Godsdienstige konflik, selfs in ontwikkelde lande, is nie vreemd nie. Irrasionele konflikte met die staat, die gemeenskap en selfs ondenkbare massamoorde word steeds in hierdie tyd in die naam van godsdiens gepleeg. Godsdiens vorm ‘n deel van ‘n groep se identiteit, en baiekeer onderskryf dit boonop etniese verwantskappe en soms ook politieke strukture. Dit is dus duidelik dat aantasting van godsdienstige waardes mense baie diep kan raak en maklik tot konflik kan lei. Godsdiens maak dat sulke tipe konflikte uit ‘n bepaalde hoek beoordeel word, wat selfs tot ‘n fanatiese verdediging van die godsdiens kan lei. Vir die meeste godsdienstige konflikte is daar nie ‘n kompromieposisie moontlik nie en moet die groepe eenvoudig leer om mekaar te verdra. ‘n Mens kan maklik ‘n regering se dilemma begryp waar die staat ‘n tuiste moet verskaf vir wedywerende gelowe. Gewoonlik gaan dit gepaard met politieke magspel en uitbuiting van mense se godsdiensgevoel vir politieke doeleindes. Dit lei maklik tot godsdienstige konflik soos dié tussen Christene en Moslems in die middelstreke van Nigerië gedurende 2000.