Die situasie in Afrika is baie broos. Daar is heelwat state wat die gevaar loop om te faal en internasionale magte is nie bereid om terwille van Afrika op te tree nie. Intussen bewapen die verskillende partye in Afrika hulleself by elke moontlike geleentheid deur die aankoop van konvensionele wapens. ‘n Baie groot deel van ontwikkelingsfondse vind sy pad terug na verdediging of die private buitelandse bankrekenings van Afrika leiers. Ekonomies verarm die state in Afrika en daar is nie fondse beskikbaar om strukture in stand te hou vir die beslegting van konflikte nie. Te midde van baie korrupsie en streeksmisdaad, asook die verswakking in gesondheid en opvoeding, is daar nog ‘n toename van mense wat deur konflikte en oorloë ontwortel is. In groot dele bestaan daar erge voedseltekorte en die streek is pateties afhanklik van buitelandse hulp, wat grootliks deur nie-regeringsinstansies die lande binnekom. Hoewel daar by sommige van Afrika se leiers ‘n begeerte is tot multilaterale samewerking, word die tendens ondermyn aangesien daar nie behoorlike konflikhanteringsmeganismes en -strukture is om dit te hanteer nie. Daar is ook inherente verskille tussen die verskillende groepe wat nie weg gewens kan word nie en daar bestaan nie ‘n gesamentlike politieke wil of finansies om sulke meganismes, soos byvoorbeeld ‘n vredesmag, op die been te bring en te onderhou nie.
Binne hierdie breë agtergrond het Suid-Afrika ‘n paar breë buitelandse beleidsdoelwitte wat nagestreef word (Ons visie vir Afrika):
Ekonomiese groei wat die mense van Afrika bevoordeel
Met inagneming hiervan is verskeie toekomsscenario’s vir Suider Afrika ontwikkel. Hulle beskryf verskillende paaie vir die toekoms en dui aan hoe ontwikkelinge in die toekoms kan plaasvind. Teen die agtergrond van suidelike Afrika se hutspot van swak demokrasieë, groot wanverhoudings in terme van lewenstandaarde, die aanslag van HIV/VIGS, dreigende watertekorte, vlugtelinge, onstabiele stedelike gebiede en verdere internasionale marginalisering van die streek lyk die toekomsscenario’s vir die streek soos volg:
Die gevaar-voor-scenario: Hier word ‘n Egoli-enklave voorsien wat omring word deur ‘n boog van swak state en ‘n verdere boog van krisis. Die Federasie van Egoli sal poog om op eie stoom verder te ontwikkel terwyl ontwortelde vlugtelinge, bende-oorloë, magsbehepte leiers en die plundering van die omgewing voortduur. Internasionale maatskappye wat in Afrika werk, hanteer hulle eie sekuriteit. Elite groepe in die mislukte state vorm alliansies met die magtige kriminele leiers. Daar is geen sprake van toerisme nie en baie geld word aan wapens spandeer. Daar is geen sprake van ‘n streekswye benadering nie. Die Egoli-enklave is onder konstante druk van die onstabiele noordelike streke. Die private sektor verswak en die streek onttrek al hoe meer uit die wêreldwye gemeenskap. Die streek verdeel in twee en VIGS eis ‘n ontsettende tol.
Die winsbejag-scenario: Die hele streek laat die privaatsektor vry om ongereguleerd te funksioneer en die streek word oorval met groot maatskappye wat wil besigheid doen, tot so ‘n mate dat besigheid effektief beheer uitoefen oor regerings se beleid. Daar is groei, maar sonder werkskepping en arm mense in die land ly steeds. Globale korporasies neem diensteverskaffing oor, en omkopery en korrupsie is aan die orde van die dag. Vakbonde word onderdruk en die omgewing word geplunder en selfs die ekonomie word geplunder deur winsjagters. VIGS eis ‘n groot tol.
Die visionêre leierskap-scenario: Die streek hang die “African Renaissance” model aan en sterk demokrasie word stewig gevestig in die streek. Vroue begin om ‘n belangrike rol te speel en daar kom ‘n balans tussen gemeenskapsbelange en besigheidsbelange. Baie klein besighede word van stapel gestuur. Daar word ‘n effektiewe strategie gevind vir die bekamping van VIGS. Die staat versnel opvoeding en onderwys en Suid-Afrika word ‘n verspreider van inligtingstegnolgoie in die streek. Daar is ‘n sterk streeksbewussyn wat ondersteun word deur streeks water- en elektriese netwerke. Ekotoerisme floreer. Suid-Afrika se dominate posisie word erken.
Die stadige veragting-scenario: Daar is agteruitgang en korrupsie deur die hele streek. Diktators, wat hulleself bevoordeel, word aan die bewind gehou deur militêre geweld en die korrupte leiers slaag daarin om lank in regering te bly. Die pers word aan bande gelê en verkiesings word gemanipuleer. Misdaadsindikate speel ‘n groot rol. Minerale word ontgin maar glad nie veredel nie. Beleggers word gaandeweg afgeskrik en die streek word ‘n stortingsterrein vir goedkoop produkte.
Die oorlewing-selfaangewese scenario: Die state in die streek funksioneer as demokrasieë maar die mense is nie geïnteresseerd in politiek nie. Mense sorg net vir hulleself, en daarvoor gebruik hulle hulle eie inisiatief. Buitelandse hulp kom wel die land binne, maar word gekanaliseer deur NGO’s. Mense trek terug na hulle eie gemeenskappe en voel veiliger en beter af daar. Mense neem soms die reg in eie hande. Die integrasie van state in die streek is swak.