Hoewel die Suid-Afrikaanse industrie ongeveer die 23ste grootste in die wêreld is, presteer dit in baie opsigte swakker as dit. Hoewel die magtigste en mees gesofistikeerde industrie in Afrika, is ons industrie besig om stelselmatig te veragter by dié van die ontwikkelde wêreld. Globalisering is een van die faktore wat ons nywerhede baie nadelig tref. As voorbeeld kan genoem word dat staal vanaf Japan, of kunsmis vanaf die VSA goedkoper in die land ingevoer kan word as wat dit kos wanneer ons dit plaaslik produseer. Dieselfde geld vir alledaagse items soos tekstiele, klerasie en skoene – veral uit die Ooste. In die verlede is tariefbeskerming deur die regering toegepas, maar dit het eiesoortige probleme opgelewer. Hierdie goedkoper oorsese produkte dryf stelselmatig plaaslike produkte uit die mark uit – nog meer so waar die ingevoerde produk deur oorsese regerings gesubsidieer word vanweë hul eie politieke redes. Die finansiële wêreld is besig om alle nasionale grense oor te steek en daarom sal produkte en materiale angekoop word op enige plek in die wêreld waar dit die goedkoopste verkry kan word. Industrieë wat nie kan kompeteer nie, sal verdwyn. Maatskappye wat nie buigsaam is en kan aanpas nie, sal ondergaan. Aan die ander kant sal die gedereguleerde informele sektor voortgaan om ‘n belangrike rol te speel op grondvlak. Hoewel dit nie skouspelagtige hoeveelhede geld vir die individu sal beteken nie, sal dit tog ‘n lewensmilieu skep vir duisende klein sakemanne – en aan hulle ‘n geleentheid vir groei bied, met die nodige bestuursvernuf.