Deur die eeue het baie verskillende strategieë van oorlogvoering reeds ontwikkel en gewoonlik is dit die groep wat ‘n nuwe strategie kan toepas of gou by nuwe omstandighede kan aanpas wat die beste kans het om ‘n oorlog te wen. Die klassieke strategie op grond waarvolgens die twee wêreldoorloë geveg is, is dié van Clausewitz, wat daarop gemik is om jou maksimum poging te fokus op die grootste magskonsentrasie van die vyand. Die uitslag van die geveg sal die uiteindelike besluit bepaal. Iemand soos Hart stel voor dat die vyand eers verstrooi moet word deur alle moontlike indirekte metodes, en dat die vyand op alle maniere verras moet word. Sterk, gefokusde aksie moet dan op die vyand se swak plekke geneem word en die besluit word dan soms geneem in gevegsaksies weg van die hoofslagveld. Mao Tse-Tung het geleer dat magte moet terugtrek wanneer die vyand aanval, opvolg wanneer die vyand terugtrek, val met mag aan op enkele punte en trek terug, leef vanaf die vyand en noue samewerking met die bevolking. Lenin en Stalin het beklemtoon dat die mense en die leër sielkundig aan mekaar verbonde moet wees en dat vooraf sielkundige aksies van die allergrootste belang is. Die strategie wat die wêreld oorheers het na die tweede wêreldoorlog was dié van die magsbalans onder die dreigende sambreel van versekerde wedersydse kernuitwissing. Geeneen van die moondhede kon dit waag om direk as aggressor op te tree nie, want ‘n kernoorlog sou beide kante, en ‘n groot deel van die wêreld daarmee saam uitwis. Daarom is die sogenaamde “koue oorlog” gevoer en die stryd is op indirekte wyse gevoer soos byvoorbeeld in Viëtnam, Korea en in Afrika. Amerika, die wêreld se enigste supermoondheid vandag, se huidige strategie kan beskryf word as dié van vorming ("engagement, shaping") van wêreldgebeure deur politieke en ekonomiese mag om hul wil af te dwing en as dit nie werk nie – magsprojeksie. Hulle redenasie is dat dit baie goedkoper is om deur middel van diplomasie en ekonomiese drukmetodes konflikte te probeer wegbestuur, as om later militêr te moet ingryp.