Omdat die samesweringswêreld so 'n deurmekaarspul is en daar duisende samesweerders en tienduisende anti-samesweerders, en net soveel kritici en spotters is, is samesweringsliteratuur moeilik om te verstaan. Dit is nie net moeilik om te verstaan vanweë die uiteenlopendheid van standpunte nie, maar ook vanweë die wyse en verskeidenheid van benaderings. ‘n Werklike samesweerder kan byvoorbeeld ‘n samesweringsteorie die lig laat sien om die werklike sameswering te verbloem. Of hy kan kritiek op sy eie sameswering gee, wat dit totaal belaglik maak. Netso kan opponente wat sameswerings wil ontbloot beide van direkte en indirekte metodes gebruik maak om die teikensameswering aan te val. Die gevolg is ‘n versameling van literatuur wat die kritiese leser ongemaklik maak aangesien hy onraad vermoed wanneer hy dit lees, maar nie ‘n vinger op die probleem kan lê nie. Die probleem word deels verhelp indien mens weet uit watter ‘kamp’ of agtergrond of politieke oriëntasie die skrywer kom en of hy sy opinies direk uitspreek en of hy op ‘n subtiele manier skryf om ‘n verskuilde doelwit te bereik.