Gedragswetenskaplikes wat weerstand teen verandering by mense bestudeer het, het sekere fases in die veranderingsproses onderskei. Aanvanklik is die individu oortuig dat die huidige status die beste is en hy probeer ongemerk die veranderinge vermy. Miskien sal hy probeer ontken of dit probeer ignoreer, of maak of dit nie daar is en nie belangrik is nie. Wanneer die dryfkrag tot verandering voortduur, sal so ‘n individu dit later aktief probeer vermy. Dit kan dalk beteken dat hy hom onttrek van sekere areas of gebeurtenisse of geselskappe waar die veranderinge besig is om plaas te vind. ‘n Volgende stap in die reaksie sal wees dat hy die ou weë of maniere aktief sal begin verdedig. Hy sal aanvoer dat dinge in die verlede altyd op ‘n bepaalde wyse gedoen is en dan probeer bewys dat dit baie suksesvol was. Indien die dryfkrag tot verandering steeds voortduur, kan die individu genoeg opgewerk wees om die verandering, en selfs die persone wat met die veranderinge voorstaan, aan te val of te verwerp. Dit is ‘n konfliksituasie waarby verhoudinge verbreek word, of waar die individu tot ander insigte kom en waarna hy gewillig is om te verander.
Daar is natuurlik ‘n baie slimmer manier om met verandering om te gaan. Dit begin by ‘n oop gemoed en ‘n positiewe lewensingesteldheid. Wanneer veranderinge in aantog is behoort die intelligente mens die omvang van die veranderinge te verken sonder om dadelik daaroor ‘n waarde-oordeel uit te spreek. Verdere ondersoek is dan nodig om te bepaal wat die implikasies, voor- en nadele en geleenthede daaraan verbonde is. Dit lei mens daartoe om die wese van die verandering te verstaan ten einde rasioneel te kan besluit om dit te aanvaar of hoe om dit ten beste te hanteer. Verandering wat daarna volg is dan meer ongedwonge en gee mens die geleentheid om meer in beheer van die veranderingsproses te wees.
Veranderinge bring altyd nuwe geleenthede te weeg, en dit is die pioniers in die veranderingsproses wat die geleenthede raaksien en dit kan benut. Derhalwe behoort mens jouself voor te berei vir verandering en probeer om gereed te wees vir die veranderinge wat die toekoms sal bring. Ou metodes of gedragspatrone waarmee ons die uitdagings van die verlede te bowe gekom het, gaan waarskynlik nie werk in die toekoms nie. So ‘n gedragspatroon word paradigma genoem. Ons moet nie vaskleef aan ou paradigma’s nie, maar bereid wees om nuwe paradigma’s te vind wat ons in staat sal stel om die veranderinge en probleme van die toekoms die hoof te bied. Om sulke deurbrake te kan maak in 'n onseker omgewing verg drie dinge:
Herkenning van ‘n goeie geleentheid deur intuïsie
Moed om die idee na te volg
Deursettingsvermoë om die idee deur te voer.
Om hierin te slaag en ‘n pionier te wees, is daar ‘n klompie wenke:
Begin met ‘n oop gemoed: moenie dink jy het die antwoord nie
Dink wyer as die reëls wat jou vantevore sukses gebring het
Strek jou uit buite jou grense
Wees gereed om falings en verliese ook te verwerk
Wees ‘n baie fyn waarnemer
Moenie bevrees wees vir onontdekte en onontginde gebiede nie
Die omgewing waarin organisasies, besighede en kerke hulleself deesdae bevind, is ewe kompleks en snel veranderend. Om te oorleef in so ‘n omgewing moet sulke instansies buigsaam, organies en vinnig aanpasbaar wees, terwyl hulle gedurig gereed moet wees om omgewingsveranderinge teen te kom en te akkommodeer. Daar is weinig geleentheid vir rustige langtermynbestuur en sommige modêrne bestuurswetenskaplikes beskryf die suksesvolle moderne bestuurstyl as eerder soortgelyk aan die navigering van ‘n vlot langs ‘n sterk stroomversnelling af (white-water rafting).