1. DIE BESLUIT VAN 1857
Vir baie is die besluit net die woorde: “Die swakheid van sommige”. Om die besluit te herroep, is dit van belang dat die besluit in sy geheel hanteer word en die aanleidende faktore tot die besluit ook verreken word.
Die werklike besluit in 1857: “De Synode beschouwt het wenschelijk en schrifmatig, dat onze ledematen uit de Heidenen, in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geskieden kan; maar waar deze maatregel, ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak van Christus onder de Heidenen, in den weg zoude staan, de gemeente uit de Heidenen opgerigt, of nog op te rigten, hare Christelijke voorregten in een afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal.”
2. AANLEIDENDE FAKTORE TOT DIE BESLUIT IN 1857
Prof WP Esterhuyse skryf: “In die geskiedenis van Suid-Afrika was dit eintlik onafwendbaar dat kleur as faktor in die houdings, gesindhede en klassifikasieskemas van witmense opgetree het. Die rede hiervoor is voor-die-hand-liggend. Afgesien van slawe, Hottentotte en Boesmans, het witmense in hul besetting van die binneland mettertyd ook met swartmense kontak gemaak. En omdat kleur en ander fisieke kenmerke ’n sigbare onderskeidingsteken was, was dit eintlik onafwendbaar dat dit algaande in sosiale klassifikasieskemas ’n rol begin speel het, veral aangesien kleurverskille met beskawings- en kultuurverskille saamgeval het”1. Aanvanklik het kleur op sigself nie ’n primêre rol as sosiaal-politieke uitsluitingskriterium gespeel nie. Daarom het kleurklassifikasie as kleurdiskriminasie nie ’n rol gespeel in die legitimasieprosedures van sosiaal-maatskaplike en politieke ordeningsprosesse nie. Wat hoogstens gesê kan word, is dat kleur ’n assosiatiewe waarde ontvang het. Soos elders in die wêreld is ’n nie-wit kleur geassosieer met onbeskaafde gedrag en gebrek aan verantwoordelikheidsin.2
Die gekleurde Christene is sonder meer in die kerk opgeneem en bedien. Daar word bereken dat tussen 1665 en 1795 meer as 2 012 slawe en slawekinders gedoop is.3 Ons moet wel daarop wys dat daar teen die einde van die tweede helfte van die 18 eeu wette gemaak is wat spesifiek teen gekleurdes gemik was: In 1765 is bepalinge tov die kleredrag van vryswart vroue uitgevaardig; in 1790 is bepaal dat vryswartes ’n pas moes dra as hulle die dorp wou verlaat; die gemeente Swartland het reeds in 1761 ’n aparte afdeling in die doopregister gehad vir Basters en Hottentotte, en na 1770 het Kaapstad ’n dergelike praktyk vir slawe gevolg; teen 1800 moes die slawe aparte sitplekke in die kerkgebou ingeneem het.4
Die 19de eeu kan ten aansien van die kleurkwessie as ’n waterskeidingseeu bestempel word. In hierdie eeu het ’n aantal faktore in werking getree wat die kleurkwessie op ’n beslissende wyse op die sosiaal-politieke en kerklike kaart van ons land geplaas het. ’n Belangrike faktor in die verskuiwing was die idee van gelykstelling, wat Afrikaners in beroering gebring het. Die onderliggende gedagtemotiewe wat tot hierdie beroering aanleiding gegee het, was: “Ten eerste, die kleurskeidslyn is van Godsweë verordineer en as sodanig ’n natuurlike skeidslyn wat nie opgehef mag word nie. Ten tweede, gekleurdes het nie aanspraak op gelyke sosiale en politieke status met witmense nie. Religieuse, sosiaal-kulturele, arbeids- en ander oorweginge het hier dus met mekaar ’n bondgenootskap aangegaan”.5
Die sosiale en politieke distansie wat in die loop van die 19de eeu ten aansien van gekleurdes vaste vorm aangeneem het, het ook duidelik op die kerklike terrein waarneembaar geword. Hierdie situasie is ook versterk deur die stigting van die “Zuid-Afrikaanse Zendelings Genootschap (ZAZG)” in 1799 wat as ’n selfstandige organisasie naas die kerk opgetree het. Baie lidmate en predikante van die NGK het die werk van die ZAZG gesteun. In sommige gemeentes, bv Stellenbosch, Drakenstein en Tulbagh, het die kerkrade naas hul eie sendingwerk ook die werk van die ZAZG gesteun, terwyl die gemeente van Kaapstad sy sendingwerk met die medewete van die ring geheel aan die ZAZG oorgelaat het.6 Die genootskap, wie se werk toegespits was op die gekleurdes, het oefenhuise vir hul bediening opgerig. Uiteindelik het daar op dié wyse ’n nuwe bedieningspatroon ontwikkel, naamlik aan die een kant die amptelike kerk wat alle gelowiges insluit, en aan die ander kant ’n nie-amptelike bediening, hoofsaaklik gerig op die nie-blankes in oefenhuise naas die kerk binne dieselfde gemeentelike grense.7 Toe die eerste Sinode van die NGK in 1824 gehou is, het die vaste bedieningspatroon reeds ontwikkel. Op daardie stadium was daar dus gekleurde gelowiges wat sonder meer as lidmate by die oorwegend blanke gemeente ingeskakel het en gekleurde gelowiges wat lidmate was van afsonderlike gemeentes, wat hoofsaaklik uit gekleurdes bestaan het, wat deur die bediening van die sendinggenootskap tot stand gekom het en wat los van die NGK gestaan het.8 Daar het dus gemeentes uit die heidene binne die grense van gevestigde gemeentes ontstaan. Van der Walt sien hierin ’n onderskeiding tussen gemeentelike werk en sendingwerk, en meen dat daarmee die eerste tree in die ontwikkeling van ’n afsonderlike kerk gegee is.9 Die Sinode het alreeds in 1824 die moontlikheid van ’n aparte kerk voorsien – die beginsel van afsonderlike woord- en sakramentbediening aan gekleurdes is ook reeds by dié Sinode onderskryf.10
Die tweede Sinode in 1826 het tydens sy sitting op 9 November ’n reglement vir die ordening van sendelinge opgestel, en daarmee beweeg in die rigting van afsonderlike bediening vir gekleurdes.11 Met die Sinode van 1829 het die gebruik dat in sommige gemeentes blanke en gekleurde lidmate nie gelyktydig aan die nagmaalstafel aangesit het nie, op dié Sinode ter sprake gekom. Die saak is deur ds Spijker van die Somerset-Wes Gemeente op die agenda geplaas wie se kerkraad van mening was dat die nagmaalbediening by ’n afsonderlike erediens moet geskied soos dit alreeds by ander gemeentes gebruik was.12 Dié Sinode het dit skaars bespreek omdat daar eenstemmigheid oor die saak was, en daar is besluit dat die nagmaal gelyktydig aan almal bedien moet word omdat dit ’n onwrikbare stelreël is wat op die onfeilbare Woord van God gegrond is.13 Alhoewel dit ’n sinodebesluit was dat die bediening van die nagmaal by ’n gesamentlike erediens geskied, was dit blykbaar alreeds praktyk dat sommige gemeentes aparte eredienste gehou het. Die gemeentes Mosselbaai, Oos-Londen, Murraysburg, Robertson, Darling en baie ander het nie erns gemaak met dié besluit van die Sinode in 1829 nie.14 Chris Loff oordeel dat die besluit van die Sinode in die lig van die teenwoordigheid van die Kommissaris Politiek gesien moet word. Op daardie stadium moes al besluite van die Sinode deur die staat bekragtig word en die riglyn van die staat was dat dit gesamentlike eredienste moes wees. “The decision of 1829 was forced upon the Synod by the Kommissaris Politiek and it ought, therefore, to be viewed as a qualified decision, although the impression did at least exist that the Church was against colour discrimination.”15
Op die Sinode van 1857 was die vraag oor aparte bediening van blankes en nie-blankes weer ter sprake. Reeds vóór die sinodesitting is in De Kerkbode gepleit vir die afsonderlike Woord- en sakramentbediening aan gekleurdes in afsonderlike geboue of oefenhuise. Hiervolgens sou die gekleurdes nog lidmate van die gevestigde blanke gemeentes bly – dus onder hul bearbeiding en opsig, maar hul lidmaatskap-voorregte in hul eie kerkgeboue geniet, soos dit alreeds in sekere gemeentes praktyk was. Ds Shand van Tulbagh het in ’n beskrywingspunt gevra of dit die goedkeuring van die Sinode wegdra dat in gemeentes van die NGK waar mense dit begeer, die gekleurdes in ’n afsonderlike gebou, maar onder die bestuur en opsig van die kerkraad, alle voorregte van die Christelike godsdiens afsonderlik geniet. Op voorstel van ds A Murray (snr) van Graaff-Reinet het die Sinode die volgende besluit met ’n groot meerderheid van stemme geneem: “De Synode beschouwt het wenschelijk en schrifmatig, dat onze ledematen uit de Heidenen, in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geskieden kan; maar waar deze maatregel, ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak van Christus onder de Heidenen, in den weg zoude staan, de gemeente uit de Heidenen opgerigt, of nog op te rigten, hare Christelijke voorregten in een afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal.”16
Daar was sterk meningsverskil en sommige sprekers het toegegee dat daar kleurgevoelens onder mense in die buitedistrikte bestaan het, maar die wens uitgespreek dat dit oorwin sal moet word. Daar is ook gesê dat daar gekleurdes was wat gevra het om in ’n aparte gebou hul Christelike voorregte te geniet. Bogenoemde voorstel was ’n kompromis. Dit was bedoel om ’n praktiese situasie te beredder sonder om die sendingwerk tot stilstand te laat kom.17
3. DIE BESLUIT IN 1857
Die opvallende van hierdie besluit is dat die Sinode sy besluit ten gunste van afsonderlike bediening nie prinsipieel nie, maar prakties motiveer: die swakheid van sommige witmense. Gesien die feit dat die Sinode van mening was dat dit “wenslik en Skrifmatig” is om lidmate uit die heidendom in die bestaande gemeentes op te neem en in te lyf, is dit duidelik dat die weerstande en kleurvooroordele van witmense baie sterk moes gewees het om die praktiese toegewing af te dwing. Kerkleiers soos Andrew Murray, Van der Lingen en Hofmeyr het gehoop dat die skeidsmuur sal wegval, maar moes daarteenoor ietwat gelate aanvaar dat die kleurskeidslyn sterk gefunksioneer het in die denkwêreld van die blanke Christene.18 Daar was ook diegene, soos ds P.D.M. Huet, wat gehoop het dat dit slegs ’n oorgangsmaatreël sou wees totdat die minder ontwikkelde gekleurdes opgevoed kon word om in dieselfde kerkverband as die blankes opgeneem te word.19 Dat die besluit net ’n oorgangsmaatreël sou wees, het ongelukkig nie gebeur nie.
Die motivering wat by die Sinode van 1857 gegee is vir die afsonderlike byeenkomste, sou die NGK deur die jare soos ’n skadu volg. In die loop van die jare sou ander argumente ter regverdiging van die bestaan van afsonderlike “volkse” kerke aangevoer word, maar by baie binne en buite die NGK het die vermoede bly leef dat die motivering van die begin (1857) nog steeds die eintlike beginsel agter die beleid is.20 Dit word veral duidelik uit ’n dokument soos Ras, volk en nasie en volkeverhoudinge in die lig van die Skrif van 1974, waarin ’n Bybels-teologiese fundering van die apartheidsbeleid en bestaan van rasgeskeide kerke gelegitimeer is. Op hierdie onskriftuurlike grondslag is daar in die loop van die geskiedenis Nederduits Gereformeerde Kerke vir Kleurlinge (1881), Swart mense (1910, 1932, 1951, 1952) en Indiërs (1965) gestig.21
4. HERROEPING
Prof JC Adonis reken dat die NG kerk met Kerk en Samelewing (1986 en 1990) afstand gedoen het van hul steun vir die apartheidsbeleid en terselfdertyd hulle steun vir kerkvereniging binne die familie van NG kerke toegesê.22 In Kerk en Samelewing word duidelik gestel dat die eenheid van die kerk van die begin af as gevolg van die sonde deur allerlei faktore bedreig is, waaronder vleeslike gesindhede, liefdeloosheid, onwil om mekaar te aanvaar, misverstand en dwaling, verabsolutering van die verskeidenheid, veruit-wendiging of ook vergeesteliking van die eenheid, asook politieke en ander belange. Dit het tot gevolg gehad dat die kerk deur die eeue heen in ’n toestand van verdeeldheid en verskeurdheid beland het. Dit beteken dat hierdie eenheid primêr in die onderlinge liefde sigbaar word; dat Christene nooit in die verskeurdheid van die kerke, veral dié met dieselfde belydenis, mag berus nie, maar dit as sonde erken en bely; dat die kerk die verantwoordelikheid het om sy eenheid sover dit moontlik is met alle gelowiges te beleef en sigbaar te maak; dat die kerk ten spyte van alle struikelblokke wat op hierdie weg mag bestaan en sonder om hierdie struikelblokke te ignoreer, steeds moet streef na die groots moontlike sigbaarmaking en belewing van die geestelike eenheid van die volk van God; dat hierdie eenheid iets anders is as ’n kunsmatige en gedwonge eenheid wat bloot ter wille van die demonstrasie van ’n sigbare eenheid nagestreef word; dat ’n valse eenheidstrewe, met valse motiewe en met prysgawe van die waarheid in Christus, afgewys moet word.23 In Kerk en Samelewing neem die NGK ook ’n duidelike posisie teen rassisme in deur rassisme te definieer as ’n ernstige sonde wat geen mens of kerk mag verdedig of beoefen nie. In die omskrywing van rassisme as sonde word gestel: “Wie dit teoreties verdedig of prakties deur houding en handeling te kenne gee dat een ras, volk of groep volke inherent meerwaardig en ’n ander ras, volk of groep volke inherent minderwaardig is, maak hom/haar skuldig aan rassisme. Rassisme is ’n sonde wat geneig is om kollektiewe en gestruktureerde vorme aan te neem. Dit behels minagting en selfs haat vir die persoon van ’n medemens en is vir hom/haar ’n struikelblok om sy/haar goddelike bestemming menswaardig en verantwoordelik na te strewe. Dit behels onderdrukking, verontregting, diskriminasie, botsings en geweld. Derhalwe verwerp die kerk rassisme in alle vorme as strydig met die Woord van God” 24.