Namibië is ‘n droë landstreek met oor die 570 km kuslyn aan die Atlantiese Oseaan. Dit was ‘n Duitse Protektoraat vanaf 1884 en is in 1914 deur Suid-Afrika beset. In 1925 is beperkte selfregering aan Suidwes-Afrika toegestaan en in 1941 het die VN ‘n versoek van Suid-Afrika om Suidwes te annekseer van die hand gewys. In 1966 het Suid-Afrika betrokke geraak in die stryd teen SWAPO, wat uiteindelik uitgebrei het tot die oorlog in Angola en Kuba, en in 1990 het Namibië onafhanklik geword. Hoewel SWAPO Marxistiese sentimente gehad het, het die SWAPO-regering nie ‘n Marxistiese regeringsmodel aanvaar nie, maar dié van ‘n veelparty-demokrasie en ‘n gemengde ekonomie. Dit het gelei tot ‘n relatief stabiele demokrasie.
Die land het groot bronne van diamante, uraan en ander minerale wat die hoofbron van inkomste is. Ekonomiese vooruitsigte is goed indien die regering korrupsie kan beperk, en ook effektief kan werk aan die meer gelykmatige verdeling van rykdom. In Namibië is daar ook ‘n landherverdelingskwessie.
Namibië ly onder die burgeroorlog in Angola aangesien daar ‘n oorspoeleffek op die grens tussen die twee lande is. In 1999 het Namibië die MPLA van Angola toegelaat om vanuit Namibiese grondgebied oorgrensoperasies teen UNITA uit te voer. Dit het gelei tot UNITA-vergeldingsaanvalle op toeriste in die Caprivi-strook. Namibië het gedurende 1998/99 soldate gestuur om President Laurent Kabila van die DRK te steun, wat ‘n baie groot las op die land geplaas het. Die Caprivi is onrustig aangesien daar politieke dryfkrag tot sesessie is, wat Namibië nie wil aanvaar nie. Daar is gespanne verhoudinge met Botswana as gevolg van ‘n grens- en waterdispuut. Namibië sit verder met ‘n groot werkloosheidsprobleem.