Afrika en Afrika rolspelers: Afrika is die hartseer kontinent van die wêreld wat tegelyk ontsaglike beloftes van verborge minerale rykdomme, maar ook grootse ellendes in terme van natuurrampe en oorloë inhou. Afrika is vandag, en veral sedert die einde van die koue oorlog, irrelevant vir die wêreld. Met 'n bydrae van minder as 2% van die wêreldekonomie kan mens verstaan waarom. Die toegang tot Afrika se gesogte minerale en olie word verkry deur internasionale maatskappye in samewerking met korrupte regeerders wat die winste grootliks aanwend om hulself en hul gunsgenote te verryk. So word Afrika van sy kosbaarhede gestroop, en weinig van die rykdom word in die streek ingeploeg. Daarom is groot dele van Afrika in 'n staat van verval. 'n Hele aantal state in Afrika is swak of mislukte state waarin die regerings nie in die basiese behoeftes van die mense kan voorsien nie. Inderdaad in baie gevalle is die regerings, met hul weermagte, juis die inwoners van die land se grootste enkele bedreiging. In Afrika is daar 'n magsvakuum wat besig is om gevul te word deur talle private sekuriteitsmaatskappye en huurtroepe in diens van regerings en internasionale maatskappye om eie belange te beskerm. Dit maak Afrika baie kompleks. Faktore wat Afrika benadeel, is dinge soos talle interne en streekskonflikte, die groot bevolkingsgroei (3% pj), wanadministrasie, selfbevoordeling, lae investering in die landbou, enorme buitelandse skuldlaste, siektes wat feitlik onbeheersd in die kontinent woed en versprei word, miljoene vlugtelinge, en ontwortelde mense. Die feit dat 32 van die wêreld se 40 armste lande in Afrika is, toon waarom daar in Afrika nie geld is om behoorlike streeksorganisasies op te bou en in stand te hou om vredesinisiatiewe deur te voer nie.
Belangrike rolspelers in Afrika suid van die Sahara, benewens Suid-Afrika, is Nigerië, Kenia, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zimbabwe, Angola, Botswana, Namibië en Mosambiek.
Nigerië is 'n vorige Britse kolonie wat in 1960 onafhanklikheid verkry het. Dit is die staat in Afrika met die meeste mense ( 100-120 miljoen), waarvan 'n groot deel in armoede leef. Die land het groot minerale- en olierykdomme, maar moet self petroleumprodukte invoer en word geteister deur brandstoftekorte. Die land het na kolonialisme 'n lang tyd militêre regerings gehad, maar is nou weer onder burgerlike regering. Nigerië is die onbetwiste streeksleier in Wes-Afrika.
Kenia, die streeksleier in Oos-Afrika, was 'n Britse Protektoraat wat in 1964 'n onafhanklike republiek geword het. In 1982 het dit 'n eenpartystaat geword, maar in 1997 is opposisiepartye weer toegelaat. Hoewel die land wel interne konflik het, is die staat stabiel te midde van 'n onstabiele streek. Die infrastruktuur van die land is vervalle.
Die DRK (tevore Zaïre) is 'n land met ontsaglike minerale rykdomme en landbou- potensiaal. Die land het sedert die Belge in 1960 halsoorkop onttrek het stelselmatig in duie gestort as gevolg van bloedige burgeroorloë. In 1965 het die diktator Genl Mobuto Seseseko deur 'n staatsgreep aan bewind gekom en vir 30 jaar as diktator geregeer en homself en sy gunsgenote verryk, met stilswyende ondersteuning van die Westerse moondhede. In 1997 het Laurent Kabila die land in 'n militêre staatsgreep oorgeneem, maar het net weer dieselfde taktiek as sy voorganger begin gebruik. Vroeg in 1998 het anti-Kabila rebelle vanuit Uganda en Rwanda die land binnegeval. Angola, Namibië en Zimbabwe het troepe gestuur om die regime van Kabila in die saal te hou, maar vredesonderhandelinge wil nie op dreef kom nie.
Angola, 'n vorige Portugese kolonie, is 'n verskeurde land waar olie uit die Cabinda provinsie die regering in die saal hou, en diamante wat in die land gemyn word, die Unita rebelle aan die gang hou. Die land se infrastruktuur is verwoes en die land is besaai met landmyne, wat 'n ontsaglike probleem is. Die MPLA het in 1999 deur 'n groot offensief UNITA se konvensionele mag gebreek, maar hulle daardeur teruggedryf na bosoorlog, waarin hulle juis baie tuis is. Die inwoners van die land, waaronder meer as 2 miljoen hawelose mense, voer 'n haglike bestaan.
Zimbabwe was ook 'n Britse kolonie wat deur 'n uitgerekte stryd uiteindelik onafhanklik geword het in 1980. Robert Mugabe regeer die land steeds met 'n redelike ysterhand, en dit is bekend dat hy sy sogenoemde 5de brigade in 1985 aangewend het om opstandige Matabeles uit te moor. Die land beleef groot ekonomiese agteruitgang, wat tans vererger word deur die krisis van grondbesetting deur die orlogsveterane wat kort voor die jaar 2000-verkiesings begin het. Die verkiesing het getoon dat daar 'n kentering in die houding teen Mugabe is. Zimbabwe is 'n deurgang van baie duisende onwettige immigrante uit Afrika na Suid-Afrika.
Botswana is 'n klein, maar relatief welvarende en rustige land. Die voorspoed is geheel toe te skryf aan die ontginning van diamante in die land. Hoewel die land rustig leef en beskou kan word as 'n demokratiese modelstaat in Afrika terme, het hulle spanning met Namibië oor water van die Kavango, asook kwessies uit die Caprivi, en grenskwessies met Zimbabwe.
Namibië was 'n Duitse protektoraat wat in 1914 deur die Volkerebond onder die toesig van Suid-Afrika geplaas is, maar waarvoor die VN in 1941 'n versoek tot anneksasie geweier het. Suid-Afrika het in 1966 in die stryd teen Swapo betrokke geraak, wat uiteindelik in 1990 daartoe gelei het dat Namibië onafhanklik geword het. Hoewel die regering aanvanklik Marxisties georienteer was, het hulle 'n stelsel van veelpartydemokrasie geïmplementeer en dit het gelei tot 'n relatief stabiele demokrasie.
Mosambiek is die armste land in die wêreld en is deur die onlangse rampvloede nog verder teruggesit. Na 470 jaar as 'n Portugese kolonie, en na 'n lang en bitter guerillastryd, het Mosambiek in 1975 onafhanklik geword. Die regerende party, Frelimo, het gelukkig afgesien van sy flirtasie met Marxisme, en dit het tot gevolg gehad dat die land 'n baie hoë groeikoers het. Baie duisende vlugtelinge kom Suid-Afrika deur Mosambiek binne.