(9) Verduidelik of 'n persoon op ander regte as die verskans in die Handves van Regte mag steun en toon aan in watter mate hierdie regte erken mag word. ( )
RaadpIeeg artikel 39(3) van die Grondwet.
(10) Is daar ander grondwetlike bepalings wat by die uitleg van die Handves van Regte relevant kan wees? (10)
Sien bladsy 162.
SELF-ASSESSERINGSOEFENING
(1) Is doeldienende uitleg en ruim uitleg presies dieselfde? Gee redes vir u mening. (10)
Lees bladsy 148 tot 153 van die handboek.
(2) Hoe kan die hof 'n botsing tussen ruim en doeldienende uitleg opIos? (10)
Sien 6.3 (b) (ii)-(iii) van die studie-eenheid.
SAKELYS
U moet die voIgende sake kan bespreek in die mate waarin dit in die handboek en in hierdie studiegids bespreek word:
- S v Zuma 1995 (2) SA 642 (KH)
- S v Makwanyane 1995 (3) SA 391(KH)
- S v Mhlungu 1995 (3) SA 391 (KH)
- Brink v Kitshoff NO 1996 (4) SA 197(KH)
- Ferreira v Levin NO 1996 (1) SA 984 (KH)
- Ex parte Gauteng Provincial Legislature: in re Dispute Concerning the Constitutionality of Certain Provisions of the Gauteng School Education Policy Bill 83 of 1995 1996 (3) SA 165 (KH)
- Soobramoney v Minister of Health (Kwa-Zulu Natal) 1998 (1) SA 765 (KH)
STUDIE-EENHEID 7: Beperking (p163HB)
INLEIDING
Wanneer 'n hof bevind het dat 'n fundamentele reg beperk is, kan dit daarna aandag skenk aan die tweede substantiewe vraagstuk: Kan die beperking ingevolge die algemene beperkingsklousule geregverdig word?
Artikel 36 staan bekend as die algemene beperkingsklousule in die Handves van Regte. Dit magtig die beperking van fundamentele regte, mits sekere (redelik streng) vereistes nagekom word. (Dit word 'n algemene beperkingsklousule genoem omdat dit van toepassing is op die beperking van fundamentele regte in die algemeen, en nie net op een of twee spesifieke regte nie.) Artikel 36 is een van die belangrikste bepalings in die Grondwet. U moet hierdie bepaling deeglik bestudeer.
SLEUTELKONSEPTE
Balansering beteken die opweeg van botsende grondwetlike waardes en belange. Sien ook proporsionaliteit.
Afbakening is deel van ‘n fundamenteelregtelike waarborg wat die omvang van die reg afbaken of kwalifiseer. Dit staan ook bekend as 'n "interne bepaler" .
-
Algemeen geldende regsvoorskrif
'n Algemeen geldende regsvoorskrif magtig 'n fundamenteelregtelike beperking, wat duidelik en toeganklik, en algemeen van toepassing is. Sien die bespreking op bladsy 168-176 van die handboek.
-
Minder beperkende maniere
Maniere om die oogmerk van 'n beperking te bereik, wat minder inbreuk maak op konstitusionele regte.
Proporsionaliteit verwys na die vraag of die beperking van ‘n reg in verhouding is tot ander faktore, soos die oogmerk en uitwerking van die beperking. Sien ook balansering.
'n Spesiale beperking is 'n klousule wat die beperking van 'n spesifieke reg, en die omstandighede waarin dit beperk mag word, magtig.
7.1 Die belang van die algemene beperkings klousule
Waarom is die algemene beperkingsklousule (artikel 36) so belangrik? Ons gee vervolgens 'n aantal redes:
(1) Artikel 36 stel dit duidelik dat die regte vervat in die Handves van Regte net beperk kan word wanneer 'n aantal streng vereistes nagekom is. Fundamentele regte kan dus nie sommer beperk word omdat dit gerieflik is nie.
(2) By gevalle waar 'n fundamentele reg beperk is, kry die staat (of 'n ander party wat die beperking probeer regverdig) die geleentheid om aan te toon waarom dit meen dat die beperking redelik en regverdigbaar is, in 'n oop en demokratiese samelewing. Om dit te kan doen, moet die staat getuienis voorlê om aan te toon dat die doel van die beperking belangrik is, dat daar geen ander manier is om daardie oogmerk te bereik wat minder ingrypend is ten aansien van die betrokke reg nie, en dat die oogmerk van die beperking belangriker is as die negatiewe gevolge daarvan.
(Bv: Die saak, Minister of Home Affairs v National Institute /or Crime Prevention and the Re-integration of Offenders (NICRO) handel oor die grondwetlikheid van 'n bepaling in die Kieswet 73, 1998, ingevolge waarvan veroordeelde gevangenes nie mag stem nie.
Die Minister van Binnelandse Sake het aangevoer dat hierdie beperking geregverdig is, omdat
(a) dit net van toepassing is op gevangenes wat op grond van 'n billike verhoor hul vryheid verloor het, en
(b) dit baie geld sou kos om spesiale reëlings te tref om sulke gevangenes te laat stem en logistieke probleme sou veroorsaak.
Die hof het hierdie argument verwerp en beklemtoon dat artikel 36 die bewyslas op die staat plaas om fundamenteelregtelike beperkinge te regverdig. Daarom moet die staat genoeg inligting aan die hof beskikbaar stel om sy standpunt dat die beperking geregverdig is, te steun. Die Minister het versuim om dit te doen. Geen feitelike inligting is voor die hof gebring oor logistieke probleme wat sou ontstaan nie, en geen beraming van die koste wat dit sou meebring, is verskaf nie. Die beperking kon gevolglik nie deur die beperkingsklousule gered word nie.
(3) Baie (miskien die meerderheid van) fundamenteelregtelike sake word uiteindelik beslis op grond van die beperkingsondersoek.
Bestudeer bladsy 164 tot 168 in die handboek.
7.1.a) Die aard van ’n algemene beperkingsklousule: (p163)
Grondwetlike regte is nie absoluut nie. Beperkinge word daarop geplaas deur die regte van andere en gemeenskapsbelange, soos openbare orde, veiligheid en demokratiese waardes. Art 36 sit spesifieke kriteria uiteen vir die regverdiging van beperkings op die regte van die HvR.
Beperking van regte
36. (1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van –
(a) die aard van die reg;
(b) die belangrikheid van die doel van die beperking;
(c) die aard en omvang van die beperking;
(d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en
(e) ’n minder beperkende wyse om die doel te bereik.
(2) Behalwe soos in subartikel (1) of in enige ander bepaling van die Grondwet bepaal, mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie.
“Beperking” is sinoniem vir “(regverdigbare) oorskryding / verbreking / skending van ‘n reg”. ‘n Wet wat ‘n reg beperk, skend die reg, maar dit sal nie ongrondwetlik wees nie as dit plaasvind vir ‘n rede wat aanvaar word as ‘n regverdiging van die beperking in ’n oop en demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
Die redes vir ‘n beperking moet baie sterk wees en ‘n doel dien wat die meeste mense as noodsaaklik beskou. Daar moet goeie rede wees om te glo dat die beperking die doel sal bereik en die doel moet nie op ‘n minder beperkende wyse bereik kan word nie.
7.1.b) Die beperkings ondersoek – Twee-fase benadering:
Die beperkingsondersoek bestaan uit twee vrae:
(1) Word die reg ooreenkomstig 'n algemeen geldende regsvoorskrif beperk? As dit nie die geval is nie, kan die beperking nie geregverdig word nie en hoef daar nie na die tweede deel van die ondersoek aanbeweeg te word nie. Kortliks, die beperking word ongrondwetlik bevind.
Bestudeer bladsy 168 tot 176 in die handboek.
(2) lndien die reg wel ooreenkomstig ‘n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word, beweeg die hof na die volgende vraag, naamlik of die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokraciese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
Bestudeer bladsy 176 tot 185 in die handboek.
Het die applikant aangetoon dat ‘n fundamentele reg beperk is?
Nee
Ja
Grondwetlike uitdaging faal
Word die reg ingevolge ‘n algemeen geldende regsvoorskrif beperk?
Nee
Ja
Beperking is ongrondwetlik
Is die beperking redelik en regverdigbaar in ‘n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid?
Nee
Ja
Beperking is ongrondwetlik
Grondwetlike uitdaging faal
Die betekenis van die frase "algemeen geldende regsvoorskrif” bestaan uit twee elemente, naamlik "die reg" en "algemeen geldend".
(a) "Reg" sluit die volgende in: die Grondwet; alle parlementêre wetgewing; alle provinsiale wetgewing; alle munisipale verordeninge; alle ondergeskikte wetgewing uitgevaardig deur die uitvoerende gesag (bv presidensiële proklamasies, ministeriële regulasies en regulasies ingevolge wetgewing, soos die Verdedigingswet 42, 2002). Verder sluit dit reëls in soos Unisa se dissiplinêre kode, die reëls wat 'n skool se beheerraad aanneem, ens. Laastens moet die gemenereg en gewoontereg nie vergeet word nie.
(b) "AIgemeen geldend" - hierdie vereiste word oor die algemeen nagekom wanneer 'n reël:
(i) toeganklik is,
(ii) duidelik/presies is en
(iii) nie arbitrêr, of op 'n wyse wat onbillik tussen persone of groepe persone diskrimineer, toegepas word nie.
Die reël is “algemeen” omdat dit van toepassing is op al die regte in die HvR en bepaal dat al die regte volgens dieselfde stel kriteria beperk mag word. SA se HvR is op die model van die Canadian Charter of Rights and Freedoms gebaseer wat ‘n lys van regte en ‘n algemene beperkingsklousule bevat om die beperking op daardie regte te reël.
Laasgenoemde maatstaf beteken nie dat die reël van toepassing moet wees op elke enkele individu in die land nie. Wetgewing wat dus tav alle regsgeleerdes of mediese praktisyns geld, sou nie noodwendig die toets faal nie, mits die onderwerp waaroor die wetgewing handel nie sodanig is dat dit spesifiek relevant is vir regsgeleerdes en dokters nie (soos wetgewing wat kwalifikasies en opleiding reël).
(Moenie vergeet dat "algemeen geldende regsvoorskrif” net die eerste struikelblok is wat 'n beperking moet oorkom nie. 'n Beperking wat voldoen aan die vereiste dat dit 'n algemeen geldende regsvoorskrif moet wees, kan steeds by die tweede hindernis struikel, as dit onredelik of nie regverdigbaar is nie.)
Die applikant moet argumente en getuienis voorlê dat ‘n reg geskend is. As die hof bevind dat die reg wel geskend is, moet die respondent bewys dat die beperking geregverdig is ingevolge art 36. Selfs as die respondent geen poging aanwend daartoe nie, moet die hof steeds die moontlikheid oorweeg dat die beperking regverdigbaar is. In National Coalition for Gay and Lesbian Equality v Minister of Justice het die hof mero motu die regverdigbaarheid van die beperking ondersoek. In onlangse sake het die KH aangetoon dat daar slegs ‘n vlugtige / oppervlakkige ondersoek gedoen hoef te word waar die respondent ‘n ongenoegsame poging (of glad nie) aanwend om regverdiging te bewys.
Die vraag of die beperking regverdigbaar is, is ‘n feitelike ondersoek. Die hof kan nie abstrak beoordeel of die beperking regverdigbaar is nie. Geskikte getuienis soos sosiologiese of statistiese data oor die impak van die beperking moet voorgelê word. Versuim kan daartoe lei dat die beperking ongrondwetlik is. Reël 31 van die Konstitusionele Hof Reëls van 2003 maak voorsiening vir die aanbieding van feitelike gegewens.
7.2 Kriteria wat die beperking van regte regverdig: (p168)
‘n Wet mag ‘n reg beperk as dit (a) algemeen geldend is en (b) redelik en regverdigbaar is in ‘n oop en demokratiese samelewing gegrond op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
(a) Algemeen geldende regsvoorskrif:
(i) Deur die reg gemagtig
Slegs ‘n “algemeen geldende regsvoorskrif” mag ‘n reg van die HvR beperk. Die beperking moet dus deur die reg gemagtig wees en algemeen geld. Dit maak deel uit van die “rule of law” en het twee komponente: (1) Die regering verkry sy mag van die reg en (2) die reg moet algemeen toegepas word.
In August v Electoral Commission was die beperking op stemreg van gevangenes nie deur enige regsvoorskrif gemagtig nie en kon daarom nie ‘n regverdigbare beperking wees ingevolge art 36 nie.
(ii) Algemeen geldend
Die reg moet algemeen toegepas word; duidelik en toeganklik wees sodat die wat daardeur geaffekteer word, die strekking van hul regte en verpligtinge kan bepaal. Dit moet onpersoonlik en gelyk toegepas word, en nie arbitrêr nie.
In S v Makwanyane het die regter genoem dat daar geen plek vir wette is wat persoonlik, ongelyk en arbitrêr is nie. Dit is as ‘n reaksie op ons verlede. Staatsoptrede moet ondersoek kan word en rasioneel regverdig kan word. Die hof het die argument dat die strafbepaling waarvolgens ‘n persoon ter dood veroordeel kon word, nie algemeen geld nie omdat dit nie eenvormig deur die hele SA gegeld het nie, verwerp.
In President of the RSA v Hugo moes die KH beslis oor die geldigheid van ‘n Presidensiële Wetsbepaling waarvolgens gevangenes, wat moeders was van kinders onder 12-jarige ouderdom, vrygelaat moes word. Die President was deur die tussentydse GW gemagtig om oortreders kwyt te skeld of te begenadig. Die meerderheid van die hof het beslis dat die bepaling nie die reg op gelykheid en nie-diskriminasie skend nie.
-
Regter Mokgoro het ‘n minderheidsuitspraak gelewer waarvolgens hy meen dat die bepaling wel onredelik diskrimineer. Die vraag het onstaan of ‘n Presidensiële wetsbepaling as ‘n regverdigbare algemene beperking kan kwalifiseer; omdat dit nie deur ‘n magtigende wet mag verkry nie, maar deur die Grondwet en ook nie in die Staatskoerant gepubliseer word nie. Volgens die European Court of Human Rights is daar twee vereistes vir die frase “deur die reg voorgeskryf”: (1) die reg moet toeganklik wees en (2) dit moet duidelik geformuleer wees sodat burgers hul optrede kan reguleer. Hulle moet in staat wees om die gevolge van hul optredes te voorsien. Regter Mokgoro volg die volgende benadering tot “algemeen geldende regsvoorskrif”:
-
Die “reg” sluit in reëls van wetgewing, gedelegeerde wetgewing, gemenereg en wetgewing uitgevaardig deur die uitvoerende gesag, soos gemagtig deur die GW. Vir laasgenoemde is formele publikasie nie ‘n vereiste nie.
-
Om as “algemeen geldend” te kwalifiseer moet die reg toeganklik, presies en van algemene toepassing wees. Dit moet algemeen geld en nie op spesifieke individue gemik wees nie.
-
Regter Kriegler het ook in ‘n minderheidsuitspraak gemeen dat die Presidensiële wetsbepaling nie algemeen geldende reg is nie. Sy rede was dat dit ‘n uitvoerende opdrag was aan spesifieke staatsamptenare, en dit het net gegeld vir ‘n spesifieke geval. Dit het dus spesifieke individue geteiken. Hiervolgens kon dit nie as ‘n regverdigbare beperking van die reg op gelykheid wees nie. Dit was nie algemeen geldend nie en kon nie ‘n fundamentele reg beperk nie.
In De Lille v Speaker of the National Assembly is ‘n parlementslid geskors deur ‘n ad hoc komitee. Die hof het bevind dat die reg op vryheid van uitdrukking, regverdige administratiewe optrede en toegang tot die howe geskend is. Die skending was nie regverdigbaar nie, omdat dit nie deur ‘n algemeen geldende regsvoorskrif gemagtig was nie. Die skorsing was gegrond op Parlementêre privilegie – om ‘n lid te straf. Parlementêre privilegie kwalifiseer nie as ‘n algemeen geldende regsvoorskrif nie.
(iii) Administratiewe optrede (p175)
Administratiewe optrede geld nie as algemeen geldende regsvoorskrif nie. (gedelegeerde wetgewing wel) Wetgewing kan tog ‘n administrateur magtig om diskresionêre bevoegdhede uit te oefen wat ‘n beperkende werking kan hê. ‘n Onbeperkte, wye diskresie sal egter nie as algemene toepassing kwalifiseer nie. Daar moet riglyne wees vir die uitoefening van die diskresie.
In Dawood v Minister of Home Affairs moes die hof beslis oor die geldigheid van ‘n wetsbepaling waarvolgens die gades, afhanklike kinders en sekere familielede van wettige inwoners in SA kon aanbly hangende die verwerking van hul verblyfpermitte. Hulle moes egter ‘n tydelike permit hê; wat nie outomaties uitgereik is nie. Hierdie beperking was nie regverdigbaar nie. Die diskresie was onbeperk.
(b) Redelik en regverdigbaar in ‘n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid: (p176)
Die redes vir die beperking moet aanvaarbaar wees en nie die regte meer as wat nodig is om die doel te bereik, beperk nie. Die nadeel van die beperking moet proporsioneel wees tot die voordeel wat dit wil bereik.
(i) Proporsionaliteit
In S v Makwanyane is bepaal dat ‘n beperking van ‘n grondwetlike reg vir ‘n doel wat redelik en noodsaaklik is in ‘n demokratiese samelewing, die opweeg van kompiterende waardes behels. Daar is geen absolute standaard wat neergelê is vir die bepaling van redelikheid en noodsaaklikheid nie. Beginsels kan bepaal word en op ‘n geval-tot-geval basis toegepas word.
S v Bhulwana het bogenoemde beslissing as volg opgesom: Die hof plaas die doel, gevolge en belang van die beperkende wetgewing aan die een kant van die skaal, en die aard en gevolg van die beperking op die ander kant van die skaal. Hoe groter die inbreuk op die fundamentele regte, hoe meer oortuigend moet die gronde van regverdiging wees.
Artikel 36(1) lys vyf faktore wat in ag geneem moet word wanneer bepaal word of 'n beperking redelik en regverdigbaar is. (hierdie faktore stem presies ooreen met die faktore genoem in S v Makwanyane). Die KH het egter duidelik verklaar dat hierdie faktore nie as 'n onbuigsame toets beskou moet word nie. Volgens die hof vereis die ondersoek na redelikheid en regverdigbaarheid dat ‘n hof moet “engage in a balancing exercise and arrive at a global judgment on proportionality" (S v Manamela (Director- General ofJustice Intervening).
Dit beteken prakties dat as die betrokke reg baie belangrik is (bv menswaardigheid of gelykheid) en die skending van die reg ernstig is, die beperking net ondervang kan word as 'n baie oortuigende (of baie oorredende) regverdiging geopper word. Hier moet die staat aantoon dat die doel van die beperking uiters belangrik is en dat daar werklik geen ander minder beperkende manier beskikbaar is nie. Waar die betrokke reg, aan die ander kant, nie deurslaggewend belangrik is vir ‘n oop en demokratiese samelewing, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid nie en waar die inbreukmaking op die reg nie so ernstig is nie, sou die hof gewilliger wees om 'n mate van beweegruimte aan die staat te verleen. In so 'n geval moet die oogmerk steeds belangrik wees, maar dit hoef nie absoluut noodsaaklik te wees nie, en daar kan aan die wetgewer diskresie verleen word oor die manier wat dit kies.
(ii) Artikel 36(1)(a): die aard van die reg
Proporsionaliteit vereis die opweeg van die nadeel wat die beperking aanrig teen die voordeel wat bereik wil word. Sommige regte weeg meer as ander. Die hof moet die belang daarvan bepaal.
Bv, in S v Makwanyane was bevind dat die regte wat deur die doodsvonnis geraak word (die reg op lewe en menswaardigheid en die reg om nie onderwerp te word aan wrede, onmenslike of vernederende straf nie) fundamenteel belangrik is en dat die doodsvonnis 'n ernstige en onherroeplike skending van daardie regte inhou. Die staat moet gevolglik 'n besondere sterk regverdiging vir die beperking van hierdie regte hê.
Betreffende die verskillende faktore wat in daardie saak geïdentifiseer is (wat tans in artikel 36 van die finale Grondwet vervat word), bevind die hof dat die erns van die doodsvonnis swaarder weeg as die belang van die beperking van die reg.
(iii) Ar36(1) (b) die belangrikheid van die doel van die beperking (p179)
Die beperking moet minstens ‘n doel dien, en regverdigbaarheid vereis dat die doel lonend en belangrik moet wees in ‘n demokratiese samelewing, anders kan dit nie regverdigbaar wees nie.
In S v Makwanyana het die KH beslis dat die doodstraf 3 baie belangrike regte beperk. Om dit te regverdig met daar getoon word dat die doodstraf ‘n doel dien wat in ‘n oop demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, vryheid en gelykheid as belangrik beskou word. Die staat het gesê daar is 3 doele by die doodstraf: Afskrikking, Voorkoming en Vergelding. Hof moes besluit of hierdie doelstellings belangrik genoeg. Hof beslis dat die eerste twee kwalifiseer, maar nie vergeldingnie. Vergelding word nie as gepas beskou in die tipe samelewing wat die GW beoog nie. GW beoog gemeenskap gebasser op waardes van rekonsiliasie en ubuntu (medemenslikheid). Vergeldig veronderstel wraak.
Die doel moet deur alle redelike burgers as belangrik beskou word. Daarom sal ‘n doel om die moraliteit van ‘n bepaalde deel van die gemeenskap te beskerm nie kwalifiseer nie.
KH het al bevind dat die volgende belangrike doelstellings is:
-
Beskerming van die regspleging en regsadministrasie (bv intimidasie van getuies, onthulling van staatsgeheime, ens)
-
Voorkoming , ondersoek, vervolging van misdaad in die algemeen, en ook die verbod op dwelms.
-
Vermindering van werkloosheid van SA burgers
-
Ondersoek en regulering van veelvoudige gesondheidsondernemings wat op die welstand van die gemeenskap impak het
-
Beskerming van die regte van ander
-
Nakoming van GW verpligtinge
-
Bevordering van rekonsiliasie en herstel van verdeeldheid van die verlede en die opbou van ‘n verenigde gemeenskap
-
Nakoming van SA se internationale verpligtinge
-
Voorkoming van onwettige toegang tot ons land.
(iv) Art36(1)(c) - die aard en omvang van die beperking (p181)
Die hof moet bepaal in watter mate die beperking die reg affekteer. Is die beperking ernstig of net gering? Hierdie oordeel is ‘n belangrike deel van die proporionaliteits toets. Die beperking moet nie meer skade doen as wat redelik nodig is om die doel te bereik nie.
S v Makwanyana - staat sê doel met doodstraf is voorkoming en afskrikking. Proporsionaliteitstoets verg dat hof oorweeg of daar ‘n balans is tussen die nadeel verbonde aan die doodstraf en die die doel van voorkoming en afskrikking. As die nadeel buite vehouding is tot die doel, dan is die beperking nie regverdigbaar nie. Hof moet eers die nadeel verbonde aan die beperking oorweeg. Hoe ernstig is die impak van die doodstraf op ‘n persoon se regte? Hof sê doodstraf het ernstige en onomkeerbare gevolge. Die beperkings op regte van lewe, menswaardigheid en verbod op wrede straf kan nie meer ernstig wees nie. Die doodstraf verwerp alles wat beliggaam word in die konsep van humaniteit.
Dostları ilə paylaş: |