Suid-Afrika bevind hom te midde van ‘n vinnig veranderende wêreld, wat baie kompleks is en waarin ekonomiese kompetisie ‘n sleutelbegrip is. Twee breë tendense word sigbaar, naamlik globalisering en teenstand teen globalisering, wat sal lei tot groepe van lande wat suksesvol aan globalisering deelneem, en lande wat toenemend in isolasie inbeweeg. Drie magsblokke ontwikkel in die wêreld rondom die VSA, die EU en Asië, maar onder hulle speel die VSA die mees dominante rol, wat soms baie onaangename gevolge inhou vir die res van die wêreld. Die omstandighede in die ontwikkelende wêreld is baie problematies en dié lande het bitter min beweegruimte en sal ‘n onbeduidende rol in die toekoms speel, en state wat nie sinvol in die wêreldekonomie geïntegreer kan word nie, kan tot so ‘n mate gemarginaliseer word dat die state in duie kan stort.
Heelwat brandpunte en konflik bly in die wêreld voortbestaan naamlik: die China’s, Noord- en Suid-Korea, Indië en Pakistan, Rusland, Iran (intern), Irak, Indonesië. Rusland (met ‘n begroting ongeveer soos die stad New York) het baie interne probleme, wat dit op sigself ‘n kruitvat maak, soos byvoorbeeld misdaad, korrupsie, onvermoë om die ekonomie om te skakel na ‘n vryemarkstelsel, politieke stelsels wat nie behoorlik leiding kan verskaf nie en die groot innerlike sterkte van die Russiese mense.
Die beginsels van demokrasie bestaan nie op die globale vlak nie. Die tafel is so gedek dat dit slegs die ontwikkelde lande bevoordeel en die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds bevorder grootliks Westerse belange. Ontwikkelende lande wat nie wil saamwerk nie, sal eenvoudig uit die pad gevee word. Die makrofaktore wat dit te weeg sal bring, is dinge soos die wêreldwye handel met oorweldigende kapitaalvloei, die effek van inligtingstegnologie, georganiseerde misdaad en internasionale terrorisme – ook kuberterrorisme en informasieoorlog.
Interessante tendense in Afrika is die Anglo-Franse samewerking ten opsigte van hulle vorige kolonies. Frankryk se beleidsklemverskuiwing deur betrokke te raak by vredesituasies en so ‘n invloed uit te oefen is in teenstelling moet die VSA wat sku is om betrokke te raak. Daar is ook hernieude belangstelling van China in Afrika, asook toenemende Russiese wapenverkope.
Aangesien daar nog heelwat ekonomiese belange van groot moondhede in Afrika is, is dié lande se inligtingsgemeenskappe steeds aktief in Afrika. Die beeld van die VN en die OAE is aansienlik geskaad in Afrika vanweë hulle onvermoë om resultate te bereik in vredessendings in Afrika. Die OAE probeer baie hard om streeksorganisasies te manipuleer om streeks-vredesverantwoordelikhede oor te neem. Die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds is ook belangrike spelers in Afrika, maar hulle doelstellings is meestal meer polities van aard as ekonomies. Die indruk bestaan dat die VSA die Wêreldbank gebruik om sy eie belange te bevorder. Die ervaring in baie Afrika lande was dat die srukturele hervormings wat die Wêreldbank as ‘n voorvereiste vir finansiële hulp stel, groot sosiale probleme soos massaafdankings tot gevolg het, wat weer tot sosiale onstabiliteit lei.
Terwyl die res van die wêreld voortgaan om Afrika te marginaliseer, is dit baie keer in Afrika state juis die regerings wat die grootste bedreigings vir hulle onderdane is. Vir baie state beteken die woord ‘nasionale veiligheid’ eenvoudig die veiligheid van die regerende elite en dit skep ‘n onhoudbare situasie vir die mense.
Die Suider-Afrikaanse streek is onstabiel, met Angola en die DRK as mislukte state. Militêre aksies gaan voort in albei die areas en herbewapening en heropleiding vind voortdurend plaas. Die harde houding van die MPLA–regering teenoor UNITA sal net die konflik verder verleng. In Zimbabwe versleg die toestand voortdurend, veral as gevolg van die outoritêre houding van President Mugabe. Hoewel Zimbabwe nie werklik sy steun aan die DRK kan bekostig nie, hou hy daarmee vol en dit is een van die redes waarom die Internasionale Monetêre Fonds lenings van Zimbabwe terughou.
In die streek word steeds wapens aangekoop op ‘n redelike groot skaal en dit wil voorkom of die houdings van die state verhard om meer offensief as defensief te wees. Benewens Suid-Afrika het slegs Zimbabwe en Angola redelik gebalanseerde konvensionele vermoëns, maar almal se vermoë om mag te projekteer is baie beperk en die effektiwiteit van al die magte is onder verdenking. Angola het getoon dat ‘n magsopbou baie vinnig kan geskied.
Die ekonomieë van die state in die SAOG is almal op die afdraande pad en daar is nie los fondse beskikbaar wat aangewend kan word vir konflikoplossing nie. Korrupsie speel ‘n groot rol in die meeste lande, asook substreekmisdaad. Die getal mense wat deur oorlog en konflik geraak word, is besig om te groei en daar is ‘n algemene agteruitgang in gesondheid en opvoeding. Selfs die voedselsituasie is dikwels kritiek en baie keer afhanklik van buitelandse humanitêre hulp.
Daar is ‘n groot behoefte aan multilaterale veiligheidsamewerking in die streek, maar talle faktore werk daarteen. Daar is nie effektiewe konflikhanteringsmeganismes in plek nie, en elke krisis wat opduik openbaar die verskille in die streek. Daar is ‘n behoefte aan ‘n brigade- grootte vredesmag in die streek maar daar is nie die kollektiewe politieke wil of finansiële bronne om so ‘n mag te onderhou nie.