Wanneer verskillende godsdienstige groepe in een staat saamwoon, noem mens dit ‘n pluraliteit van godsdienste. Pluralisme verwys na die interaksies tussen godsdienste in ‘n land – hoe is hulle saambestaan? In so ‘n situasie kan twee tipes konflik voorkom, naamlik konflik tussen die verskillende godsdienste of konflik tussen die godsdienste en die staat. Daar is verskeie opsies wat ‘n staat kan uitoefen ten opsigte van godsdiens:
‘n Teokratiese staat. Dit sal waarskynlik onbillik wees teenoor burgers van die land wat aanhangers van ‘n ander godsdiens is.
‘n Ateïstiese staat. Kan waarskynlik vyandig gesind wees teenoor godsdienstige groepe.
Streng skeiding tussen die staat en godsdiens.
Die sekulêre staat waar daar wel ‘n skeiding is tussen staat en godsdiens, maar met ‘n gesonde interaksie tussen beide. Die Christelike kerk sien tradisioneel vir homself ‘n koninklike, priesterlike en ‘n profetiese rol – waar die profetiese rol onder andere behels dat die staat aangespreek word wanneer godsdienstige normes oortree word. Hierdie bepaalde houding van die staat gee dikwels aanleidng tot godsdienstige nasionalisme waar ‘n godsdiens meerderheid voel dat die sekulêre regering se neutrale houding teenoor minderheidsgodsdienste dié bevoordeel.