Fundamentele regte – fur201f studie-eenheid 1 (p1 gids): Inleiding tot die Grondwet en die Handves van Regte



Yüklə 0,58 Mb.
səhifə10/15
tarix01.08.2018
ölçüsü0,58 Mb.
#64796
1   ...   7   8   9   10   11   12   13   14   15

9.2 DIE UITLEG VAN ART 9 (p234HB)

9.2.(a) Artikel 9 in vergelyking met artikel 8 van die tussentydse GW

  • Art 8 vd tussentydse GW was die voorganger van Art 9 vd finale GW

  • Die twee artikels is voldoende ooreenstemmend sodat die hof se interpretasie van art 8 ook op art 9 geld

  • Beide artikels bevestig die geldigheid van regstellende aksie

  • Art 9(3) se lys van gronde is uitgebrei om ook swangerskap, huwelikstatus en geboorte in te sluit.

  • Art 9(4) is ‘n horisontale toepassing van die reg op nie-diskriminasie

(a) Struktuur van die reg op gelykheid

  • Artikel 9(1) maak voorsiening vir die reg om

  • gelyk deur die reg behandel te word,

  • om gelyke beskerming deur die reg te geniet en

  • om die voordeel van die reg te geniet.



  • Artikel 9(2) bepaal dat die reg op gelykheid die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede insluit.

  • Om dit te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is om persone, of kategorieë persone, wat voorheen deur onbillike diskriminasie benadeel is, te ontwikkel en te beskerm.



  • Artikel 9(3) verbied onbillike diskriminasie, regstreeks of onregstreeks, op een of meer van die gronde spesifiek in hierdie artikel gelys.



  • Artikel 9(4) verbied individue en regspersone om regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) te diskrimineer.

  • Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet.



  • Onbillike diskriminasie word bewys as die persoon kan bewys dat daar op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, regstreeks of onregstreeks teen hom of haar gediskrimineer is.

(b) Fases van die ondersoek om inbreuk making op die gelykheidsklousule te bepaal

In Harksen v Lane lê die hof die volgende fases neer:



Fase1 - In hierdie fase moet die volgende vrae beantwoord word:

  1. Maak die reg 'n onderskeid tussen mense of kategorieë mense?

  2. lndien wel, is daar 'n rasionele verband tussen die onderskeid en 'n regmatige regeringsdoelwit of oogmerk?

  3. lndien nie, vind daar 'n skending van artikel 9(1) plaas.

As daar 'n rasionele verband is, vind daar geen skending van artikel 9(1) plaas nie, maar dit kan nietemin op diskriminasie neerkom. Ons beweeg gevolglik aan na die volgende fase van die ondersoek.

Fase2 - Hierdie fase bepaal of die diskriminasie onbillik is.

  1. Eerstens: Kom die differensiasie neer op diskriminasie?

    1. lndien daar gediskrimineer word op 'n gelyste grond, naamlik 'n grond gelys in artikel 9(3), word diskriminasie vasgestel.

    2. lndien daar op 'n ongelyste grond gediskrimineer word, moet die applikant die diskriminasie bewys deur aan te toon dat dit gebaseer is op kenmerke wat die potensiaal het om die fundamentele menswaardigheid van mense aan te tas of hulle op 'n vergelykbaar ernstige wyse nadelig te affekteer.

    3. Nadat 'n geval van diskriminasie vasgestel is, word die volgende vraag gevra.




  1. Tweedens, kom die diskriminasie neer op onbillike diskriminasie?

    1. lndien daar op 'n gelyste grond gediskrimineer word, word daar ingevolge artikel 9(5) vermoed dat dit onbillik is.

    2. lndien daar op 'n ongelyste grond gediskrimineer word, moet die applikant die onbillikheid aantoon.

Die toets vir onbillikheid fokus op die uitwerking van die diskriminasie op die applikant en op ander persone in dieselfde situasie.

lndien bevind word dat die differensiasie nie onbillik is nie, is daar geen inbreukmaking op artikel 9(3) en artikel 9(4) nie.

Fase3

lndien daar bevind word dat die diskriminasie onbillik is, moet bepaal word of die betrokke bepaling ingevolge die beperkingsklousule geregverdig kan word.

Hierdie sistematiese ondersoek na die inbreukmaking op artikel 9 is in Harksen v Lane deur die Konstitusionele Hof uiteengesit.

Indien die reg op gelyke behandeling in art 9(1) geskend is, sal dit onnodig wees om ondersoek in te stel of daar ‘n skending was van die reg op nie-diskriminasie. In National Coalition het die hof beslis dat dit nie noodwendig albei fases uit te voer nie. In gevalle waar die hof bevind dat ‘n regsvoorskrif of optrede onregverdigbaar inbreuk maak op art 9(3) of (4), is dit nie nodig om eers te kyk of daar skending van art 9(1) is nie.

Artikel 9 identifiseer 3 maniere waarop ‘n regsvoorskrif of optrede kan onderskei tussen persone of kategorieë:


  1. Blote differensiasie – persone word verskillend behandel, maar dit kom nie op diskriminasie neer nie. Dit sal art 9(1) skend indien dit nie ‘n rasionele verband het met ‘n wettige regeringsdoelwit nie.

  2. Onbillike diskriminasie – word verbied deur art 9(3) en (4). Selfs waar daar ‘n rasionele verband tussen die differensiasie en ‘n geldige regeringsdoelwit is, sal dit die gelykheidsklousule skend indien die differensiasie onbillik is.

  3. Regverdige diskriminasie – regsvoorskrif of optrede wat diskrimineer, maar nie onbillik nie, en wat die impak daarvan op die klaer en andere in dieselfde situasie in ag neem.

9.2.(c) Die verhouding tussen art 9 en art 36 (p237HB)

Art 36 is ‘n algemene beperkingsklousule, omdat dit algemeen op al die regte in die HvR van toepassing is. Dit behels ‘n 2-fase ondersoek – of ‘n reg werklik geskend is en of die beperking regverdigbaar is. Die beperking moet voldoen aan die kriteria dat dit as redelik en regverdigbaar beskou kan word in ‘n oop en demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Art 9 word deur dieselfde of soortgelyke kriteria gekwalifiseer. Die KH oorweeg tog in elke geval ook die effek van die beperkingsklousule. In Hugo het Kriegler R voorgestel dat die gelykheidsklousule met billikheid te doen het, en die beperkingsklousule met regverdigbaarheid.

In Harksen v Lane NO het die hof genoem dat die beperking-ondersoek ‘n opweeg van die oogmerk en die gevolge van ‘n bepaling behels en die proporsionaliteit daarvan in verhouding met die skending van gelykheid.



9.3 ‘Blote differensiasie’ (p239HB) “mere differentiation”

9.3.(a) Onderskeid tussen differensiasie en diskriminasie

Die gelykheidsbepaling belet nie die regering om op grond van 'n aantal verskillende redes klassifikasies te maak nie, mits sulke klassifikasies regmatig is, dws op toelaatbare kriteria gebaseer is. Gelykheid beteken nie dat almal dieselfde behandel moet word nie. Art 9(3) lys die gronde wat regmatige differensiasie van ongrondwetlike diskriminasie onderskei. Differensiasie is toelaatbaar, mits dit nie op onbillike diskriminasie neerkom nie.



9.3.(b) Rasionaliteit

‘n Regsvoorskrif of optrede wat differensieër tussen groepe of persone sal geldig wees, solank dit nie gelyke beskerming of voordeel deur die reg ontken nie en solank dit nie neerkom op ongelyke behandeling in stryd met art 9(1) nie.

Of ‘n klassifikasie toelaatbaar is of nie sou afhang van die doel van die klassifikasie en of daar ‘n voldoende verband is tussen die kriteria wat gebruik word om die klassifikasies en die regeringsoogmerke teweeg te bring. Blote differensiasie, sonder enige rasionele verhouding tussen die differensiasie en die regeringsoogmerk, sou 'n skending van artikel 9(1) wees.

Hierdie benadering is deur die KH bevestig in Prinsloo v Van der Linde (sien bladsy 239 en 240 van die handboek). In hierdie saak onderskei die hof tussen differensiasie gebaseer op gronde wat 'n persoon se menswaardigheid aanras, en die wat gebaseer is op gronde wat nie hierdie uitwerking het nie. Waar die onderskeid nie 'n uitwerking op menswaardigheid het nie, mag die applikant slegs aanvoer dat daar 'n skending van artikel 9(1) plaasgevind het.

In hierdie saak is onderskei tussen mense wat grond in brandbeheergebiede okkupeer en die wat grond buite sulke gebiede okkupeer. Ingevolge die Boswet 122 van 1984 word nalatigheid vermoed as 'n brand uitbreek op grond wat buite 'n brandbeheergebied val, tensy die teendeel bewys word. Hierdie vermoede het egter nie gegeld vir mense wat binne brandbeheergebiede gewoon het nie. Die hof het net vereis dat die staat op 'n rasionele manier optree, en het dus die staat verbied om arbitrêre onderskeidinge te maak wat geen regmatige regeringsoogmerk dien nie.

Toe hierdie beginsels op die feite toegepas is, is bevind dat die bestaande regulasies binne brandbeheergebiede die oogmerk gehad het om te verhoed dat brande versprei. Hierdie regulasies was nie van toepassing op mense wat buite brandbeheergebiede gewoon het nie, aangesien daar van hulle verwag is om meer waaksaam te wees. Daar het dus 'n rasionele basis vir die differensiasie bestaan.

Verder, die differensiasie het nie die menswaardigheid van die betrokke mense geskaad nie en het gevolglik nie op onbillike diskriminasie neergekom nie. Lees die beslissing op bladsy 239 tot 241 van die handboek.

Die rasionele verhouding toets is minder streng as die toets vir regverdigbaarheid van ‘n beperking op ‘n reg. Die hof ondersoek die redes deur die staat gegee vir die wet en bepaal of daar ‘n rasionele verband is tussen die doel en die differensiasie. Die hof mag nie ondersoek instel na die bestaan van alternatiewe metodes om die doel te bereik nie en ook nie die doeltreffendheid van die betrokke metode evalueer nie.



Jooste v Score Supermarkets Trading - KH oorweeg die grondwetlikheid van ‘n bepaling wat ‘n beperking plaas op ‘n werknemer se gemeenregtelike reg op vergoeding vir werkverwante beserings. Die wet bepaal dat eise binne 12 maande ingedien moet word, en daar is ‘n beperking op die bedrag. KH hof sê onderskeid tussen werknemers wat aan diens beseer is en ander persone skend nie werknemers se reg op gelykheid nie. Die doel van die ondersoek na die rasionele verband is om vas te stel of differensiasie arbitrêr of onredelik was, of naakte voorkeur manifesteer – dit is irrelevant of die skema deur die wetgewing voorgeskryf verbeter kan word. Of die werknemer sy gemeenregtelike reg moet behou, bo en behalwe, of in alternatief tot die statutêre eis , is ‘n beleidsoorweging vir die wetgewer en nie howe.

‘n Voorbeeld van ‘n wet wat nie die rasionele verband toets geslaag het nie:



S v Ntuli - hof toets die geldigheid van ‘n reg wat onderskei tussen appelante in kriminele sake wat in gevangenis (of nie) is en wat regsverteenwoordiging het, teenoor daardie appelante wat in gevangenis is sonder regsverteenwoordiging. Strafproseswet bepaal dat gevangenes sonder regsverteenwoordiging nie kan appeleer teen ‘n Landdroshofbeslissing sonder ‘n sertifikaat van ‘n regter wat verklaar dat daar redelike gronde bestaan vir die appèl nie. KH sê die differensasie is ‘n skending van die reg op gelykheid voor die reg en gelyke beskerming deur die reg. Hof gebruik nie uitdruklik die rasionele verband toets nie, maar die resultaat kan aan die hand daarvan verklaar word. Die doel van die regter se sertifikaat(verlof) was regmatig – dit wou voorkom dat die howe oorstroom word deur appelle wat geen hoop op sukses het nie, maar daar is geen rasionele verband tussen die doel en die differensiasie tussen gevangenes met regsverteenwoordiging en die daarsonder nie.

S v Rens - KH oorweeg die grondwetlikheid van art 316 van die Strafproseswet. Persone in Hoë Hof gevonnis moet verlof tot appèl na die volbank of HHA kry. Argument dat dit die reg op appèl skend. Diskrimineer tussen persone in hoë hof gevonnis teenoor daardie in die laerhowe (wat outomaties ‘n reg op appèl het) gevonnis. KH sê die differensiasie tussen die appèlle van die twee howe is agv die verskil in verskyningsbevoegdheid en funksionering van die howe. KH sê die verskillende prosedures is rasioneel gegewe die verskillende prosedures wat gevolg word in die verskillende howe.

9.3.(c) Art9(1) en die “rule of law” rasionaliteit (p243HB)

Die KH het ‘n algemene rasionaliteits-vereiste ontwikkel, ingevolge die oppergesag van die reg in art 1, wat die toepassing van art9(1) aansienlik verminder. Die hof beslis dat alle uitoefening van openbare gesag redelik / rasioneel moet wees.



Pharmaceuticals Manufacturing Association of SA - sê KH dat dit ‘n vereiste van die rule of law is dat alle uitoefening van staatsgesag deur die uitvoerende en ander funksionarisse nie arbitrêr mag wees nie. Besluite moet rasioneel verband hou met die doel daarvan, anders is dit arbitrêr en strydig met die Grondwet.

Die rasionaliteitsvereiste van art 9(1) is spesifiek, omdat dit arbitrêre differensiasie wil voorkom. Die wyer strekking van rule of law rasionaliteit het tot gevolg dat indien ‘n regsvoorskrif of optrede rasioneel of irrasioneel bevind word, is daar geen nodigheid om skending van art 9(1) te ondersoek nie.



9.4 Diskriminasie (p243HB)

9.4.(a) Omskrywing van diskriminasie

Diskriminasie is ‘n besondere vorm van differensiasie. Dit is onregmatige differensiasie. In Art 9(3) word ‘n lys van ongeoorloofde gronde gegee.



Vasstelling van 'n skending van artikel 9(3)

(a) Vasstelling van diskriminasie

Ten einde diskriminasie te bewys, moet 'n applikant diskriminasie vasstel op 'n grond gelys in art 9(3), of op 'n soortgelyke grond wat gebaseer is op kenmerke wat die potensiaal het om die menswaardigheid van die persoon te benadeel, of op 'n vergelykbaar ernstige wyse te raak. (Sien bladsy 248 tot 260 vir 'n bespreking van die gelyste en analoë gronde.)

Soos reeds verduidelik, verbied die gelykheidsklousule nie diskriminasie nie omdat mense om verskillende redes verskillend behandel kan word - nie alle diskriminasie is onbillik nie. Slegs onbillike diskriminasie word verbied. (Lees bladsy 243 tot 246.)

(b) Vasstelling van onbillike diskriminasie

lndien die diskriminasie op 'n gelyste grond bestaan, word daar ingevolge artikel 9(5) van die Grondwet vermoed dat dit onbillik is. Dit beteken dat die onbillikheid van die diskriminasie in hierdie geval nie bewys hoef te word nie. Indien die diskriminasie egter op 'n ongelyste grond plaasvind, maar ‘n nadelige uitwerking het op die persoon se menswaardigheid, rus die onus om te bewys dat dit onbillik was, op die applikant. Die faktor wat onbillikheid al dan nie bepaal, is die uitwerking wat die diskriminasie op die klaer het.

In Harksen v Lane beslis die hof dat die volgende faktore in ag geneem moet word wanneer die onbillikheid van die analoë grond bepaal word:


  • Die klaer se posisie in die samelewing en die kwessie of die klaer 'n slagoffer was van diskriminasiepatrone uit die verlede.

  • Die aard van die bepaling of bevoegdheid en die oogmerk waarop dit gerig is. 'n Belangrike oorweging sou wees of die primêre oogmerk was om ‘n verdienstelike en belangrike sosiale doelwit te bereik, en of die inbreukmaking op die applikant se regte 'n gevolg daarvan was.

  • Die mate waarin die klaer se regte benadeel is en of sy of haar fundamentele waardigheid benadeel is.



Gelyste gronde – art 9(3)

Analoë gronde

Differensiasie word vermoed onbillik te wees.

Word nie vermoed onbillik te wees nie – applikant moet onbillike diskriminasie bewys.

Die klaer hoef slegs te wys dat die differensiasie op een van die gronde wat gelys is betrekking het.

Die applikant moet bewys dat die diskriminasie ‘n fundamentele waardigheid skend.

Om onbillikheid te vermoed beteken nie dat dit wel onbillik is nie. Die respondent kan dit weerlê.




9.4.(b) Regverdige diskriminasie (p245)

In President of the Republic of South Africa and Another v Hugo moes die KH vasstel of daar onbillik teen die klaer gediskrimineer is. Die Presidential Act 17, 1994 het die vonnisse opgeskort van alle moeders met minderjarige kinders onder die ouderdom van 12 jaar, wat op 11 Mei 1994 in die gevangenis was. Die respondent, 'n manlike gevangene met ‘n minderjarige kind van 12, het aangevoer dat die Wet onbillik teen hom gediskrimineer het op grond van geslag. Die Wet het klaarblyklik teen die respondent gediskrimineer. Die vraag was of hierdie diskriminasie onbillik was.

Die meerderheid van die hof beslis dat, in die Suid-Afrikaanse samelewing, die moeder die primêre versorger van kinders is. Dit plaas 'n geweldige las op vroue en is een van die grondoorsake van die swakker posisie van vroue in die samelewing. Die President het gevolglik 'n geleentheid geskep vir moeders, maar nie vir vaders nie. Die hof skenk aan die volgende faktore aandag:


      • Die feit dat die individue waarteen gediskrimineer word nie aan ‘n klas behoort wat histories benadeel is nie, maak nie noodwendig die diskriminasie billik nie.

      • Die doel van die verbod op onbillike diskriminasie is om 'n samelewing tot stand te bring waarin alle mense gelyke waardigheid en respek geniet, ongeag of hulle aan enige spesifieke groep behoort of nie. Hierdie doel kan nie bereik word deur in alle omstandighede op gelyke behandeling aan te dring nie. Daar moet bepaal word of die uitwerking van die maatreëI in sy geheel die grondwetlike oogmerk van gelykheid bevorder.

Met inagneming van bogenoemde kriteria beslis die meerderheid van die hof dat die diskriminasie, op die feite van die saak, nie onbillik was nie. Die Wet se uitwerking was dat dit vaders van minderjarige kinders ontneem het van 'n vroeë vrylating, waarop hulle geen regmatige aanspraak gehad het nie. 'n Beslissing om alle manlike gevangenes met minderjarige kinders vry te laat, sou ongetwyfeld openbare protes veroorsaak het. Daar kan dus nie aangevoer word dat hierdie beslissing hul menswaardigheid of gevoel van gelykwaardigheid aangetas het nie.

(Lees die twee afwykende beslissing deur Mokgoro R en Kriegler R en kyk uit 'n ander hoek na die uitleg van die gelykheidsklousule.)

9.4.(c) Onbillike diskriminasie (p246)

Onbillike diskriminasie het ‘n onbillike impak; dit plaas ‘n las op persone wat in die verlede slagoffers van diskriminasie was, of dit maak ‘n ernstige skending op die klaer se fundamentele waardigheid. Diskriminasie sal nie onbillik wees nie as dit ‘n waardige en belangrike gemeenskapsoogmerk het.

‘n Saak wat billike diskriminase illustreer is Pretoria City Council v Walker. Die woonbuurt van ‘ou Pretoria’ was voorheen eksklusief vir blankes en hierdie buurt se water en elektrisiteit tarief is op verbruikingsbasis gehef. Die ‘townships’, wat oorwegend swart inwoners was, het ‘n vasgestelde tarief betaal. Die meerderheid van die hof het beslis dat daar wel indirek gediskrimineer was op grond van ras, maar dat die diskriminasie nie onbillik was nie. Die redes sluit in dat blankes nie behoort het aan ‘n groep op wie daar voorheen gediskrimineer was nie en hulle was nie onbevoorregd of weerloos nie. Verder het die feit dat die ‘townships’ nie toegerus was met meters nie tot die besluit bygedra om tydelik ‘n vasgestelde tarief te hef. Die meer gegoede en ontwikkelde buurt het was waarskynlik die grootste verbruiker. Daar is bevind dat die diskriminasie nie op fundamentele waardigheid inbreuk gemaak het nie.

Die feit dat daar egter nie teen die ‘townships’ regstappe geneem is vir wanbetaling nie, was wel onbillike diskriminasie. Dit het niks te doen gehad met die vermoë vd inwoners om te betaal nie.

FIGUUR 9.1 Die ondersoek na onbillike diskriminasie



9.4.(d) Die gelyste gronde (p248)

Differensiasie op een van die gelyste gronde in art 9(3) word vermoed onbillik te wees, totdat die teendeel bewys is. ‘n Eis kan gebring word op een of meer van die gelyste gronde.



Harksen v Lane NO – Die gespesifiseerde gronde het in gemeen dat hulle in die verlede misbruik is om persone te kategoriseer, marganaliseer en onderdruk. Hierdie gronde het die potensiaal om persone te verneder. Die Grondwet poog om ongelyke behandeling van persone op hierdie kriteria te voorkom.

(i) Ras, kleur, etniese herkoms:

Rasse diskriminasie is onbillike differensiasie gebaseer op ras, kleur, nasionale of etniese herkoms. Superioriteit en minderwaardigheid is hierop gegrond.

Die meeste van SA se rasse-diskriminasie wetgewing is herroep. Daar is ‘n paar wat oorleef uit praktiese doeleindes. In Moseneke v The Master is die Swart Administrasie Wet betwis vir die regulasie van intestate vererwing van swart persone. Hiervolgens moet genoemde boedels deur die landdros waar die oorledene woonagtig was beredder word, nie deur die Meester nie. Die Meester het geargumenteer dat dit ‘n chaotiese effek op sy werklading sal plaas indien hierdie boedels nie meer deur die landdroste geadministrateer word nie. Die KH bevind die bepaling klaarblyklik onbillik omdat dit op grond van ras diskrimineer en ‘n dubbele regstelsel beoog. Enige voordelige gevolge wat daaruit vloei, kan dit nie regverdig maak nie.

(ii) Geslag, geslagtelikheid, swangerskap:

Geslag dui op die biologiese en fisiese verskille tussen ‘n man en ‘n vrou (bv swangerskap, hoogte, gewig, ens.). Geslagtelikheid dui op die sosiale en kulturele eienskappe wat aan manlike en vroulike rolle toegeken word (bv ouerlike pligte, vermoë om sekere werk te verrig, ens.).



(iii) Seksuele oriëntasie: (p251)

Hierdie grond word die meeste in litigasie gebruik. Op hierdie grond is die gemeenregtelike misdaad van sodomie ongeldig verklaar in die National Coalition saak – Die hof bepaal dat “seksuele oriëntasie” ruim geïnterpreteer moet word om bi-seksuele en transseksuele in te sluit, asook persone wat op ‘n enkele geleentheid eroties aangetrokke is tot ‘n lid van sy eie geslag. Die impak van diskriminasie op homoseksuele en lesbiërs word meer ernstig geag omdat hulle meer weerloos is as politiese minderheid. Hulle word uitgesonder vir vernedering, stigmatisering en vooroordeel.



National Coalition – die Aliens Control Act het onbillik gediskrimineer op grond van seksuele oriëntasie en huwelikstatus. Slegs gades van SA burgers kon immigrasie permitte verkry. Die doel van die bepaling was om tradisionele familielewe te bevorder en beskerm. Die uitsluiting van homoseksuele persone steriotipeer hulle as onwaardig om gerespekteer te word as familie. Niks kon hierdie diskriminasie regverdig nie.

Du Toit v Minister for Welfare and Population Development – Child Care Act het slegs voorsien vir gesamentelike aanneming en voogdy van kinders deur getroude persone.

Satchwell v President of RSA – daar was slegs voorsien vir finansiële voordele vir die oorlewende gade van ‘n regter – nie vir ‘n lewensmetgesel van dieselfde geslag nie. Die probleem met huwelike is dat slegs heteroseksule paartjies hierdie opsie het.

J v Director-General, Department of Home Affairs – het nie voorsien vir die registrasie van persone in permanente eengeslag lewensverhoudinge as die ouers van kinders wat verwek is deur kunsmatige inseminasie nie.

Dus – om ‘n voordeel toe te ken aan getroude persone uitsluitlik is onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie, omdat die gemeenregtelike definisie van die huwelik tot heteroseksuele verhoudings beperk was.



Fourie v Minister of Home Affairs – Om homoseksuele persone die huwelik te ontneem, ontneem hulle van die opsie om ‘n eerbare en diepgaande staat te betree, wat regs- en sosiale erkenning geniet en baie voorregte en sekuriteit bied. Dit skep ook die indruk dat homoseksuele persone nooit ten volle deel kan wees van ‘n gemeenskap van morele gelykheid wat die GW aan almal beloof nie. Die definisie van ‘huwelik’ moet daarom verander word om die moontlikheid van eengeslag-huwelike te akkomodeer. Die huweliksformulier sluit egter steeds die woorde ‘man’ en ‘vrou’ in. (Sien Civil Union Act verwikkeling)

Farr v Mutual & Federal Insurance – het gehandel oor die dekking van ‘n familielid van die versekerde, wat normaalweg by hom inwoon. Die hof het ‘familie’ geïnterpreteer om ‘n lewensmetgesel van dieselfde geslag in te sluit. Die gemeenskap erken so ‘n verhouding waar daar ‘n mate van blywendheid is, wat ‘n huwelik representeer.

Yüklə 0,58 Mb.

Dostları ilə paylaş:
1   ...   7   8   9   10   11   12   13   14   15




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©muhaz.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

gir | qeydiyyatdan keç
    Ana səhifə


yükləyin