Sedert 1994 bestaan die denke dat Suid-Afrika geen noemenswaardige eksterne bedreiging het nie, en dit was een van die groot faktore wat gelei het tot die drastiese afskalings wat in die veiligheidsmagte plaasgevind het. Meeste mense sal saamstem dat die misdaadsituasie in die land vir die burgers tans die grootste bedreiging van veiligheid behels.
Daar is drie omgewingsfaktore wat kriminaliteit in die land bevorder:
Sosio en sosio-ekonomiese omstandighede. Hierdie tipe misdaad word aangehelp deur ons groot persentasie jong mense in die land, waarvan baie werkloos is en toenemend in die stede saamgehoop word. Ons invloei na die stede is 6 x hoër as die land naaste aan ons, naamlik Brazilië. Party kenners sê die geweldige invloei vind plaas aangesien die apartheidstelsel die normale verstedelikingsproses vir dekades lank aan bande gelê het. Op die platteland het arm mense ‘n ondersteuningsstruktuur gehad in die vorm van die uitgebreide familie, maar in die stedelike omgewing bestaan dit nie. In die stad ontwikkel ook eiesoortige behoeftes en speel groepsdruk ‘n groot rol in die individu se lewe. ‘n Mens kan maklik sien wat die invloed daarvan op misdaad is.
Polities-ideologiese misdaad: Hoewel die demokratisering van die staat in 1994 aan alle burgers in die land ‘n wettige metode om aan die regeringsproses deel te neem, verskaf het, is daar steeds groepe wat op ondemokratiese wyse poog om hul standpunte op die nasionale agenda te kry. Tipies hiervan is die vigilante-groepe PAGAD, QIBLA, MAGO, MAIL en MAPOGO wat oënskynlik hulle ontstaan het in die omgewing waar misdaadbekamping deur die SAPD nie effektief genoeg plaasvind nie, en hierdie organisasies die wet in hande neem. Hierdie tipe geweld/misdaad is egter baie minder as wat voor 1994 die geval was. Dit word huidig veroorsaak deur hoë vlakke van onsekerheid of ‘n gevoel van onveiligheid wat mense daartoe bring om selfverdedingingstrukture daar te stel. Hoewel sulke vigilante-organisasies op die oog af goeie werk doen, kan hulle nie gesteun word nie. Hulle ontwikkeling volg altyd ‘n ge-ykte patroon en wanneer hulle eers georganiseer is en gereed is vir aksie, verskyn daar altyd snellergebeurlikhede wat hulle tot onwettige optrede lei. Die verskynsel is veral problematies wanneer vigilantisme saamval met ander faktore soos godsdienstige of etniese groeperinge.
Georganiseerde misdaad: Georganiseerde misdaad is misdaad wat gepleeg word deur 2 of meer persone wat misdaad herhaaldelik oor ‘n lang termyn pleeg, en dit werk gewoonlik soos ‘n besigheid. Die topstruktuur is baie keer verskuil en hulle gebruik tegnieke soos afpersing, korrupsie, uitbuiting van grense, ens. Tipiese georganiseerde misdaadkategorieë is voertuigdiefstal en –skaking; wapensmokkeling; smokkeling van dwelmmiddels; kontantrooftogte; ontvoering van mense; geldwassery en witboordjiemisdade.
In ons land blyk dit dat dwelmmiddels en alkohol ‘n groot rol speel as aanleidende oorsake van misdaad. Onder die invloed van dwelmmiddels pleeg mense aaklike misdade en die gewoonte trek mense gaandeweg dieper in die misdaad in. Georganiseerde misdaad het altyd ‘n handelsbasis. So betaal Pakistan met dagga, China met dwelms (vir perlemoen) en Indië met Mandrax vir gesmokkelde goud.
Daar is ‘n toename in roof met verswarende omstandighede en dit is rede tot kommer aangesien dit nie sal verbeter wanneer die land se ekonomie verbeter nie. Eiendomverwante misdade mag wel afneem (crime of greed vs crime of need). In internasionale terme het Suid-Afrika ‘n baie hoë voorkoms van geweldsmisdade en veral die Johannesburg-omgewing is berug vir alle kategorië van misdade. In die Suid- en Suid-Westelike deel van die land is daar ook ‘n besondere hoë voorkoms van misdaad wat direk met alkoholgebruikspatrone verband hou (dop stelsel). Die Wes-Kaap het ‘n hoë voorkoms van bendemisdaad: Daar is baie invloedryke tronk- en straatbendes. Straatbendes is territoriaal georiënteerd en goed georganiseerd, en hulle verdedig hulle areas met alle mag. Baie van dié bendes is by tronkbendes geaffilieer. Taxi-geweld is baie prominent in Suid-Afrika. In Mpumalanga en die Noordelike provinsie hou misdaad meer verband met die konstante toevloei van onwettige immigrante na die land. Die werkloosheid in die gebied is tussen 30% en 40% en meer as 3000 onwettige immigrante kom die land per maand binne vanaf Mosambiek alleen. Met al die maatreëls wat die Veiligheidsmagte aanwend, word maar sowat 20% van die vloei gestop. Groot getalle kom deur die grens met swaar voertuie en smokkel goedere. VIGS word op groot skaal die land ingebring. In die streek is plaasmoorde ook ‘n probleem en 'n polities sensitiewe saak.