Opvoeding vind nie in ‘n vakuum plaas nie, maar dit word intens beïnvloed deur faktore soos die sosiale omgewing, die politieke bestel, die ekonomiese toestande, die filosofiese grondslag van die onderwys en talle ander. Die skool is ‘n mikrokosmos van die samelewing, maar tog so geweldig invloedryk vir die toekoms dat geen regering dit kan bekostig om nie die opvoedingstelsel in die rigting van die land se nasionale doelwitte te stuur nie.
Hoewel daar seker baie faktore is wat ‘n rol gespeel het (soos byvoorbeeld armoede en die gebrek aan voldoende goed opgeleide onderwysers), word apartheidswetgewing die skuld gegee vir die stelsel van swart onderwys wat ontwikkel het en wat die swart skolier met ‘n groot agterstand gelaat het. Aan die ander kant was die onderwys aan blanke skoliere gebaseer op ‘n Christelik-nasionale filosofie – meer spesifiek: Calvinisties-nasionaal. Die wit skole was in ‘n gunstige finansiële posisie met ‘n hoë standaard van geboue en hulpbronne asook ‘n gunstige kind-onderwyserverhouding. Dit was nie oral die geval in swart onderwys nie. Daar was uiteindelik 19 verskillende onderwysdepartemente, en vir die meerderheid van Suid-Afrikaanse kinders was die onderwysstandaard baie swak, met die verdelingslyne tussen die rasse getrek. Die ideologie van apartheid het intiem verweef geraak met die onderwysstelsel en uiteindelik het opvoeding en onderwys op sigself ‘n instrument geword waardeur die konflik gevoer is.
Ons land se onderwysprestasie is nie goed nie. Ons matriekslaagsyfer is besig om te daal en net sowat 4.5% van ons matrikulante slaag met wiskunde en wetenskap in die hoër graad. Uit ‘n bevolkingsgetal van elke 10.000 het SA maar 9 B-grade terwyl die VSA 443 het, Japan 306, VK 132 en Duitsland 88. Van hierdie B-grade is maar 1 in die rigting van wetenskap en ingenieurswese terwyl dit vir die ander lande soos volg is: VSA: 75; Japan 68; Duitsland 28; VK 47. Per elke 10 000 bevolking het Japan 711 wetenskaplikes en ingenieurs, die VSA het 216, Brazilië het 112 en RSA het maar 33. Van al ons toegekende grade is sowat 6% ingenieursgrade, 3,7% in die natuurwetenskappe, 2,1% rekenaarwetenskappe en 1% wiskunde. Om enigsins te probeer ontwikkel tot ‘n wêreldspeler moet klem geplaas word op onderwys en opleiding, veral in die wiskunde/wetenskap/rekenaar- en ingenieursweserigtings.