Dit is waarskynlik algemeen by alle godsdienste dat mense voel dat hulle die ‘regte’ geloof beoefen – want juis daarom behoort hulle tot die bepaalde geloof. Dit skep onwillekeurig ‘n ‘ons-hulle’-situasie. Baie dikwels gaan dit gepaard met ‘n mate van meerderwaardigheid, en selfs antagonisme en vyandigheid in uiterste gevalle asook ‘n groot mate van agterdog jeens mekaar. Baie gelowe poog ook om te proseliteer, dit wil sê om nuwe lede vir hul geloof te werf. Hoewel daar gewoonlik heelwat ooreenkomste tussen die verskillende godsdienste is, byvoorbeeld die uitleef in ‘n hoë moraliteit, is daar ook meestal onoorbrugbare verskille. Daar is slegs twee meganismes om hierdie verskille te hanteer: die een is konflik tot die einde, en die ander is verdraagsaamheid vir mekaar se standpunte. Tipies van eersgenoemde is die sogenaamde ‘heilige oorlog’ of ‘jihad’ soos in Islam gevind kan word.
Die Christelike godsdiens het ‘n sendingopdrag en mens kan verwag dat dit konflik met ander godsdienste kan veroorsaak. In vroeër eeue is konflik wel gebruik om die uitbreiding van die geloof te bevorder, (dink maar aan die kruistogte) maar die werklike sukses daarvan is twyfelagtig. Dit is na alle waarskynlikheid nie die model wat Christus in gedagte gehad het toe Hy die sendingopdrag gegee het nie. Afgesien van die konflikmodel het Westerse sendingpogings deur die eeue ook mank gegaan aan ‘n ander probleem. Die Westerse konsep was dat met die proses van kolonialisering die voordele van beskawing en die Christelike godsdiens gebring word na groepe wat minderwaardig is. Dit was dus uit Westerse oogpunt gesien ‘opheffingswerk’ ! Westerse sendelinge het gekom en uit hul meerdere kennis 'neergedaal' na die minderes. Sendingwerk het derhalwe baie keer ‘uit die hoogte’ plaasgevind. Hoewel dit nie betwyfel kan word dat Westerse sendingspogings ontsaglik positiewe resultate behaal het in die lewens van mense nie, was daar ook groot negatiewe reaksies. Die korrekte model van uitreiking sou eerder wees as praktiese getuienis van lewensvreugde te midde van ‘n lewe van diensbaarheid en feitlik ongekwalifiseerde liefde teenoor die mense wat bereik moet word. Egte liefde en diensbaarheid sal weinig kere as ‘n bedreiging of as ‘n uitdaging tot konflik gesien word.
Die opregte Christen-Afrikaner behoort sy gesindheid teenoor ander gelowe se mense in hierdie land te hersien in die lig van die voorgaande.
Slot
Daar is gesê dat godsdiens die opium vir die volk is en ongelukkig is dit gedeeltelik waar. Godsdiens kan mense verblind, hulle onsensitief teenoor andere maak, hulle teenoor andere vyandig gesind maak, alle ontwikkelinge strem en nog baie ander negatiewe dinge. Niks van hierdie negatiewe dinge is egter toepaslik op ‘n eenvoudige, opregte, onbevange verhoudingslewe met Christus nie. Godsdiens plaas mens binne ‘n denkraamwerk waar jy baie keer gevang is, maar Christus maak mens vry om te kan lewe.
Hoofstuk 9: Samesweringsteorieë van die wêreld: Aard en belangrikheid