Demokrasie het sy oorsprong in die Griekse stadstate Athene en Sparta. Die stelsel het bekend gestaan as die Griekse “Polis”, wat alle fasette van die lewe ingesluit het – staatkundig, sosiaal en godsdienstig. Die staatsbestel was die totaliteit van die sosiale struktuur. Alle volwasse mans is as burgers van die Polis beskou en het aan die besluitnemingsproses deelgeneem. Die vergadering, wat so elke 10 dae bymekaar gekom het, was bekend as die ekklesia. Hulle het ‘n stuurkomitee van 500 manne gehad en ‘n uitvoerende komitee van 50 wat deur die lot aangewys is: Die Polis was vir die demos (mense) ‘n omvattende instituut waarin daar geen skeidings tussen die openbare en private dele van die lewe was nie. Die demokrasie van Athene is baie geromantiseer deur die geskiedenis, maar was in werklikheid baie beperkend soos gesien kan word uit die feit dat vroue en slawe nie kon deelneem aan die ekklesia nie. Hierdie regeringsvorm staan bekend as die klassieke demokrasie.
‘n Volgende stap in die ontwikkeling van die Staat was die Romeinse Ryk wat vir tussen 1000 en 2000 jaar bestaan het. (Neem in ag dat die Britse ryk maar sowat 200 jaar 'n hoogtepunt beleef het.) In die Romeinse Ryk is die idee van die Polis uitgebrei tot die begrip “imperium” of ryk - ‘n universele instituut wat die hele bekende beskaafde wêreld ingesluit het. Hoewel Rome ‘n oligargie was, en nie ‘n demokrasie nie, het die senatore tog op ‘n manier die mense verteenwoordig. Regeringsfunksies is uitgevoer deur verskeie invloedryke groepe en staatkundige en openbare sake is onderskei van private aangeleenthede. Hierdie stelsel was die begin van die sogenaamde “super regum” – die oorsprong van die begrip van soewereiniteit.
Die Romeinse ryk het uiteindelik opgebreek in duisende feudale of stadstate in Europa. In ‘n sin was hulle verwant aan mekaar, deel van die Heilige Romeinse Ryk wat saambestaan het met die magtige Roomse Katolieke Kerk met sy magtige hiërargiese strukture. Daar was gedurig bitter twiste tussen hierdie twee strukture. Met die opbreek van die Heilige Romeinse Ryk het twee ontwikkelings gevolg. Een was die sogenaamde “Ständestaat” of staat van gildes. Verskillende gildes van geestelike leiers, edelliede, handelaars is gevorm wat in rade georganiseer het om met die plaaslike koning te onderhandel, om so politieke mag te verkry. Hulle het mag gehad oor hule lede, maar dit was nie geografies afgebaken nie. Die Britse hoërhuis is vandag nog ‘n oorblyfsel van so ‘n gilde - die gilde van edelliede.
Die ander vorm wat ontwikkel het, was die absolute staat. Die koning was die absolute heerser en hy het absolute mag uitgeoefen en was die totale bron van die wet. Die koning kon niks verkeerd doen nie. Die konings het baie magtig geword en die stelsel het uiteindelik korrup geword.
Die moderne staat het hieruit ontwikkel en het sy beslag gekry in die Vrede van Westfalia na die sogenaamde 30 jarige oorlog in Europa in 1648. Die moderne staat is ideaal gesproke ‘n demokrasie waarin die mense/bevolking die hoogste gesag hou Om as ‘n staat erken te word, moet ‘n staat ‘n klompie eienskappe waaronder:
Verskillende soorte regeringsvorme kan onderskei word, afgesien van die klassieke demokrasie wat hierbo beskrywe is.
Gewone meerderheidsdemokrasie: Die hoofbeginsel is dat die regering saamgestel word deur meerderheidspartye of deur wennende koalisies.
Magsdeling – demokrasie. Geen duidelike meerderheid bestaan nie en die gemeenskap is gewoonlik diep verdeeld. Daar word regeer deur ‘n breë koalisie. Daar is lokale outonomie vir minderhede in terme van kulturele aangeleenthede en daar is spesiale reëlings vir beskerming van taal-, godsdiens- en kulturele regte.
Eenparty dominante demokrasie: Een party slaag daarin om in ‘n klomp opeenvolgende verkiesings ‘n duidelike meerderheid te handhaaf. Dit gebeur dikwels in nuwe demokrasieë en die party mag vir etlike dekades lank regeer. Die voordeel is dat dit die land stabiliseer, wat goed is vir ontwikkeling, maar dit kan die regerende party laat dink dat dit hulle reg is om te regeer. Die grense tussen die party en die staat kan vervaag, wat ruimte skep vir korrupsie en nepotisme.
Harde demokrasie: Tegnies gesproke is dit ‘n demokrasie maar mag verval in die hande van van 'n mags-elite wat daarna menseregte ignoreer, opposisie verban en verkiesings onregverdig bedryf. Dit is ‘n vorm van demokrasie maar sonder die werklike filosofie daarvan.
Volksdemokrasie (People’s Democracy) lê klem op die gelykheid van mense en gelykheid word bewerk deur gemeenskaplike besit. Eienaarskap van private besit word afgeskaf. Ryk klasse moet vernietig word sodat die klaslose samelewing tot stand kan kom. Mag word altyd gesentraliseerd uitgeoefen in ‘n volksdemokrasie.
Outoritêre state: Dit is state wat streng beheer oor die bevolking uitoefen, en groot klem word gelê op wet en orde. Hulle is gewoonlik hiërargies gestruktureerd en alle mag word van bo af uitgeoefen. Hierdie state maak gereeld gebruik van mag om mense in ‘n rigting te dwing en vryheid van spraak en vryheid van assosiasie word beperk. Politieke partye word slegs binne streng beperkings toegelaat en die massamedia word ook deur die regering beheer of aan bande gelê.
Totalitêre state: In hierdie staatsvorm word die skeiding tussen die domein van die staat en dié van die burgerlike gemeenskap vernietig en die staat meng in alle aspekte van die gemeenskap in: godsdiens, kultuur, sport, individue se geloof en oriëntasie. Sulke state het dikwels ‘n amptelike ideologie, ‘n enkele sterk gedissiplineerde party, georganiseerde staatsgeweld, partybeheer oor die massamedia, partybeheer oor die veiligheidsmagte (deur politieke komisarisse) en sentrale beheer oor die ekonomie