerkorde Artikel 1, wat voorstel dat die Belydenis van Belhar op ’n spesifieke wyse deel van die belydenisgrondslag van die kerk word.

• Die afgelope tyd het die volgende stemme onder andere opgegaan en ons antwoord kortliks daarop:


“Julle dwing iets op ons af.”

Die presiese teendeel is waar. As die sinode dit wou doen, is daar nie soveel moeite met die kerkordelike proses en die formulering van die voorstel gemaak nie. Die formulering was juis ’n eerlike en ernstige poging van die sinode om vir ons lidmate te sê dat ons nie sonder meer mense wil uitsluit of vervreem nie. Enigeen wat by die sinode van 2013 was, sal dit kan beaam. Die teendeel het baie jare gelede by Dordt gebeur toe meer as 200 predikante die kerk moes verlaat omdat hulle nie Dordt dadelik wou aanvaar nie. In ons gereformeerde tradisie glo ons in elk geval dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie.


“Julle maak Belhar minderwaardig.”

Dit is baie belangrik om te verstaan dat die voorstel die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van die kerk maak. Wanneer ’n dominee dus oor die waarhede wat deur die Belydenis aan die orde kom, wil preek of kinders die inhoud daarvan wil leer, word dit gedoen in ooreenstemming met die belydenis van die kerk. Ons beskou nie hierdie belydenis as minderwaardig nie. Wat wel waar is, is dat ons vanweë die unieke omstandighede waarin ons met Belhar verkeer (onthou: ons het eeue laas ’n nuwe belydenisskrif goedgekeur) met ’n versigtige en verantwoordelike proses besig is.


“Die VGK sal nooit julle besluit aanvaar nie.”

Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die die VGK nie. Daar is en was leidende stemme in die VGK, soos prof Russel Botman (net voor sy afsterwe) wat met groot begrip gepraat het oor die NG Kerk se besluit oor Artikel 1. Verder moet ons dit goed verstaan dat ’n mens nie ’n belydenis aanvaar of afwys ter wille van ander nie. Dit is ’n innerlike oortuiging of nie. Ons sê dit in die mooiste gesindheid. Wat ons nou doen, doen ons omdat ons glo dat dit die regte ding is wat ons nou kan en moet doen. Ons doen dit nie ter wille van die VGK nie. Ironies genoeg word daar tans in die kommentaar glad nie verwys na die NG Kerk in Afrika (NGKA) en Reformed Church in Africa (RCA) nie. Ons is oortuig daarvan dat Artikel 1 ook vir hulle ruimte laat om tuis te kom in ’n groter NGK-familie.


“Die leiers het besluit en is verwyderd van die mense.”

Hierdie is ’n moeilike een. Die vraag is: wie is hierdie mense? Daar is tans baie sterk opponerende stemme in die kerk. Mense het gewaarsku dat die kerk kan skeur as ons Belhar aanvaar. Tans vrees ons dat die kerk kan skeur as die kerk dit NIE aanvaar nie. Met die huidige proses gaan die kerk uit sy pad om die mening van lidmate te toets.


Daar is selfs diegene wat ons daarvoor kritiseer deur te sê dat ons nou van die kerk ’n demokrasie gemaak het en besig is om ’n referendum te hou. Nog nooit in die geskiedenis van die kerk is daar so wyd deur lidmate oor ’n saak gestem nie.
Wat die proses egter wil doen, is om beide die profetiese taak wat aan die leierskap (insluitende kerkrade) toevertrou is te balanseer met die inset van lidmate. Dit is ’n komplekse proses en ons kry inderdaad soms mense wat die proses enersyds wil interpreteer asof die mense die laaste sê het en andersyds asof die leiers al die sê het. Nie een van die standpunte is korrek nie. Uiteindelik is dit ons almal se verantwoordelikheid om Christus se wil te onderskei. Ons doen dit op die mees uitgebreide basis moontlik.
“Julle mislei die mense.”

Die leiers en die sinode se posisie is duidelik. Ons wil graag hê dat die Belydenis van Belhar aanvaar word, omdat ons meen dat dit die waarheid van die Evangelie dien en daarom vir die kerk en die land baie kan beteken. Ons stel voor dat dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk moet wees, maar sal niemand verguis of wegjaag wat dit nie wil aanvaar nie. Ons meen dat daar niks onduidelik of oneerlik aan die standpunt is nie. Ons het dit reg van die begin af gesê en sê dit steeds.


“Hoe kan ons stem oor iets wat in elk geval opsioneel is?”

Dit is nie opsioneel nie. Dit word deel van die belydenisgrondslag van die kerk. Ons stem nie oor niks nie, maar oor ’n baie spesifieke hantering van die Belydenis wat ons meen die eenheid in die kerk ten beste kan bewaar. Ons sê nie die formulering van Artikel 1 is perfek nie. Tydens die Algemene Sinode was daar ook heelwat stemme uit die Wes-en-Suid-Kaap wat ongelukkig was oor die formulering van die voorstel. Tog het ons berus, omdat ons glo dat dit nou die beste manier is om die saak op ’n verantwoordelike manier te hanteer.


“Julle gaan binnekort die ander belydenisse ook opsioneel maak.”

Ons meen dat hierdie moedswillige stellings is van mense wat eintlik ’n ander agenda het. Die relativering van ons bestaande belydenisskrifte is nie op die tafel nie. Enigiemand wat dit wil beweer, is met ’n verdagmakingsproses besig wat nie die waarheid dien nie. In geeneen van die vergaderings waarin ons in soveel jare oor Belhar was, is hierdie moontlikheid al genoem, voorgestel of selfs net gesuggereer nie. Waaroor ons wel ernstig dink, is oor watter rol belydenisskrifte vandag in ons lewe as ’n belydende kerk behoort te speel. Hieroor behoort ons in hierdie dae ernstig met mekaar te bly praat.


Intussen wil ons almal betrokke versoek om so eerlik en verantwoordelik as moontlik met stellings en feite oor die Belydenis om te gaan. Ons herinner aan ons skrywe van ’n paar maande gelede. Ons versoek weer dat die proses biddend, onderskeidend, met wedersydse respek en in liefde sal plaasvind.
Groete in Christus.
Braam, Nelis, Monty, Elize, René, Frik, Melanie en Quintus

Terug na Hoofblad.


--------------------------------------------------------

THE FUTURE OF MISSIONAL THEOLOGY AND MISSIONAL CHURCHES


Theme: The Future of Missional Theology and Missional Churches

Dates: 19 January till 21 January 2015

Time: 10:00 – evenings until ±18:00; Last day till 13:00

Venue: Faculty of Theology, Stellenbosch University

Cost: R500 (including lunches and refreshments)
Accommodation and travel: Own responsibility
Inquiries: Frederick Marais at jfm@sun.ac.za
The missional church conversation (though we might in some places use different terminology), is a broad and urgent conversation and we have the impression that most of us are in some or other way involved in it. The report of the World Council of Churches (WCC) on this theme confirms the importance of the conversation. In SA the DR Church, for instance, took a formal decision during our last Synod meeting stating that we want to be a missional church with missional congregations. While most of us are grateful for the decision we must now implement it – and that, we realize, is another ball-game.
So we suggest that we have a broader open conference during the time we meet with participants from different churches in SA (and from elsewhere!)
Preliminary Programme

(we hope to send a final programme in a month’s time; some of the speakers must still be finalized and could change)


PART 1: THE HISTORY AND ROOTS OF THE MISSIONAL MOVEMENT

• The background and roots of the current Missional Movement – Darrell Guder

• The place of the missional movement in the Ecumenical Church – Jerry Pillay /Mvume Dandala

• The history and current state of the missional movement in the US – Pat Keifert

• The history and current state of the missional movement in Germany – Michael Herbst(?)

• The history and current state of the missional movement in the UK – Graham Cray

• The history and current state of the missional movement in South Africa – Coenie Burger

• The history and current state of the missional movement in Scandinavia – Harald Haegstad (?)


Responses and round table session: What have we learnt – Panel of Dirkie Smit, Pat Keifert, Darrell Guder.
PART 2: WHERE SHOULD WE BE GOING?

• The Future of Missional Theology: Dangers and Possibilities – Dirkie Smit

• The Future of Missional Theology: Dangers and Possibilities – Pat Keifert

• The Future of the Missional Movement and Missional Churches – Darrell Guder

• The Future of the Missional Movement and Missional Churches – Stephan Paas
Afternoon: Four of five parallel workshops
Late afternoon: Responses and round table panel session: What have we learnt?
PART 3: HOW DO WE TAKE THE MISSIONAL PROCESS INTO DENOMINATIONS?

• Experiences with denominations in the US - Pat Keifert and Stanley Green

• Experiences with denominations in the UK – Graham Cray and Nigel Rooms

• Experiences with denominations in SA – Nelus Niemandt and Frederick Marais


Panel discussion.

Terug na Hoofblad.

--------------------------------------------------------

NG WES-EN-SUID-KAAPLAND SINODE 2015

BEKENDSTELLING – KOMPETISIE
Die NG Kerk in SA (Wes-en-Suid-Kaapland Sinode) stel met trots ’n kompetisie bekend om ’n nuwe embleem (logo) vir die Sinode – en spesifiek vir gebruik tydens die komende sinodesitting van Mei 2015 – te ontwerp.
In die gees van Kaapstad as Wêreld-ontwerphoofstad 2014 nooi ons alle geïnspireerde en kreatiewe siele om hieraan deel te neem. Dit is ’n unieke geleentheid vir alle belangstellendes, van studente en innoveerders tot kunstenaars en grafiese ontwerpers, om te deel in die beplanning van Mei 2015 se sinodesitting.
Die kompetisie bied deelnemers ook die geleentheid om die gesig van ons Sinode, die rol van die Kerk in die samelewing, sowel as die waardes wat dit voorstaan te versinnebeeld. Ons vertrou dat belangstellendes hierdeur geïnspireer sal word tot deelname en eienaarskap van die fokus en waardes van ons sinode.
Die logo moet herkenbaar wees en help om ons fokus op sekere geïdentifiseerde prioriteite (sien onder) te bevorder. Die res word aan deelnemers se verbeelding oorgelaat … laat jou gedagtes gaan, wees kreatief en geniet die ontwerpproses!
Die kompetisie duur vanaf 3 Oktober 2014 – 17 November 2014, gevolg deur ’n omvattende proses van keuring en beoordeling (deur ’n paneel bestaande uit die Sinodale Taakspan vir Sinode 2015 en enkele kundiges), sowel as ’n stem-proses waaraan enige belangstellende kan deelneem en ook ’n rol speel om die wenners te bepaal. Die aankondiging van die wenner vind in VrydagNuus van 5 Desember 2014 plaas, met die implementering van die wenontwerp direk daarna.
Pryse:

Die persoon wie se ontwerp as wenner aangewys word, wen ’n luilekker bootreis vir twee, met sakgeld vir die rit! Benewens hierdie spesiale prys, het die wenontwerp die potensiaal om vir ’n geruime tyd in die toekoms die handelsmerk van die Sinode te wees. Die naaswenner sal ’n lekker kontantprys losslaan.


’n Stemming, een onderafdeling van die aanwys van ’n wenontwerp, sal vanaf Donderdag 20 November 2014 plaasvind. Dit bied belangstellendes wat vir die korrekte wenner gestem het, ’n gulde geleentheid om kontant, boekpryse en meer te wen. Die stemming sluit op Maandag 1 Desember 2014 om 12:00.
Meer inligting oor bepalings en voorwaardes, sowel as algemene reëls is by http://www.kaapkerk.co.za/wp/index.php/sinode-2015/

Inskrywingsvorms is ook beskikbaar op http://www.kaapkerk.co.za/wp/index.php/sinode-2015/ of kan aangevra word by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Riglyne sluit in:

Oorspronklik: Logos moet oorspronklik geskep wees deur die deelnemer(s). Logo’s mag nie grafiese voorstellings wat voorheen gelisensieer of gepubliseer is, bevat nie. Logos kan dus geen element met kopiereg daarop bevat nie.
Kleur: Deelnemers word glad nie gebind deur enige huidige/vorige embleme/voorstellings of die kleurgebruik daarin nie. Die logo moet egter in beide kleur (indien enige) of swart-en-wit goed en professioneel vertoon.
Waardes en beeld: Die logo moet inpas by die aard, etos en beeld van die Sinode.
Kwaliteit: Die logo moet geskik wees vir gebruik op die Sinode se webblad, ons sosiale media platforms en ander mediums (skryfbehoeftes, pamflette, T-hemde, ens.) As gevolg hiervan, spreek dit vanself dat die logo, hoewel dit beslis opvallend moet wees, terselfdertyd maklik herkenbaar en leesbaar moet wees. Dit moet ook maklik herproduseerbaar en aanpasbaar wat grootte betref, wees. Vektor-formaat (.tiff) sal verwelkom word, maar is nie ’n voorvereiste nie.
Tema: Die logo se ontwerp moet universeel en inklusief van aard wees. Die volgende temas is onder andere geïdentifiseer as prioriteite van die sinode en een of meer van hierdie temas moet as basis van die ontwerp dien:

Missionale kerkwees (Gestuurdheid)

Armoede

Jeug

Menswaardigheid
Simboliek: Elke inskrywing moet vergesel wees van ’n getikte A4-dokument (een bladsy maksimum) met ’n volledige uiteensetting van die simboliek van die embleem.
* Die Sinode behou die reg om die wenontwerp deur ’n grafiese ontwerper te laat oorteken (byvoorbeeld in vektor-formaat waar van toepassing) en aan te pas volgens eie oordeel.

Terug na Hoofblad.


----------------------------------------------------------

TOBIAS JOHANNES DE CLERCQ


Gemeentes:

• NG Gemeente Riviera, Pretoria: 1952 – 1956

• NG Gemeente Paarl (Strooidak): 1956 – 1962

• NG Gemeente Bredasdorp: 1962 – 1964

• NG Gemeente Aasvoëlkop: 1964 – 1970

• NG Moedergemeente Stellenbosch: 1970 – 1990


Student op Stellenbosch:

• Lid van die Studenteraad: 1947 – 1949 en 1951 Voorsitter van die Studenteraad: 1949 en 1951.

• Die eerste Huisvergadering van Huis Visser is gehou op 3 Maart 1949 onder voorsitterskap van mnr Tobie de Clercq (eerste primarius van Huis Marais).
• Moederkerk: In 1973 adviseer hy Leo Theron omtrent die ontwerp en temas van die gebrandskilderde ruite van die kerkgebou. Temas van die vensters is o.a. al die “Ek is” uitsprake van Jesus, die tema van Hoop, uit die boek Openbaring, die sakramente van die Nagmaal en Doop, en die tema van die voorsienende Liefde van God waarvan die laaste twee in 1998 ingebou is. Die projek is entoesiasties deur die gemeente ondersteun.
• Kerkeenheid 1986: Groot rol gespeel om kerkeenheid tussen die gemeentes van die NG Moedergemeente, NG Sendingkerk en die Volkskerk van Afrika te bewerkstellig. Dit het dadelik 'n baie goeie uitwerking op verhoudinge gehad, soseer dat oom Tobie genooi is om die Volkskerk van Afrika se Sinode toe te spreek. Sy standpunt was “Hoe meer ons met mekaar praat, hoe meer dink ons dieselfde, hoe meer skep ons blywende verhoudinge en hoe meer stel ons in mekaar belang. Dit is vir my die opwindendste.” Die gevolg was dat ons kerke begin gesels het en besluit het om gesamentlike ringsittings te hou.
• Bydrae tot die geskiedenis van die Stellenbosch Moederkerk: In 1986 vier die Gemeente ook sy 300-jarige bestaan waartydens hy die plaket met die name van die 29 leraars by die kerk onthul. Hy ontvang ook saam met oud- en medeleraars die boek Drie Eeue van Genade deur prof FC Fensham van die Stellenbosse Kweekskool, waarin die prediking in die Moedergemeente oor die afgelope drie eeue bespreek word.
• Bevorder Rasseverhoudinge: In April 1989 lewer hy 'n bydrae om gemeentelike samewerking tussen die Moedergemeente, die gemeente Welgelegen en die Rynse NG Sendingkerk te bevorder deur 'n gesamentlike kerkbyeenkoms op Coetzenburg, 'n gesamentlike konsert in die Endler-saal en 'n kermis op die terrein van die ou Laerskool Bloemhof te hou. Predikante van die drie gemeentes het deelgeneem aan die diens die Sondag wat deel gevorm het van die aksie Christus vir 'n gelukkige Suid-Afrika wat die NG Kerk in Wes-Kaapland daardie jaar onderneem het. “Die afgelope 300 jaar was die klem op die godsdiensbelewing binne die eie kerk eerder as op die ekumene. Met die gesamentlike naweek tussen gemeentes van die NG Kerk en die NG Sendingkerk wil ons die twee kerke op plaaslike vlak nader aan mekaar bring,” het ds De Clercq gesê.
• Emeritaat aanvaar: April 1990. Dien dan vir die volgende paar jaar as koster by die Moederkerk.
Dr Clifford Heys

11 November 2014

Terug na Hoofblad.
--------------------------------------------------------

NG GEMEENTE DURBANVILLE

KERKE SE ROL IN VERSOENING IN SA
Die bediening Dade van liefde van die NG Kerk Durbanville het vir prof Piet Meiring, wat op die Waarheids- en Versoeningskommissie gedien het, genooi om op Donderdag 27 November gelowiges toe te spreek.
Die vraag aan prof Meiring is: “Die kerke wat voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig het, het onlangs erken dat hulle nie genoeg gedoen het om die werk van die kommissie verder te neem, soos hulle in 1997 beloof het nie. Maar hulle het opnuut onderneem om die versoening en restitusie wat ons land moet heel, op te volg. Wat is die dade van liefde wat Christene kan doen om gestalte te gee aan ons versoeningstaak? Watter rol kan die kerk vorentoe speel in die heling van ons land?”
Na prof Meiring se inset, sal daar ruim te tyd vir vrae en bespreking wees. Alle kerke word uitgenooi om deel te neem aan hierdie gesprek, sodat die verskillende kerke saam kan besin oor die rol wat die kerk kan speel om versoening en heling in ons gemeenskap te bewerkstellig.
Hierdie gesprek vind plaas om 19:00 in die gemeentesentrum van die NG Kerk Durbanville, op die hoek van Kerkstraat en Weyerslaan. Dit is gratis en enige iemand is welkom. Vir meer inligting, kontak die kerkkantoor by 021 975 6370.

Terug na Hoofblad.


--------------------------------------------------------

BYBEL-MEDIA

JOU BEDIENINGSVENNOOT IN 2014
Nuusbrief 18/2014
Jongste Bybelkor-publikasie
Belydenis van geloof – Gespreksgids.
Verrassende veelkleurige fasette van geloof
Die uitgangspunt van hierdie gespreksgids is dat Christen-wees oor verhoudings gaan. Daar is veral vyf belangrike verhoudings waarin ons as gelowiges elke dag leef: ons verhouding met God, ons verhouding met onsself, ons verhouding met die breë kerkverband, ons verhouding met ons gemeente, en ons verhouding met ons omgewing. In hierdie boek fokus ons op verskillende aspekte binne elk van dié verhoudings.
Belydenis van geloof bevat vyf gespreksgeleenthede wat dien as ʼn inleiding tot elke onderwerp. Ná elke gespreksgeleentheid is daar ses selfstudies wat die leser begelei om verder oor die onderwerp na te dink.
Vir volwassenes wat belydenis van geloof wil aflê, is hoofstuk 6 – “Só glo en bely ek” – ingesluit. Tydens hierdie gespreksgeleentheid word die vrae wat tydens belydenis-aflegging gevra en beantwoord word, uiteengesit en bespreek.
Prys: R55.00 (BTW en posgeld ingesluit). Reeds beskikbaar.

Kruisgewys en Nuwe Harte-bylaag
Verlede week is twee ander belangrike publikasies saam met die Kerkbode aan elke leraar gestuur.
Kruisgewys 14/4 fokus op ’n Veerkragtige bediening. Die Nuwe Harte-bylaag fokus op menswaardigheid – nuwe harte omarm mekaar. Dié twee publikasies verdien om gelees te word – dit raak die daaglikse bedieningsaktiwiteite.

Bybel-Media/Cordis Trust-prys


Cordis Trust stel Bybel-Media in die besonder gunstige posisie om die Bybel-Media/Cordis Trust-prys vir die tweede keer in 2015 toe te ken. Die pryswenner sal, soos vanjaar, ’n kontantbedrag en oorkonde ontvang.
Oorspronklike Afrikaanse christelike publikasies wat in 2013/14 verskyn het, kom in aanmerking. Die prys word toegeken aan die beste inskrywing/publikasie in die kategorie gesin-, jeug- of jonger kinderpublikasies.
Uitgewers en indiwidue wat publikasies wil inskryf, kan dit doen vóór 3 Desember. Kontak Amanda v/d Westhuizen by amanda@bmedia.co.za of skakel 021 864 8231 vir volledige inligting.

Lees in die Desember/Januarie-uitgawe van LiG:


Elvis Blue het ’n goeie jaar agter die rug. Hy het dus rede om fees te vier. Maar wanneer hy sy jaar afsluit, sal dit as Jan Hoogendyk wees – Chireze se man, Lila en Jua se pa. LiG het saam met die gesin gaan piekniek hou, en oor Kersfees, musiek en sukses gesels.
Lees ook:

• Feestyd!

• Gasvry en goedkoop – hier’s ’n plan!

• Slim geskenk-idees vir (slim) kinders

• Van verslawing na vryheid – Kerstafelgaste vertel

• Beloftekalender 2015


Inligting, navrae en diensverskaffing:
• Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8200

• Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

• Of koop direk met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za
Groete uit Wellington.
Hans Steyn

Bybel-Media

E-pos: hans@bmedia.co.za

Tel: 021 864 8223



Terug na Hoofblad.
--------------------------------------------------------
Yüklə 83 Kb.

Dostları ilə paylaş:




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©muhaz.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

gir | qeydiyyatdan keç
    Ana səhifə


yükləyin